100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Konstruksie geopen vir God’s Window Skywalk

Written by on September 17, 2021

Die konstruksie van die God’s Window Skywalk is vanoggend amptelik geopen. Bouwerk aan die toerisme-aantreklikheid op die Panorama-roete, ‘n klipgooi weg van die Graskop Gorge Lift, sal na verwagting in 2023 afgehandel wees.
Dit is 900 meter bo die kloof en bied ‘n 360-grade uitsig oor die Blyderivier-vallei. Dit maak dit hoër as die Grand Canyon Skywalk in die VSA (280 meter) en die Zhangjiajie Glas Brug in China (260 meter).
Die Mpumalanga Toerisme- en parke-agentskap (MTPA) hoop dat dit meer besoekers na die area sal lok en toeriste langer in die provinsie sal laat vertoef.
Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het die geleentheid bygewoon saam met die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, die uitvoerende hoof van die MTPA, Johannes Nobunga, en die burgemeester van Thaba Chweu-munisipaliteit, Fridah Nkadibeng.

Mapulana Canyon is aangestel as die belegger, ontwerper en projekbestuurder. Dit is ‘n venootskap tussen Motsamayi Tourism en die Blyde-vallei se gemeenskaps-eiendomsvereniging (GEV).
Wanneer dit in gebruik geneem word, sal dit bestuur word deur Motsamayi wat ‘n konsessie in Kaappunt bestuur sowel as die Kruger Shalati se trein op die brug, Krugerstasie en die Sanctuary Mandela-hotel.
Jerry Mabena, uitvoerende hoof van die Motsamayi groep, sê hulle verwag om internasionale toeriste teen dan al terug te verwelkom. “Ons glo hierdie projek sal nuwe werksgeleenthede skep en ander aantreklikhede in die area ondersteun.”
Volgens hom lok die Blyderivier-area reeds naby aan ‘n miljoen besoekers.
Konstruksie sal na raming meer as 300 werksgeleenthede skep, en sowat 100 daarna, wat veral die Matibidi-gemeenskap behoort te bevoordeel.
Lourence Mogakane, voorsitter van die GEV sê hulle hoop ook dat dit waardevolle vaardighede oor sal dra.


×