100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

OVK sê hulle is slaggereed vir verkiesing

Written by on July 19, 2021

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hulle is slaggereed om op 27 Oktober plaaslike verkiesing te hou. Sover gaan dit steeds voort.
Uitgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke se verslag oor of dit wel dan gehou kán word, word Woensdag verwag.
Sibusiso Nkosi van die OVK in Mpumalanga, sê hulle kan verkiesings op ‘n Covid-19 veilige manier aanbied, soos hulle reeds met tussentydse verkiesings gewys het.
Buiten dat hulle verseker dat mense ‘n veilige afstand van mekaar handhaaf, word mense nie sonder maskers by stemlokale toegelaat nie, en word hulle met hul aankoms en vertrek ontsmet.
Verder moedig hulle mense aan om iets te sê as hulle ongemaklik voel as iemand te naby aan hulle is, en om hul eie penne te bring om mee te stem.
Nkosi het mense aangemoedig om intussen aanlyn te registreer om te stem.

Om aanlyn te registreer, besoek https://registertovote.elections.org.za, kies “Register to vote now”, vul jou besonderhede in, vul jou tydelike PIN in wat na jou selfoon gestuur is, soek jou adres of gebruik die ligging op jou tablet op foon, en neem ‘n foto van jou ID of skandeer hom in.
Boonop is stemdistrikte en -lokale met plaaslike verkiesings só opgedeel dat baie mense binne ‘n kort tydjie gehelp kan word.
Nkosi voeg by: “Baie mense glo steeds nie dat jou stem ‘n verskil maak nie, maar elke stem tel. Die proses begin en eindig ook nie op stemdag nie. As jy nie jou verteenwoordigers verantwoordelik hou nie, ondermyn dit die proses.”
Daar sal weer tussen 31 Julie en 1 Augustus ‘n registrasienaweek hou, wanneer al 23 151 stemlokale landwyd na verwagting tussen 08:00 en 17:00 oop sal wees vir mense om hul registrasie-besonderhede na te gaan.
Vir hulp, kontak die OVK tydens kantoorure by 0800-11-8000.


×