100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-infeksies bly stabiel in Mbombela

Written by on September 23, 2020

Mpumalanga se departement van gesondheid het vrese van ‘n tweede golf Covid-19-infeksies in die kiem gesmoor.
Die afgelope week is 238 nuwe gevalle in Mbombela aangemeld, en geen nuwe sterftes nie. (Die jongste beskikbare syfers was teen druktyd vir 22 September).
In die laaste drie dae is 73 nuwe gevalle bevestig. Vrydag en Saterdag is meer as 40 gevalle elke dag aangemeld.
Die woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, Dumisani Malamule, sê egter dit is normaal dat nuwe gevalle daagliks aangemeld word, en dit kan geensins as ‘n golf beskou word nie.
Inteendeel is die infeksiekoers tans baie laag.

“Mense moet onthou, net omdat ons op vlak 1 van inperking is, beteken dit nie dat daar nie meer Covid is nie. Die virus is nog daar, en daarom word nuwe gevalle daagliks aangemeld.
“Mense moet steeds versigtig wees en voorsorg daarteen tref,” sê hy.
Mpumalanga het ‘n totaal van 26 591 gevalle. Die herstelkoers van die virus staan tans op ongeveer 79%, aldus Malamule.
In Mbombela het 4 368 van 4 675 pasiënte reeds herstel. ‘n Totaal van 36 mense het tot dusver weens die virus in die stad gesterf.
Landwyd staan die dodetal op 16 000. In Mpumalanga is dit 496.
Daar is tans 814 aktiewe positiewe gevalle in die provinsie.
Die LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, het gister by Rob Ferreira-hospitaal toerusting wat deur Guma Gijima Technologies geskenk is, in ontvangs geneem.
Die termo-skandeerders dra by tot die persoonlike beskermende toerusting wat die hospitaal beskikbaar het.
Manzini het die rolspelers bedank wat die departement ondersteun teen die Covid-pandemie, insluitende vakbonde, geloofsleiers, en vennote in die private sektor.


×