100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kaartjies vir All Black-toets in Mbombela Woensdag beskikbaar

Written by on March 8, 2022

Kaartjieverkope vir die Springbokke se 2022 tuistoetse open môre, 9 Maart, om 09:00 vir die publiek.
Kaartjies vir die Bokke se Castle Lager Rugby Kampioenskap-wedstryd teen die All Blacks by Mbombela-stadion in Nelspruit op 6 Augustus sal beskikbaar wees by Computicket en die stadion-kantoor. Pryse daarvoor wissel van R150 tot R1 500.
Stadion-bestuurder, Roelf Kotze, het bevestig dat amper 42 000* sitplekke beskikbaar is. Luister hier:

Saru sê hulle verwag dat die huidige beperking van 2 000 toeskouers gelig sal word.
“SA Rugby is optimisties dat die huidige beperkinge op die grootte van skares binne die volgende weke verslap sal word om lewe te blaas in die vooruitsig om die Springbokke weer voor duisende aanhangers te sien uitdraf op die veld.”
Toeskouers is meer as twee jaar gelede laas by ‘n Spingbokwedstryd op tuisbodem toegelaat. Dit was teen Argentinië op 19 Augustus 2019 by Loftus Versfeld. Weens die pandemie het die Bokke in 2020 glad nie gespeel nie.
Tans vereis die regering se veiligheidsmaatreëls dat mense teen Covid-19 ingeënt moet wees om stadions te betree.
Kaartjies vir die drie toetse teen Wallis en die wedstryd teen Nieu-Seeland in Johannesburg sal beskikbaar wees by Ticketpro. FNB kliënte kan reeds gister en vandag kaartjies bekom.
Kaartjiepryse:
• Saterdag, 2 Julie teen Wallis by Loftus Versfeld in Pretoria: R150 tot R1 000
• Saterdag, 9 Julie teen Wallis by Toyota-stadion in Bloemfontein: R150 tot R1 000
• Saterdag, 16 Julie teen Wallis by DHL-stadion in Kaapstad: R150 tot R1 250
• Saterdag, 6 Augustus teen Nieu-Seeland by Mbombela-stadion in Nelspruit: R150 tot R1 500
• Saterdag, 13 Augustus teen Nieu-Seeland by Emirates Airline Park in Johannesburg: R200 tot R1 500
• Saterdag, 24 September teen Argentinië by Hollywoodbets Kings Park in Durban: R150 tot R800
Het jy geweet?
Die eerste toets (teen Wallis op 2 Julie) sal ses weke kort wees van drie jaar sedert die Bokke se aanhangers hulle by die huis in aksie kon sien.
Die derde toets teen Wallis sal die eerste keer wees wat die Springbokke voor ‘n skare by die DHL-stadion speel.

*Hierdie artikel is sedert publikasie geredigeer om aan te dui dat, hoewel die stadion ‘n kapasiteit van 43 500 het, elke sitplek vir veiligheidsredes nie gevul word nie.


×