100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vyf voor hof oor motorfietse bestem vir Mosambiek

Written by on March 14, 2022

Altesaam vyf verdagtes verskyn vandag in die Barberton-landdroshof nadat hulle glo gepoog het om motorfietse en motorfietsonderdele na Mosambiek te smokkel.
Hulle is in twee afsonderlike voorvalle Saterdag en Sondag deur die Nelspruit-blitspatrollie vasgestrek op die N4.
Volgens die polisie is inligting van die publiek bekom oor die voertuie waarin hulle gereis het.
Sondag is twee verdagtes, van 52 en 58 jaar oud, in ‘n Isuzu-bakkie met KwaZulu-Natal nommerplate wat na vermoede van Johannesburg na Mosambiek op pad was, naby die Nkomazi-tolhek op die N4 vasgestrek. Motorfietsonderdele wat toegedraai was in swart plastieksakke is gevind.

Saterdagaand laat is drie mense, van tussen 31 en 47 jaar oud, aangekeer toe die Toyota Quantum minibus met ‘n waentjie waarin hulle passasiers was tussen KaNyamazane en Matsulu afgetrek en deursoek is. Motorfietse en onderdele is gevind en die drie het glo erken dit is hul bagasie.
Volgens brig. Selvy Mohlala word hulle aangekla van die besit van gesteelde goedere.
Twee mans wat aan verskeie moorde en gewapende rowe gekoppel word, is Vrydagaand in Marite naby Bosbokrand gearresteer.
Die polisie het inligting ontvang oor individue in besit van vuurwapens. Die taktiese reaksie-eenhede van Tshwane en Ekurhuleni het saam met die Calcutta-taakmag gereageer.
Elkeen was in besit van ‘n 9mm-pistool.
Hulle sal vandag in die Mkhuhlu-hof verskyn vir die onregmatige besit van vuurwapens en ammunisie. Volgens Mohlala word beide ook gekoppel aan ‘n reeks ernstige misdade, insluitende die moord op ‘n polisielid in Marite in Januarie en ‘n moord in Alexandra, Johannesburg, in Desember.

Drie mans is Vrydag in Skukuza gevonnis na hulle skuldig gepleit het op klagte van die onwettige betreding van die Krugerwildtuin en sameswering om ‘n misdaad te pleeg.


Sibusiso Mahlaule en George Manyise sal elk sewe jaar uitdien. Rodrigues Ngobeni is ‘n addisionele agt jaar opgelê vir oortreding van die immigrasiewet.
Hulle is in April deur veldwagters in die Pretoriuskop-area vasgetrek met behulp van snuffelhonde en ‘n helikopter.
‘n Jaggeweer met ‘n knaldemper en ammunisie is in hul besit gevind.


×