100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga beloof egte Laeveld-ervaring vir All Black toets

Written by on February 9, 2022

Die Mpumalanga Rugbyunie het beloof om alle spanne en toeskouers ‘n fantastiese Laeveld-ervaring te gee wanneer die Springbokke op 6 Augustus by Mbombela-stadion teen die All Blacks speel.
SA Rugby het gister die unie formeel bevestig as ‘n gasheer vir die Castle Lager Rugby-kampioenskap wedstryd.
Die uitvoerende hoof van Mpumalanga Rugby, Marius van Rensburg, sê hulle is vol moed dat meer toeskouers teen dan by wedstryde toegelaat sal word, en dat dit die Bokke ‘n sterk tuisvoordeel sal gee.
“Ons hoop om in die nabye toekoms in ‘n posisie te wees om openbare kaartjieverkope te kan open. Ons vra dat almal geduldig bly tot daar meer duidelikheid oor die reëls is,” sê hy.
Die wedstryd sou reeds in 2020 by Mbombela plaasgevind het, maar is weens Covid-19-afgelas. Enersyds kon een van die Briste en Ierse Leeus-wedstryd verlede jaar ook nie soos beplan hier gespeel word nie. Die laaste rugbytoets by die stadion was in 2016 teen Argentinië.
Mpumalanga Rugbyunie president, AG Visser, sê 6 Augustus is ‘n wonderlike geleentheid om gasheer te speel vir die top twee internasionale spanne in die wêreld.
Roelf Kotze, bestuurder van Mbombela-stadion, is opgewonde om Mbombela en die Laeveld vir die wêreld te wys.
“Ons het die 2010 FIFA Wêreldbeker suksesvol aangebied en na baie rugbywedstryde is ek vol vertroue dat ons ‘n onvergeetlike geleentheid vir alle betrokkenes kan lewer.”
===========
Die Springbokke speel drie toetse teen Wallis in Julie, voor Nieu-Seeland in Augustus kom kuier. Na Mbombela op 6 Augustus vind die tweede toets teen die All Blacks op 13 Augustus by Emirates Airline Park in Johannesburg plaas.
Suid-Afrika gaan daarna op toer en speel twee toetse teen Australië (op 27 Augustus en 3 September) en een teen Argentinië op 17 September.
Hulle speel dan weer gasheer vir Los Pumas by die Hollywoodbets Kings Park in Durban op 24 September om hul toernooi af te sluit.


×