100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Wildtuin maak gereed vir brandseisoen

Written by on May 19, 2021

Die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) het aangekondig dat hulle begin het om voorbrande te maak om gereed te wees vir die komende brandseisoen, wat tussen Junie en Oktober voorkom.
Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê brande is algemeen en kom natuurlik voor. Die Savanna-bioom is ook afhanklik van brande vir die ekosisteem se gesonde funksionering.
“Savanna-plantspesies het saam met vuur evolusionêr ontwikkel en sommige maak self staat op die gereelde brand van die veld. Navorsing toon ook dat, ongeag die strategie vir brandbestuur, brande in die wildtuin sal brand solank daar genoeg gras is om te brand.”
Die gras is veral nou, na die afgelope besonderse goeie reënseisoen, baie welig. Dit verhoog veral die risiko van groot veldbrande later in die winter tussen Augustus en Oktober
“Ons verwag daarom meer brande hierdie winter. Normaalweg brand minder as 10% van die NKW elke jaar, maar vanjaar verwag ons dat ongeveer 20% van die wildtuin sal brand,” sê hy.

‘n Groot deel hiervan sal beheerde brande wees wat deur veldwagters uitgevoer word, maar onbeplande vure word verwag. Dit sal bestuur word soos hulle ontstaan en word deur middel van satelliet-tegnologie gemonitor.
Die NKW het reeds begin om brandstroke te maak langs kampe, behuising, hekke en ander infrastruktuur, asook langs die park se grense. Veldwagters en wetenskaplikes werk ook saam om die gras te verminder en sodoende die risiko van veldbrande oor groot areas te beperk.
Die personeel is ook goed opgelei en toegerus, “wat ons beter voorberei vir vanjaar se brandseisoen,” sluit Phaahla af.


×