100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Beurtwater ingestel in Witrivier tot einde van die week

Written by on February 2, 2021

Witrivier-inwoners kan hulle maar regmaak vir beurtwater tot die einde van die week.
Sekere areas van die dorp het sedert Vrydagaand nie water nie. Dit is intussen darem gedeeltelik herstel.
Volgens raadslid, Rowan Torr, het verskeie meganiese probleme met die voerlyn daartoe aanleiding gegee.

Mbombela-munisipaliteit sê hulle werk aan die probleme. Volgens die woordvoerder, Joseph Ngala, behoort dit teen die einde van die week uitgesorteer te wees.
Intussen word beurtwater geïmplementeer en watertenks is ontplooi.
Ngala voer aan die probleem is nie net ‘n tekort aan instandhoudingswerk nie.
“Ons verstaan dat ons infrastruktuur oud word, maar wanneer jy nie genoeg rou water het wat in die sisteem inkom nie, sal jou uitset minder wees. Die water wat ons van die besproeiingsraad ontvang, is te min vir ons om gemeenskappe mee te verskaf.
“Daarom pleit ons by hulle om dit te vermeerder, noudat ons goeie reën gehad het (wat die vlakke van die damme en riviere verbeter het). Dit is dus nie net infrastruktuur nie, maar baie ander dinge ook,” sê hy.
Plaaslike damvlakke het ‘n beduidende verbetering getoon die afgelope weke sedert tropiese storm Eloise die land getref het.
Net tussen gister (1 Februarie) en Vrydag (29 Januarie) het die damvlakke só verander:
Kwena: 47,6% na 53%
Blyderivierpoort: 102,8% na 104,3%
Driekoppies: 89,2% na 93,3%
Inyaka: 65% na 68,2%
Klipkoppie: 42,9% na 46,8%
Longmere: 52,4% na 61,5%
Loskop: 91,4% na 96%
Da Gama het dieselfde gebly op 56,1%
Barberton se Lomati-dam het van 32,8% na 36,8% verbeter – op van sowat 14% twee weke gelede.
Volgens Ngala stuur Mbombela-munisipaliteit ook water van Mbombela (Nelspruit) na Witrivier om die volumes aan te vul.
Torr beaam dat een van die langtermynprobleme is dat hulle te min water onttrek, maar dat die groter probleem ‘n gebrek aan beplanning is.


×