100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-raadslid bly in aanhouding vir dubbele moord

Written by on November 18, 2021

Lifa Blessing Nkosi (42), die uitgaande Mbombela-raadslid van wyk 45 in Barberton, het eergister in die landdroshof in Barberton verskyn op twee klagte van moord.
Hy is Dinsdag deur die Valke gearresteer in samewerking met die provinsiale opsporingspan, Barberton-speurders en blitspatrollie.

Nkosi word aangekla dat hy speurder Nkosinathi Lucky Ngwenya en die se vriend, Jaftha Mnisi, op 17 Oktober by Zanni Tavern in Barberton doodgeskiet het.
Ngwenya was aan die speurtak in Nelspruit verbonde en was ten tyde van sy dood van diens af.
Volgens die Valke se provinsiale woordvoerder, kapt. Dineo Sekgotodi, bly Nkosi in aanhouding tot 25 November wanneer hy formeel vir borgtog aansoek sal kan begin doen.
Die wyk se nuutverkose raadslid, Njabulo Mkhonto, is een van die medebeskuldigdes wat saam met die voormalige LUR vir landbou, Mandla Msibi, van dubbele moord en poging tot moord aangekla word.
Hulle word saam met nog ander mense beskuldig dat hulle Nkosi-ondersteuners Dingaan Ngwenya en Sindela Lubisi op 22 Augustus rondom ‘n ANC takvergadering oor kandidate in Mbombela doodgeskiet het.
Hulle moet weer op 6 Desember in die hof in Nelspruit verskyn.
Mbombela se nuutverkose raadslede sal Dinsdag tydens hul eerste sitting ingesweer word. Die burgemeester, Speaker en hoofsweep sal ook dan verkies word.
Weens inperking word beperkte gaste toegelaat.
Die ANC het in die afgelope plaaslike verkiesing ‘n meerderheid van 65% van die stemme op hom verenig om 59 setels te wen. Hulle word gevolg deur die EFF met 14 setels, die DA met 12 en die VF Plus met drie. Die ACDP en ATM het elk een kandidaat wat op die stadsraad dien.


×