100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Barberton se damvlakke styg dramaties

Written by on January 25, 2021

Inwoners van Barberton kan daarna uitsien om eersdaags dalk weer elke dag water te hê.
Die dorp ervaar sedert Augustus weer beurtwater, maar daar kan reeds etlike maande nie by die beurtwater-skedule gehou word nie, omdat so min water uit die reservoirs versprei mag word weens die lae vlakke van die Lomati-dam.
Die dam se watervlakke het sedert Saterdag egter van 14% tot 24,8% verbeter weens die goeie reën wat in die opvangsgebied geval het tydens tropiese storm Eloise.
Die afgelope paar dae se gemiddelde reënval was ongeveer 130 mm in die dorp. In die dam se opvangsgebied was dit egter nader aan 248 mm die afgelope drie dae.
Hulle hoop dat die invloei van dit wat reeds geval het, die damvlak tot 30% kan opstoot.
DA-raadslid, Philip Minnaar, sê beurtwater en waterbeperkings is egter steeds hier om te bly, maar die dorp behoort, sonder om nog groot reën te kry, tot die volgende reënseisoen genoeg water te hê om hulle deur te sien.

“Die water wat gesuiwer word, kon ons reeds verdubbel,” sê hy. “Ons is baie dankbaar.
“Voorheen kon ons sewe megaliter per dag suiwer, maar met net die natuurlike afvloei van water uit die berge, kon ons dit verhoog tot 15 megaliter. Dit sal baie help om die reservoir-vlakke te verbeter om ‘n meer gereelde voorsiening van water te verseker.
“Meer reën is voorspel (ongeveer 80 mm) en dit sal ons geweldig baie help,” voeg Minnaar by. “Dit is egter nog nie genoeg nie, en ons moet volhou om ons water baie spaarsamig te gebruik.
“Ons watertekort is ver van verby en die situasie sal nie oornag verbeter nie,” sluit hy af.



×