100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mannejag geloods na dubbele moord in Barberton

Written by on October 18, 2021

‘n Mannejag is geloods na die verdagtes wat Saterdagaand twee mans in Barberton doodgeskiet het.
Volgens die polisie se kolonel Donald Mdhluli was die een slagoffer ‘n polisiebeampte wat ten tyde van die voorval van diens af was.
Speurder konst. Nkosinathi Lucky Ngwenya was aan die speurtak in Nelspruit verbonde.
Die ander slagoffer is as Jaftha Mnisi geïdentifiseer. Hulle is met verskeie skietwonde dood langs ‘n drankwinkel gevind.

Enigiemand met inligting is gevra om die polisie te kontak by 08600-10111.
‘n Gesamentlike operasie tussen misdaadintelligensie in Komatipoort en sigbare polisiëring in Matsulu het Donderdag gelei tot die arrestasie van vier verdagtes.
Hulle word aangekla van die besit van plofstof, besit van ‘n AK-47, en gewapende roof.
Volgens Mdhluli glo die polisie dat die verdagtes onderweg was om ‘n misdaad in Matsulu te pleeg toe hulle deur die wetstoepassers aangekeer is. Die plofstof en AK-47 is in sekere huise opgespoor wat deur die polisie deursoek is.
“Ons glo hul arrestasie sal help om van die roofsake in die omgewing en omliggende areas op te los,” sê hy. “Een van die verdagtes word gesoek vir ander misdade en is reeds geruime tyd voortvlugtig.”
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, het die polisielede geloof vir die arrestasies. Sy het ook die vonnis van ‘n renosterstroper verwelkom.
Simon Mahumbane Lubisi is Donderdag in Skukuza tot ‘n effektiewe 19 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het op 26 Oktober 2014 ‘n witrenoster in die Onder Sabie-area gestroop.
Veldwagters wat die area gepatrolleer het, het in ‘n skietgeveg betrokke geraak met ‘n groep vermeende stropers. Een is noodlottig gewond en drie, waaronder Lubisi, is aangekeer.
Hulle is borgtog toegestaan en het versuim om weer in die hof te verskyn. Lubisi is in 2019 weer aangekeer.
Hy is 10 jaar opgelê vir die jag van ‘n renoster, vyf jaar vir sameswering om ‘n misdaad te pleeg, drie jaar vir die onwettige betreding van die wildtuin en een jaar vir die besit van ‘n gevaarlike wapen.


×