Kommer oor sterftes in botsings reg van voor
Written by Mireille on July 14, 2025
Die Padvervoerbestuurskorporasie het diep kommer uitgespreek oor die sterftes in verskillende botsings reg van voor wat sedert Donderdag plaasgevind het.
Gisteraand is vyf mense dood toe twee voertuie op die N18 naby Mahikeng in Noord-Wes gebots het.
Vier vroue is Sondagmiddag dood toe twee luikrugmotors, ‘n bakkie en ‘n geartikuleerde vragmotor op die N4 tussen Malalane en Hectorspruit gebots het.
Die slagoffers was almal insittendes van dieselfde voertuig wat trompop met die bakkie gebots het. Een persoon is ernstig beseer.
Vyf mense is Vrydag dood in ‘n botsing tussen vier voertuie op die N4 tussen Swartruggens en Groot Marico.
Die polisie het Donderdag naby Hartswater in die Noord-Kaap ‘n voertuig agtervolg. In die daaropvolgende botsing is vyf mense, waaronder ‘n kleuter, dood.