100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Care for Wild renosterkalfie se geboorte maak geskiedenis

Written by on February 14, 2022

Geskiedenis is gister gemaak by Care for Wild toe ‘n witrenosterkalfie gebore is. Sy is die eerste kalfie van wie beide ouers wees gelaat is deur stropers, en wat natuurlik verwek en in die lewe gebring is.
Ma Wyntir (8) het op 13 Februarie geboorte geskenk aan die wonderwerk baba.
Care for Wild se stigter en uitvoerende hoof, Petronel Nieuwoudt, sê dit was ‘n emosionele oomblik vir die hele span by die wêreld se grootste reservaat vir wees renosters.

Wyntir was slegs twee maande oud, en het slegs 107 kg geweeg, toe sy by Kingfisherspruit in die Nasionale Krugerwildtuin gered is. Stropers het haar ma van kant gemaak en die kalfie is aangeval deur hiënas wat onder meer haar ore afgebyt het.

Storm is net meer as 10 jaar gelede in Limpopo wees gelaat toe hy skaars vier weke oud was. Sy hele gesin is uitgewis deur stropers.
Beide is gerehabiliteer by Care for Wild en later vrygelaat, waar hulle steeds 24/7 deur wagte opgepas word.

Hulle is twee van meer as 100 renosterwesies wat deur Care for Wild gered is, sedert die projek in 2011 begin is.
Care for Wild skryf op hul Facebook-blad dat renosters na verwagting binne minder as 10 jaar uit kan sterf.
Die wildtuin se renosterbevolking het sedert 2011 met ‘n geraamde 75% afgeneem.
“Ek kyk na beide Wyntir en Storm en in daardie oomblik sien ek hul hele reis,” sê Nieuwoudt. “Ons visie is om die toekoms van die spesies te verseker deur volhoubare telery. Hierdie kalfie simboliseer die lewe en lig wat moontlik is. Sy bring hoop vir die spesie en vir die mensdom.”
Sy sluit af dat hulle verwag dat nog wees renosters binnekort geboorte sal skenk.


×