Lys van Adverteerders en Borge  
 
 


Luister na ons regstreekse uitsending op die Internet. Kliek op die radio om die stroom te aktiveer

 

Radio Laeveld 100.5 FM Stereo

Baie welkom by Radio Laeveld, 'n gemeenskaps radiostasie wat vir die eerste keer op 31 Mei 2003 begin uitsaai het. Dit is ook die doel van die stasie om die gemeenskap se betrokkenheid in die Laeveld aan te moedig. Die stasie maak 'n bestaan deur donasies, borge, advertensies en luisteraars wat as lede 'n bydrae tot die stasie se inkomste lewer.

Radio Laeveld saai uit op 100.5Mhz FM en bereik die meeste dorpe in die Mpumalanga Laeveld streek. Daar word voortdurend gepoog om die sein te verbeter en te versterk in sodoende die bergagtige topografie van die Laeveld te omseil en dan ook vir die luisteraars 'n beter ontvangs te verseker.

Radio Laeveld gebruik ook die Internet as 'n middel om uit te saai. Jy kan dus van enige plek in die wêreld na ons luister en selfs deelneem aan ons programme. Stuur gerus 'n epos aan ons as jy vir jou vriende of familie wil "hallo" sê.

 

Ons besoekers staan tans op :

 

 

 

 

 

 

 
 

 

Ons Ateljee Telefoon nommer :

013-74-11-999

Ons Ateljee SMS nommer :

084-MY-RADIO

(084-69-72346)

Kies jou musiek !

Jy kan nou 'n boodskap aan die aanbieder stuur om te vra dat hy/sy 'n liedjie van jou keuse vir jou speel. Vul gerus jou naam en keuse in

Jou naam
Jou Keuse
Jou Boodskap

      

Radio Laeveld Resepte:

Theresa Schoeman en Johan Coetzee met die Program Naweek Spyskaart elke Vrydag om 15h00 tot 16h00.

Luister elke week na Naweek Spyskaart met Theresa Schoeman en Johan Coetzee en 'n bespreking oor dit wat op die spyskaart vir die naweek is. Al die genoemde resepte word getoets en geplaas na sorgvuldige keuring deur Johan Schoeman, en jy kan verseker van 'n heerlike smaak ervaring wees.

Hier is van die resepte waaroor hulle al gesels het:

DADEL-EN GRONDBOONTJIE BROSBLOKKIES 

Nog ‘n lekkergoedresep wat seker altyd ‘n treffer sal bly. Ek maak hom sommer in die mikrogolfoond.

Gebruik ‘n mengbak was mikrogolf vriendelik is. 

Meng 100g Afgedopte Grondboonties (gehalveer en verkieslik ongesout), 200g Suiker, 100ml Gouestroop en 2ml Sout saam. 

Mikrogolf op Hoog vir 4 minute en roer tot die suiker gesmelt het. 

Mikrogolf weer op Hoog vir nog 3 minute. Voeg 1 teelepel Vanieljegeursel, 125ml fyngekapte Dadels en 25g Margarien by en roer goed. 

Mikrogolf nou vir 2 minute, weer op Hoog. 

Voeg 10ml Koeksoda by. Meng goed. Die mengsel moet nou skuimerig wees. 

Gooi nou die mengsel in ‘n gesmeerde bakplaat. Maak mooi gelyk met ‘n houtlepel en laat afkoel tot kliphard. 

Breek in stukke. Onthou om die broslekkers altyd in ‘n lugdigte houer te bêre. 

Geniet! !

KLAPPERYS IN DIE MIKROGOLF 

Gebruik ‘n mengbak was mikrogolf vriendelik is.

Gooi 500g Suiker en 150ml Melk saam in ‘n mengbak en kook op Hoog vir 8 minute. Roer die mengsel gedurig tydens die kookproses. Die mengsel moet nou lekker stroperig wees. 

Voeg 200g Gedroogde Klapper by en meng goed. 

Skep HELFTE van die mensel in ‘n bakplaat of oondpan van ongeveer 20cm x 20cm en maak mooi gelyk. 

Kleur nou die ander helfte van die mengsel met rooi of pienk voedselkleursel en smeer die pienk mengsel oor die wit mengsel. 

Laat afkoel en sny in blokkies ! 

Geniet! !

