100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

LUR sal vandag met Nehawu vergader oor staking by MTPA

Written by on April 8, 2021

Mpumalanga se LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, sal na verwagting vanmiddag met die leiers van die gesondheidswerkersvakbond Nehawu ontmoet, oor die voorstlepende staking by Mpumalanga se agentskap vir toerisme en parke (MTPA).
Alle natuurreservate wat deur die agentskap beheer word, sowel as hul kantore, is sedert Maandag gesluit vir besoekers. Net watervalle wat deur die staatsbosbougroep Safcol beheer word, is oop.
Die Nehawu-lede eis onder meer dat werknemers in waarnemende bestuursposte permanent aangestel word.
Hulle wil ook hê dat die senior bestuursposte wat onlangs geadverteer is, nie gevul word nie tot die waarnemende mense geplaas is nie.
Die MTPA se woordvoerder, Kholofelo Nkambule, sê die vakbond weier om met MTPA-bestuur te praat om ‘n oplossing te probeer vind, en die LUR is gevra om in te gryp. Sy woordvoerder, Mohau Ramodibe, het dit vanoggend bevestig.
DA-LPW Bosman Grobler het gewaarsku die onwettige staking kan toerisme duur te staan kom. Hy sê die sektor het reeds ongeveer 134 000 werksgeleenthede ingeboet weens die Covid-19-pandemie en kan nie verdere verliese bekostig nie.
“Dit moet in gedagte gehou word dat die toerismesektor landwyd die ergste geraak is deur die verbod op reis en inperking. Ons provinsiale regering moet strategieë ontwikkel oor hoe om ons ekonomie te groei en werksgeleenthede te beskerm,” sê hy.
Die MTPA sê dat die senior bestuursposte van kardinale belang is. “Ons sal alle werknemers, en die wat waarneem, ‘n regverdige geleentheid gee om daarvoor aansoek te doen,” sê uitvoerende hoof, Johannes Nobunga.
“Die negatiewe impak van die pandemie was besig om aandag te kry en hierdie het ‘n negatiewe effek op die positiewe ontwikkelinge wat besig wat om sigbaar te word.”


×