100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Makhonjwa sal saam met advieskomitee bestuur word, sê MTPA

Written by on September 20, 2021

Die Unesco Makhonjwa-Wêrelderfenisgebied sal saam met ‘n advieskomitee deur die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap bestuur word. So sê die uitvoerende hoof van die MTPA, Johannes Nobunga.
Die MTPA is onlangs as die bestuursgesag oor die gebied aangekondig. Daar is gehoop dat die MTPA dit nie alleen sou bestuur nie.
Verskeie grondeienaars het daarteen kapsie gemaak en aangedui dat hulle hul samewerking sal onttrek, wat die area se erfenisgebied-status sal bedreig.
Nobunga sê egter hulle sal voor die einde Oktober nominasies vir die komitee open om teen die einde van November op dreef te kan wees.
Volgens hom moet die advieskomitee uit spesialiste in hul verskillende velde bestaan sodat die Makhonjwa-bergreeks die beste moontlik bestuur kan word. Dit moet ook in samewerking tussen die regering, private sektor en plaaslike gemeenskappe gebeur, aldus hom.

Hierdie erfenisgebied is in 2018 as sulks geproklammeer. Nobunga sê ontevrede grondeienaars kán hul ondersteuning aan die projek onttrek. Volgens hulle beslaan 74% van die gebied private grond. Volgens hom is 69% van die totaal die Barberton- en Songimvelo-natuurreservate.
“As daar een of twee eienaars is wat uit wil klim, sal die dit nie die status in gedrang bring nie. Die grense is dinamies, en ons wil nie ‘n situasie hê waar ons enigiets verloor nie, maar as iemand baie sterk voel sal Unesco die nodige aanpassings maak.
“Maar dit sal tot niemand se voordeel wees nie. In die langtermyn wil ons eerder hê dat dit moet groei. Ons moet ons ander verskille en belange wegsit om te verseker dit werk.”
Toerisme-geleenthede sal oop wees vir private produk-eienaars, terwyl die MTPA sal fokus op die terreine wat van geografiese belang is, ingange na Badplaas, Bolembo en Mbombela, tekenborde aanbring en die buffersone instel wat Unesco vereis.
“Ons wil nie dieselfde foute maak wat in die verlede gemaak is met ander erfenisgebiede nie,” sluit Nobunga af. “Daarom moet die advieskomitee so inklusief as moontlik wees.”


×