SJOKOLADE EN VANIELJE FUDGE.

Plaas 300ml Melk, 1 Blikkie Kondensmelk, 225g Margarien, 900g Suiker en 2ml Kremetart in ‘n lekker groot pan. Kook die mengsel oor lae hitte tot die suiker gesmelt het. Roer gedurig en moenie ongeduldig raak nie.

As die suiker HEELTEMAL gesmelt het, bring tot kookpunt, kook vir omtrent 3 tot 5 minute, terwyl geroer word. Die mengsel is reg as ‘n druppeltjie van die mengsel in koue water laat val word en dadelik ‘n sagte balletjie vorm.

Haal mengsel van die plaat af en deel gelykop in twee mengbakke.

Voeg 5ml Vanielje Geursel by die een bak en 100g Gesmelte Sjokolade en ‘n paar druppels Sjokolade Kleursel by die ander bak.

Klits nou gou altwee die mengsels tot die mengsel dik is en ‘n effens growwe tekstuur het.

Gooi die Vanieljemengsel in ‘n oondbak en maak gelyk. Gooi die Sjokolademengsel onmiddelik bo-op en maak gelyk.

Waneer die Fudge amper gestol het sny in blokkies en laat heeltemal afkoel.

Geniet! !

VRUGTEBLATJANG IN DIE MIKROGOLF. 

Met geelperskes wat nou in seisoen kom is dit ‘n lekker, vinnige bederfie om te maak. 

Skil en ontpit Geelperskes en Granny Smith Appels tot jy 1kg Perske en 1kg Appel het. Kap ook 500g Uie fyn.

Meng bogenoemde Vrugte in ‘n mikrogolfmengbak en bedek met Kleefplastiek. Kook die mengsel vir 8 tot 10 minute tot die vrugte sag is. Verwyder uit mikrogolf en hou eenkant. 

Plaas die uie in ‘n mengbak en voeg 150ml Water by. Mikrogolf vir 6 minute op hoog tot uie sag is. Dreineer die uie en voeg by die Vrugte. 

Voeg nou 250ml Moutasyn, 3ml Gemaalde Gemmer, 3ml Rooipeper en 5ml Mosterdpoeier, 5ml Neutmuskaat en 5ml Wonderpeper (“All Spice”), 4 Naeltjies en 5ml Sout by die vrugtemengsel. Meng goed. 

Mikrogolf nou op hoog vir 6 tot8 minute of tot die mengsel kook. Mikrogolf nou die mengsel vir 30 minute teen Meduim Krag. Roer gedurig. 

Voeg nou nog 250ml Moutasyn, 125ml Rosyne en 125ml Sagte Bruinsuiker by die mensel. Roer goed.

Kook nou nog 30 minute op Meduim of tot dik. Roer gedurig. 

Giet nou in warm, droeë flesse en laat afkoel voor die flesse geseël word. 

Die resep lewer omtrent 3 x 500g flesse blatjang. 

Geniet! !

SPRINGMIELIESTROOP 

Ek het ‘n lekker briefie van Annetjie Naude ontvang waarin sy kla dat sy nie meer die resepte het van tuisgemaakte lekkergoed wat hulle as kinders gemaak het nie. Sy sê dit was altyd groot prêt oor naweke as hulle in die kombuis gemors het. Sy het nou self kinders en wil hulle ook leer lekkergoed maak.

Annetjie, ek glo daar is nog ouers soos jy en daarom gaan ek oor die volgende paar weke ‘n paar ou gunstelinge se resepte uitsaai.

My kinders het hierdie resep gereeld gemaak en dikwels ekstra sakgeld verdien deur sakkies vol by die skool te verkoop. 

Kook 125ml Suiker, 60ml Water, 1 teelepel Vaniieljegeursel en 1 teelepel Koekkleursel saam tot stroperig. 

Gooi ‘n 2 liter roomysbak vol springmielies in ‘n lekker groot mengbak. Gooi die stroop bo-oor en roer tot die springmielies van mekaar begin los raak en die mengsel nie meer stroperig is nie. 

Die springmielies is so geurig, ons het dit sommer uit die bak uit ge-eet.

 Geniet! !

SOET KAASNAGEREG. 

 Seker een van die maklikste, vinnigste en goedkoopste nageregte wat jy ooit sal maak. Dis iets anders en dis heerlik.

