100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Beroep op padgebruikers om verantwoordelik te bestuur

Written by on December 27, 2023

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, doen ‘n beroep op alle padgebruikers om gedurende hierdie feestyd verantwoordelik op die paaie te wees.
Dit volg na verskeie botsings Saterdagoggend 13 lewens geëis het.
Ses mense is Saterdag dood toe ‘n minibus op die R38 tussen Barberton en Manzana beheer verloor en by die bergpas afgerol het.
Nog vier mense is die oggend dood toe ‘n minibus-taxi en sedan trompop op die R23 tussen Val en Standerton gebots het.
Onder die oorledenes tel drie volwasse mans en ‘n kind.
Dieselfde oggend het ‘n sedan en sportnutsvoertuig trompop teen mekaar gebots op die N4 naby Vosman en drie lewens geëis, insluitend dié van beide bestuurders.
Die woordvoerder van die departement, Moeti Mmusi, vra dat motoriste dit vermy om die spoedgrens te oorskry en moedig hulle aan om te verseker dat hul voertuie padwaardig is. Hy sê bestuurders moet ook gereeld rus wanneer hulle lang afstande aflê.
Luister:

Intussen is meer as 4 100 motoriste tot dusver dié feestyd regdeur die land vir dronkbestuur in hegtenis geneem.
Ander is aangehou vir vals dokumente en die bestuur van openbare vervoervoertuie in stryd met bedryfspermitte.
Die Padverkeer-bestuurskorporasie sê beamptes sal nie huiwer om voertuie wat nie padwaardig is nie, vir padgebruik te skrap of te skut nie.
Meer as 1 738 voertuie is sedert die begin van die maand van die pad afgehaal, terwyl nog 3 340 geskut is.
Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, raai motoriste ook aan om uiters versigtig te wees wanneer hulle vandag in reënerige toestande bestuur:
Luister:

Sien ook: Ontwrigtende reën vandag verwag


×