100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laeveld dorpe slaag bloudruppeltoets

Written by on December 10, 2021

AfriForum het weer verskeie dorpe in Mpumalanga se water getoets om die blou- en groendruppelstatus van hul drink- en rioolwater te bepaal.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder, voldoen al die dorpe in die provinsie se drinkwater aan die minimum standaarde en bevat dit nie skadelike bakterieë nie.
Twaalf rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, voldoen egter nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Dit is Belfast, Dullstroom, Evenader, Leandra, Machadodorp, Middelburg, Nelspruit, Standerton, Witbank en twee in Secunda. Bethal se aanleg funksioneer glad nie.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sê Bekker.
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het vroeër vanjaar bekend gemaak dat hulle weer blou-en groen-druppelverslae gaan begin opstel om die waterkwaliteit en infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal.
“As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie,” sê Bekker. “Dit is van kardinale belang dat ons nie ophou om die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets nie. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.”
Silulumanzi het gister aangekondig dat die swaar reën en uitwerking daarop op riviere in die Mbombela-omgewing, die suiwering van water die week bemoeilik het.
Die waterwerke ervaar buitensporige hoë vlakke van sand uit riviere in die water, en sal daarom begin om minder volumes water te suiwer om te verseker dat die kwaliteit ‘n aanvaarbare standaard handhaaf.
Woordvoerder, Richmond Jele, waarsku ook dat die water verkleur mag wees, maar dat dit steeds skoon is.


×