100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Dra ‘n “cap” vir Selanna Biggs hierdie Vrydag

Written by on April 14, 2021

‘n Aksie om Vrydag pette te dra is geloods vir die 19-jarige Selanna Biggs wat Sondag gevind is nadat sy amper 28 uur in haar motor vasgekeer was na ‘n ongeluk.
‘n Groot soektog is geloods voor sy eindelik in ‘n plantasie gevind is.
Lees die volledige berig hier: Vermiste meisie na groot soektog gevind
Sy het haar femur gebreek, en sterk in die hospitaal aan, waar sy reeds een operasie ondergaan het.
In die foto op die “vermiste persoon”-plakkate wat sedert Saterdag op sosiale media versprei is, dra Selanna ‘n pet, wat familievriend Marne Nel die idee gegee het vir mense om Vrydag enige pet te dra ter ondersteuning van haar en die Biggs-gesin.

“Ons het almal daardie foto van haar gesien,” sê Nel. Sy het die inisiatief “CAP” gedoop – dit staan vir “Christ’s Almighty Protection”.
“Daar was soveel mense wat betrokke was om te soek vir Selanna, so daar is soveel mense wat wil weet hoe dit met haar gaan en wat in elk geval vir haar bid en haar familie ondersteun,” sê sy.
“Dit is so ‘n wonderlike getuienis oor hoe die Here haar beskerm het, so ek het gedink, kom ons wys dit op ‘n praktiese manier. Dalk is daar iemand wat jou met jou pet op sien wat dalk nie van Selanna weet nie, of jy kan jou eie getuienis deel oor hoe die Here jou beskerm en bewaar het.
“Ek het gedink dit is ‘n geleentheid om ons almal in ons geloof te laat groei.”
Sy sê Selanna se femur is gister geopereer, maar dit is ‘n baie slegte breuk en het ‘n infeksie. Sy sal na verwagting Vrydag weer daarvoor teater toe gaan. Haar een toon is ook gebreek en moet nog reggemaak word.
As jy jou pet Vrydag dra, gebruik die hitsmerke #prayingforselanna en #psalm91verse4 op sosiale media.
Dié vers gaan oor beskerming. Dit lees: “Hy sal jou dek met Sy vlerke en onder sy vleuels sal jy skuil. Sy trou is ‘n skild en pantser.”
Nel sluit af: Ek dink dit gaan net baie bemoedigend wees vir haar en Melisa en Jason en Asher.”


×