100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vier aangekeer na gefnuikte rooftog by Witrivier-restaurant

Written by on August 4, 2021

Vier verdagtes is gisteraand aangekeer nadat hulle Die Windpomp-restaurant in Witrivier na vermoede probeer beroof het.
Volgens Hi-Tech se Jchaan de Beer is een handwapen, ‘n haelgeweer en wat hy beskryf as ‘n speelhandwapen aan die verdagtes gevind.
Die restauranteienaar, Lewies Dippenaar, sê werknemers was om ongeveer 20:10 besig om vullis buitentoe te neem, toe hulle so sewe mans met vuurwapens oor die heining sien spring het.
“Hulle het my kom sê, en ek het dadelik my pistool gegryp en uitgestorm,” vertel hy.
Hy het ‘n paar skote in die groep se rigting afgevuur en hulle het op die vlug geslaan. Dippenaar het Hi-Tech gekontak en hulle het op die verdagtes afgekom.
‘n Wit Toyota Hilux bakkie is opgemerk en mense het agterop die voertuig gelê. Van hulle het van die bakkie afgespring en in die bosse in gevlug. Die ander is aan die polisie oorhandig. Hul bakkie is ook gekonfiskeer.

“Dit is agterna, wanneer jy die vuurwapens sien, dat jy besef almal wat vir my werk en al ons kliënte se lewens was in gevaar. Dit was God se genade. As ons tydsberekening uit was, is ek seker hulle sou ons doodgeskiet het. Hulle het nie gekom om te speel nie.”
Sy vrou, Edette Dippenaar, sê haar 15-jarige seun was baie dapper en het die verdagtes saam agternagesit.
“Ons het nie gedink dit was so ernstig tot ons die vuurwapens gesien het nie,” sê sy.


×