100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos 2020 gekanselleer

Written by on October 21, 2020

Die Standard Bank Innibos Kunstefees is gekanselleer.
Die feesbestuur het Woensdagoggend die aankondiging gemaak.
Vanjaar se aflewering van die fees, wat reeds vyf keer by die Fiësta-toekennings as die land se gunstelingfees aangewys is, is reeds weens die Covid-19-pandemie uitgestel. Dit sou vanaf 16 tot 20 Desember plaasgevind het.
Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, sê dit is ’n hartseer maar realistiese besluit.
“Die voortslepende onsekerheid weens die verlenging van die Covid-19-ramptoestand en die invloed daarvan op die hou van groot byeenkomste ingevolge die regeringsregulasies, het dié besluit deur die Innibos-direksie in oorleg met die naamborg, Standard Bank, genoodsaak,” sê hy in ‘n verklaring.
“Innibos was slaggereed om ondanks talle uitdagings die kunstefees te hou. Die risiko blyk eindelik net té groot te wees, en die onsekerheid kan nie onbepaald voortduur nie. Ons is ’n klinkklare besluit verskuldig aan al ons lojale feesvennote.”
Lubbe sê die Covid-19-pandemie het ongekende uitdagings voor kunstefeeste se deur geplaas en het verreikende gevolge.
“Buiten die verlies aan inkomste vir van kunstenaars tot diensverskaffers, ly die plaaslike ekonomie ook skade. Verlede jaar
was die ekonomiese impak van Innibos sowat R82 miljoen.
“Ons is tans dalk effe moedeloos, maar beslis nie op moedverloor se vlakte nie en spring reeds weg met die beplanning vir 2021 se kunstefees.”
Die geweldige onsekerheid is met die besluit ook uit die weg geruim, aldus Sandra Jacobs, Innibos se bemarkingsbestuurder.

“Dit is die verantwoordelike ding om te doen. Die risiko is ongelooflik groot vir almal wat by die fees betrokke is en ons wil nie so ‘n kans op hierdie stadium waag nie.
“Ons kan nie waarborg dat iemand met Covid-19 nie na die fees toe sal kom nie.”
Sy voeg by dat hulle regtig baie graag die fees in Desember wou aanbied.
“Ons beplanning was 100% reg en ons het regtig ook gehoop dat die regering se regulasies genoegsaam gelig sal wees en dat die pandemie genoegsaam onder beheer sou wees, maar dit blyk ongelukkig nie die geval te wees nie.”
Tans word buitelug samekomste tot 500 mense beperk – wat dit byna onmoontlik maak om die gewone Innibos is sy normale formaat aan te bied.
“Jy kan nie miljoene spandeer op verhoogprogramme by jou feesterrein vir 500 mense nie,” verduidelik sy.
“Ons het gekyk daarna om dit op ‘n kleiner skaal aan te bied, maar die risiko bly steeds daar en daarom dink ons dat dit beter is om die fees in sy volle formaat eerder volgende jaar aan te bied.”
Die voorlopige datum vir Innibos 2021 is 30 Junie tot 4 Julie. Dit is toevallig die presiese datums van die heel eerste Innibos-fees.
“Ons is oortuig en in goeie hoop dat die pandemie dan onder beheer sal wees,” sluit Jacobs af.
Feesgangers wat reeds toegangskaartjies gekoop het, kan om ’n terugbetaling vra by Computicket tot en met 30 November.


×