100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Graskop neem aksie na aanval op Franse toeriste

Written by on October 20, 2021

Toerisme rolspelers in Graskop het aksie geneem na ‘n bejaarde egpaar van Frankryk Maandag naby die dorp gekaap is deur drie verdagtes wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.
Die toeriste was besig om die area rondom Graskop in ‘n huurmotor te verken, toe hulle by die afdraai na Pelgrimsrus gestop is deur die aanvallers. Hulle sê hulle het gestop omdat die mans polisie-uniforms aangehad het, al was hulle in ‘n privaatmotor.
Die vrou het glo eers geweier om uit te klim en haar vinger is beseer toe sy uit die voertuig forseer is. Hulle is ook van persoonlike items beroof. Die aanvallers het met hul gehuurde Suzuki Swift gevlug.
Verbygangers het hulle polisiestasie toe geneem.
Toerisme rolspelers het hul dadelik te hulp gesnel, hulle gehelp om hul reisdokumente te vervang en hulle met addisionele uitstappies bederf. Die toeriste het toe besluit om vir nog twee weke aan te bly.

Oupa Pilane van Kruger Laeveld Toerisme sê hulle sal hul veiligheidsplan aktiveer en met die adjunkminister van polisie oor die aangeleentheid vergader.
“Daar is voorheen ook op gehuurde karre toegeslaan. Ons weet nie hoe hulle die karre identifiseer nie. Ons is besorg dat daar êrens ‘n vrot appel kop in een mus is met die bendes,” sê hy.
“Ons moet ons veiligheid- en sekuriteitsplan aktiveer en proaktief wees. Ons het net voor inperking ‘n goeie plan gehad – ons moet dit nou implementeer.”
Hy voeg by dat rolspelers sedert die Covid-19-pandemie nie soveel vergadering gehou nie maar dat dit nou gaan verander. Dit sluit in alle belanghebbendes asook die polisie, MTPA en private sekuriteitsmaatskappye.
Pilane voeg by dat veiligheidsmaatreëls aan enige besoeker aan enige plek ter wêreld gekommunikeer behoort te word, sodat hulle verstaan hoe om hulself te beveilig in ‘n onbekende plek.
Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, het die voorval veroordeel. Hy sê voorvalle soos dié kan buitelandse toeriste afskrik in ‘n tyd wat die ekonomie hulle broodnodig het.


×