100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Geliefde Bergvlam-onderwyser sterf

Written by on October 22, 2020

Juff. Karen Britz se skielike afsterwe het Hoërskool Bergvlam Donderdagoggend geruk.
Sy was vir amper 32 jaar by die skool werksaam. Sy het in Januarie 1989 daar begin skoolgee.
Sy was op Hoërskool Klerksdorp op skool en het by die NWU-Pukke studeer.
Sy het huishoudkunde gegee, en mees onlangs gasvryheidstudies aangebied. Volgens die skool het sy daardeur ‘n menigte leerlinge geïnspireer om hul drome in dié bedryf na te streef.
Britz se kollega en vriendin, juff. Sanet Steyn, sê sy het einde verlede jaar ‘n beenmurg-oorplanting ondergaan. Dit was suksesvol maar sy het so twee weke gelede weer siek begin word.
Steyn sê Britz se twee kinders, Heinrich en Annie, was haar lewe, en haar leerlinge was besonder lief vir haar.

“Die leerlinge is baie lief vir haar. Sy het ‘n hart gehad vir die afvlerke ook. Maar nie net vir hulle nie. Die kinders vat die nuus baie swaar.”
Die skool het Britz as ‘n onvervangbare legende beskryf wie se liefde en inspirasie ewig onthou sal word.
Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. “Alles wat sy gedoen het, was altyd uit die boonste rakke,” onthou Steyn.
Annie, ‘n leerling aan Hoërskool Bergvlam, begin eersdaags eindeksamen skryf. Heinrich is reeds uit die skool.
Ten tyde van haar operasie verlede jaar, moes sy vir lank in isolasie weg van selfs haar kinders wees, omdat die prosedure eers ‘n pasiënt se immuniteit afbreek.
“Tydens Covid-19 was sy regtig geïsoleerd, maar ons het haar so twee weke gelede gesien en sy het baie goed gelyk,” sê Steyn.
Voormalige leerlinge het op Facebook geskryf hoe Britz se lewenslesse hulle veral sal bybly.
Amoré Smith sê haar hart is seer en haar woorde min oor die groot leemte wat sy laat.
“Baie dankie vir die mooi woorde wat Juffrou altyd gehad het! Juffrou was so ‘n ‘stunning’ mens en vir seker een van die sterkste vroue wat ek ken. Dit was ‘n voorreg om vir drie jaar by Juffrou te kon klas kry. Dankie vir elke wyse woord.”
Britz se vriendin, Amanda Lewis, skryf sy het haar stryd volgehou sonder om te kla.
“Maar altyd, altyd met ‘n glimlag en ‘n bemoedigende woord vir ander. Jy bly na alles nog steeds ‘n wonderlike inspirasie. Rus sag, my vriendin. Ons sal jou mis!”


×