100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vlak 4 van inperking: Só raak dit die plaaslike bedryf

Written by on June 30, 2021

Die toerismebedryf is lamgelê deur inperking en nou dat die land teruggekeer het na vlak 4 regulasies, word hierdie sektor weer die hardste getref. Dít terwyl dit een van die grootste werkskeppers in die land is.
Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika sê hulle werk sedert Maandagoggend onverpoosd om die beperkinge gelig te kry en om Ters-betalings te hernu vir restaurante.
Eienaars van plaaslike restaurante sê die feit dat hulle slegs wegneemetes mag verkoop, en geen drank nie, kan hulle kelder.
Ander het besluit om ‘n plan te beraam. Só omskep van hulle hul eetplekke in ‘n “roadhouse” waar mense steeds deur kelners bedien kan word met hul wegneemetes in hul voertuie.
Petru Pretorius van Abeega Roadhouse in Mbombela sê sy blameer niemand dat hulle húl model noodgedwonge aan moet neem nie.

Sy sê almal probeer net oorleef, ‘n sentiment wat Johan Breytenbach van Rooikat Liquors deel. Hy sê hulle kyk moontlik nou vir die eerste keer sedert inperking in Maart verlede jaar begin het, na afleggings.

Willem Fick, die eienaar van Numbi Hotel in Hazyview, sê dit is onverstaanbaar dat ‘n hele bedryf oornag toegemaak kan word, sonder enige konsultasie of finansiële hulp. Hy wys daarop dat mense selde gaan uiteet en met vakansie gaan wanneer hulle siek is.

Belinda McLintock, eienaar van Lyttle Irving Guesthouse, ‘n selfsorg-gastehuis in Witrivier, stem saam dat dit frustrerend is dat die regering hierdie rondte nie kan of wil help om werknemers te betaal nie. Hoewel hulle mág werk, verwag hulle om moontlik te min sake te doen om ‘n genoegsame inkomste te verdien om salarisse te kan betaal.

Ike Phaahla, woordvoerder van die Nasionale Krugerwildtuin, sê hulle verwag dat vlak 4 nog hul besprekings gaan raak – en dit na SANParke verlede jaar ‘n groot verlies gelei het weens die sluiting van reservate en afwesigheid van internasionale toeriste.

Hy sê besoekers van agt provinsies kan darem nog die wildtuin besoek.


×