100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Elvis Blue hou vanaand in jou huis konsert

Written by on September 4, 2021

Elvis Blue gaan die Laeveld vanaand vermaak tydens die sesde en laaste aflewering van die In Jou Huis-konsertreeks.
Dit word aangebied in samewerking met Innibos, kykNet en Radio Laeveld. Jo Black, Jak de Priester, Charl du Plessis, Refentse en Roan Ash was die afgelope maande reeds aan die beurt.
Bywoning na die optrede is slegs op uitnodiging, maar almal kan die vertoning regstreeks op hul radio luister.
Elvis het vir Gerhardt gesê dat, hoewel hy ‘n bietjie op sy senuwees is, hy baie daarna uitsien, veral omdat daar so min geleenthede was om konsert te hou die afgelope 18 maande.

“‘n Mens voel baie dankbaar dat jy kan optree. Dalk het ‘n mens nie voorheen nie. Hoewel jy dankbaar was, maar nou weet jy, jy kon dit amper verloor het.”
Dit is na aanleiding van die inperking wat sy jongste album, “Meer as genoeg”, geïnspireer het. Hy het daaraan begin skryf op die eerste dag van die grendeltydperk in Maart 2020. ‘n Maand se vakansie wat toe so lank geduur het…
“Ek het so half my werk verloor in die sin dat ek nie meer kon doen wat ek doen nie,” sê hy. “Dit was ‘n moeilike proses, maar ook eintlik baie goed want dit het ‘n klomp ander goed vir my gewys in my lewe waarvoor ek baie dankbaar kan wees: my gesin, die plek waar ek bly en goeie vriende.
“Ek dink as jy amper iets verloor in die lewe dan raak jy so bewus van wat jy nog oor het, en dit is waar die titel vandaan kom.”
Te danke aan sy musiekonderwyser-ma het hy grootgeword met ‘n wye verskeidenheid musiek wat altyd in die huis was – van Lukas Maree tot Johannes Kerkorrel. Dié inspirasies is duidelik in sy musiek.
Moenie sy vertoning vanaand misloop nie. Skakel om 19:00 in op 100.5FM, om regstreeks te luister.


×