100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Borg vir nog vyf wat glo R60 m. bedrog pleeg met voertuiglisensies

Written by on October 13, 2022

Die vyf amptenare wat Dinsdag aangekeer is weens R60 miljoen se bedrog met voertuiglisensies in Mpumalanga het gister in die Nelspruit-landdroshof verskyn op klagte van diefstal, bedrog en geldwassery.

Lyndy Dinah Mantshwane (45) is in Lydenburg aangekeer, Salibona Harriet Mlangeni (47) en Phindile Grace Maseko (49) in Delmas en Zinhle Precious Tshabalala (36) en Lydia Sindiswa Maseko (47) in Piet Retief.

Elk is borgtog van R15 000 toegestaan. Die saak is uitgestel tot 6 Desember wanneer hul saak by die van die ander nege wat reeds aangekeer is gevoeg sal word. Volgens die Valke word nog arrestasies verwag.

============

12 Oktober 2022, 09:22

Die staatsamptenare wat aangekla word van bedrog, korrupsie en geldwassery weens ‘n beweerde gekonkel met voertuiglisensies in Mpumalanga, staan tans op 14.

Nog vyf amptenare is gister by die lisensiekantore in Lydenburg, Delmas en Piet Retief aangekeer i.v.m. die R60 miljoen in samewerking met die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), Valke en Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).

Drie mense is in September in Mbombela aangekeer en ses in Julie. Elk is borgtog van R15 000 toegestaan.

Lees meer: Drie van Mbombela vas vir R60 miljoen beweerde-bedrog en Nog ses vas wat glo met lisensies konkel

Volgens die RTMC werk van hulle as klerke is die verskillende munisipaliteite en het hulle na bewering saam met administrateurs van die departement van gemeenskapsveiligheid gewerk om lisensiefooie en boetes wat aan die departement verskuldig was in hul eie sak te steek.

Hulle sou tussen 2018 en 2019 die eNatis-stelsel manipuleer om ‘n voertuig se eienaarskap oor te dra na ‘n onbetrokke derde party, ‘n oorledene of ‘n dormante maatskappy.

Alle boetes en uitstaande geld verskuldig aan die departement sal aan hulle oorgedra wees, en dan sou die eienaarskap weer oorgedra word aan die regmatige eienaar, wat dan geen gelde verskuldig sou wees nie. In sommige gevalle is die skuld oorgedra na voertuie in die regering se besit.

Die verdagtes staar 603 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in die gesig. Hulle sal na verwagting vandag in die hof verskyn.


×