100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verkiesingsdag nie sonder probleme nie

Written by on November 2, 2021

Stemdag het oor die algemeen vlot verloop gister, maar Trudie Grove-Morgan, die adjunkleier van die DA in Mpumalanga, sê regoor Mbombela het sommige mense probleme gehad om te stem.
Veral diegene wat tydens die registrasienaweek van 18 en 19 September herregistreer het, se name het nie op die kiesersrol verskyn waar hulle wou stem nie.
“Baie mense is weggewys. In een gesin, met dieselfde adres, moes van hulle by Uplands stem en ander by die stadsaal. Nog iemand moes in ‘n ander distrik gaan stem.”
Grove-Morgan beraam dat by Witrivier se stadsaal alleen, meer as 50 mense so nie kon stem nie.
Teecee Chembeni van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê mense wat vir watter rede ookal nie op die kieslyste verskyn het in die wyk waar hulle wou stem nie, moet MEC7-vorms invul. Dié het ongelukkig ‘n bietjie laat gearriveer.
“Daardie stemme is verlore,” sê Grove-Morgan. “Dit is nie regverdig gedoen nie. Die OVK het mense in die steek gelaat.”
Die polisie in Mpumalanga ondersoek ‘n voorval waartydens ‘n boks vol stembriewe gisteraand in Calcutta gesteel is.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, was twee polisiebeamptes en twee amptenare van die verkiesingskommissie besig om stembriewe te vervoer, toe die ingangshek na die stemlokaal deur gemeenskapslede versper is.
‘n Boks vol stembriewe en ‘n leë een is van hul voertuig verwyder.
Mpumalanga se polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, sê buiten dit, was daar geen ernstige voorvalle in die provinsie nie en is sy tevrede met hoe die plaaslike regeringsverkiesing verloop het.

Voorvalle sluit in ‘n diensleweringprotes oor watervoorsiening by Masoyi waartydens paaie met brandende bande afgesper is.
In Delmas is twee mans gearresteer wat na vermoede onder die invloed van drank was en met OVK-amptenare ingemeng het.
In dieselfde area is sowat sewe mans aangekeer wat ook besope was en die gemeenskap probeer verhoed het om te stem.
Sowat 30 gemeenskapslede wat by Piet Retief met brandende bande geprotesteer het oor die grense van hul wyk het ook die opening van stemlokale gisteroggend vertraag.
In Ermelo was daar ‘n woordewisseling tussen kiesers en mense wat na bewering nie geregistreer was om by die spesifieke stempunt te stem nie.


×