100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Witrivier-polisie in spervuur oor beweerde aanranding by stasie

Written by on March 29, 2021

Die polisie ondersoek ‘n insident waarin ‘n man na bewering gister in die Witrivier-polisiestasie aangerand is.
Delia Jordaan en haar verloofde, Barend Byliefeldt, sê die polisie het ook geweier om hulle te help om verklarings af te neem terwyl hulle gevrees het vir hul lewens.
Dit het die oggend begin toe hulle op pad na Witrivier verskeie karre teëgekom het wat roekeloos gery het.
By Casterbridge se sirkel het een van die karre, ‘n swart Range Rover sonder registrasienommer, voor hulle gestop om hul pad te versper.
Een man het uitgeklim en ‘n vuurwapen op hulle gerig. ‘n Ander man het uit die voertuig agter hulle geklim en die ruit aan die passasierskant uitgeslaan.

In ‘n poging om van die mans af weg te kom het Byliefeldt beide karre gestamp en oor sypaadjies gery.
Die paartjie is polisiestasie toe, terwyl verskeie karre hulle agtervolg en van die pad probeer afdruk het, sê Jordaan.
By die polisiestasie is hulle verder gedreig. “Die mans het buite byeengekom. Van hulle het buite gebly, ander het ingekom en gevra dat die polisie ons uitlaat. Hulle wou ons selfone hê.”
Hulle het alles verfilm, en Jordaan sê die mans wou daarom hul fone hê.
“Ons was albei baie bang. Ons het op geen stadium veilig gevoel nie. Ons het gevoel ons lewens is in gevaar.
“Ek kon nie verstaan hoe niks gedoen word aan die mans wat reeds vuurwapens op ons gerig het nie,” sê sy.
Vier van die mans het Byliefeldt aangerand en sy foon afgeneem. ‘n Video hiervan, wat duidelik wys hoe Byliefeldt voor polisielede en Divergent Ops aangerand word, het sedertien soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.
Volgens Divergent Ops het die polisie hulle instruksies gegee om nie in te meng nie, aangesien dit hulle jurisdiksie is, en om dit te verontagsaam sou op dwarsboming van die gereg neerkom.

“Volgens Psira-wetgewing mag geen private sekuriteitsmaatskappy met ‘n polisievoorval inmeng nie. Wat dit vererger is dat dit binne die polisiestasie gebeur het, waar geen private sekuriteit enige mandaat het nie.”
Volgens Jordaan het die mans hulle met die dood gedreig. “Een van hulle het (Barend) op sy volle naam genoem en het ons adres geken.
“Al wat die polisie gedoen het, was om vir ons te sê om ons fone aan die mans en hulle te oorhandig.”
Sy sê hulle is net toegelaat om ‘n ongeluksverslag in te vul.
Paul Potgieter van AfriForum het bevestig dat hoofkantoor besig is om die voorval te ondersoek.
Ndileka Colo van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sê dit kan ‘n SAPD-ondersoek wees as die polisie nie deel van die aanranding was nie.
Polisiewoordvoerder brig. Leonard Hlathi het die slagoffer aangemoedig om ‘n kriminele saak te open.
Die distrikkommissaris, majoor-generaal Dianah Mashele, het ‘n span onder leiding van twee senior polisiebeamptes aangestel, om die gedrag van die polisielede aan diens te ondersoek.
‘n Kriminele saak van kwaadwillige saakbeskadiging en crimen injuria is ook teen die slagoffer geopen, omdat hy beskuldig is dat hy teen ‘n voertuig gebots het, en na bewering rasistiese aanmerkings gemaak het, volgens Hlathi.
Alma en Jan Bam vertel dat iets soortgelyk op presies dieselfde plek met hulle gebeur het op 4 Oktober.
Twee Ford Focus-motors het hulle probeer verbysteek oor ‘n sperstreep met aankomende verkeer en Jan het dit verhoed.
Eers toe die motors langs hulle kom, het hulle gesien die insittendes dra polisie-uniforms. Die motors het hulle vasgedruk en die Bams het (stadig) in die voorste een vasgery.
Volgens Alma was daar sewe mans. Geen een het maskers aangehad nie. Die voorste man was baie arrogant, moontlik nie nugter nie en met ‘n onderbroek oor sy kop.
“Hulle wou Jan in hegtenis neem, omdat hy hulle glo verhoed het om hul werk te doen. Sy argument was dat hulle geen ligte gehad het nie, en ander mense in gevaar stel.

“Hulle het my man se arm baie seer gemaak. Dit was so 20 minute wat soos ‘n ewigheid gevoel het. Ek kan jou nie vertel hoe erg hulle tekere gegaan het nie.”
Die egpaar het ‘n prokureur en AfriForum gekontak en Witrivier-polisie het na die toneel uitgekom.
Volgens Alma was dit lede van Witbank se taktiese span en het die mans na ‘n ruk ook geweet wat hulle volle name is en gedreig dat hulle weet waar hulle woon.
Jan moes die volgende dag weer ‘n verklaring aflê. Sedertien het hulle nog nie van die polisie of die saak gehoor nie, en ook nog geen saaknommer ontvang nie.
Polisielede mag nie weier om lede van die publiek met hul klagtes te help nie. Die publiek kan daarvoor die SAPD se klagtesentrum kontak by 0800-333-177 of 086-026-4487 of per e-pos by [email protected].


×