100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Minister genader vir langtermyn-oplossing vir Malalane se water

Written by on July 6, 2021

Inwoners van Malalane het die naweek watertekorte ervaar na die hoofpomp by die ontrekking- en suiweringsaanleg verstop en gebreek het.
Dit is Saterdagmiddag vervang. Die tweede pomp is die aand ook vervang. Dit moes aanvanklik in die donker gedoen word in ‘n 25-meter watertoring wat net van bo af toeganklik is. Boonop moes slik van die somer se vloede en die ongewone opbou van alge opgeruim word om by die pomp uit te kom.
Werk is om middernag gestaak en Sondagoggend hervat. Die waterwerke is Sondagaand herstel. Daar moes gewag word vir die reservoirs om 75% vol te word voor watertoevoer na die dorp herstel kon word. Dit is Maandagaand gedoen.
Drie tydelike pompe is geïnstalleer om daarmee te help en sal die week gebruik word terwyl die munisipaliteit herstelwerk doen aan infrastruktuur.
DA-raadslid, Mariëtte Preddy, sê sy het ‘n brief geskryf om die minister te vra om in te gryp en ‘n langtermyn-oplossing te vind vir die dorp se waterinfrastruktuur.
Volgens Nkomazi-munisipaliteit sal die week se instandhoudingswerk inwoners na verwagting nie so erg raak soos tydens die naweek nie.

Inwoners is gevra om nie hul tuine nat te lei nie, drinkwater byderhand te hou, kennisgewingsgroepe op sosiale media dop te hou vir raad en die instruksies daarop te volg – tot almal se voordeel.
Volgens Preddy vra sy reeds sedert 2010/11 die plaaslike munisipaliteit om ‘n langtermyn-oplossing te vind. Daarom het sy nou die minister in ‘n brief gevra om ‘n span kundiges te stuur om ‘n permanente oplossing te vind.
“Ons benodig ‘n totale opgradering,” sê sy. “Die blote feit dat hulle met graafmasjiene in die rivier moet werk, sê vir jou die infrastruktuur wat daar is, funksioneer nie.”


×