Meng 400g Ricottakaas met 2 Eiergele, 2 Eetlepels Suiker en 2 Eetlepels soet Sjerrie. Die suiker kan met heuning vervang word.

Klits met ‘n handklitser tot glad en skep in bakkies en plaas in yskas.

Garneer met iets groen en bedien koud saam met soet beskuitjies.

Geniet! !

SJOKOLADE BALLETJIES. 

 Lekkergoed of Poeding. Besluit self. Dankie aan Anne vir die resep. 

Meng ½ Koppie Kondensmelk, 12,5ml Kakao en  25g Botter saam in ‘n Pan. Oor ‘n lae hitte verwarm die mengsel en roer tot alles goed gemeng is. 

Haal die Pan van die plaat af en meng 140g Fyngemaakte Tennisbeskuitjies en 25g Fyngekapte Droeë Appelkose by. 

Rol die mengsel in Sjokoladevermicelli of Droeë Klapper.

 Plaas in Yskas. 

Geniet! !

SARDYN TAMATIES. 

 ‘n Lekker eenvoudige ekonomiese resep wat vir ontbyt, midbyt, middagete ligte aandete of as bykos by ‘n braai. ‘n Moet in enige kombuis.

Kook 6 Eiers hard, dop af, en sny in die helfte en skep die Gele uit. 

Meng Gele met 1 x 410g Blik Sardyne en 60g Margarien. Maak die mengsel fyn. Voeg  1 Teelepel Droeë Pietersielie of 3 Opgehoopte Teelepels Vars Pietersielie, Swaetpeper na smaak. Ander geurmiddels kan na smaak bygevoeg word maar oppas vir te veel sout want die vis is klaar sout. 

Vul Eiers met die mengsel. 

Nou kom die ding ! Vir ontbyt of midbyt kan die eier op ‘n skyfie Tamatie of ‘n Pynappelring geplaas word. Vir Middag-of Aandete kan die eier op ‘n lekker ronde beskuitjie geplaas word ens, ens. 

Sprinkel Gerasperde Kaas Bo-oor en en braai onder Rooster tot tot kaas gesmelt is. 

Geniet! !

KERRIEVISPASTEI. 

 Die resep is amper soos Bobotie maar het sy eie unieke lekker smaak. Smaak ook lekker as Snoek gebruik word maar onthou om al die grate uit te haal. 

Kook 400g tot 500g Witvis in water tot gaar maar nie pap nie. Onthou die vis word nog gebak ook. Skep die Vis uit en maak fyn. Hou die Water. 

Week ‘n Dik (2,5cm) sny Witbrood in die Viswater.

Braai 2 Gekerfde Uie tot sag. Voeg 12,5ml Kerriepoeier, 125ml Sultanas, 25ml Asyn, 125ml Water, 2 Eetlepels Apelkooskonfyt, 1 Teelepel gerasperde Suurlemoenskil en Sout en Peper na smaak by. Laat prut tot dik terwyl aanhoudend geroer word. 

Druk Brood uit, maak fyn en voeg by Vis. Meng Vis en Kerriesous goed met ‘n vurk. 

Plaas in ‘n gesmeerde oondskottel. 

Klits 2 Eiers en 375ml Melk saam. Giet oor Vis en bak @ 160ºC tot Melk gestol is. 

Geniet! !

GEMMERTERT 

Een van my gunstelinge as kind. Heerlik, soet en verleidelik. Ek het die wereld vol gesoek na ‘n besonderse resep maar die beste bly maar die resep in SJA de Villiers se Kook en Geniet. Hierdie resep het ek uit die drie-en twintigste druk van Kook en Geniet wat in 1968 verskyn het geleen. Ons het dit altyd saam met tee geniet maar deesdae sit ek die tert, sonder die room, as bykos by as ons braai.  Mans is veral gek hieroor. 

Maak ‘n bekuitjietertkors deur 1 Pakkie Gemmerbeskuitjies te krummel en met 80g Gesmelte Margarien te meng en onder en teen die kante van ‘n tertbak vas te druk. 

Meng 1 Koppie Gouestroop, 1 Koppie Water en ½ Teelepel Fym Gemmer saam in ‘n kastrol. Verhit en kook stadig vir ‘n paar minute. Voeg 2 eetlepels Gekerfde Gemmerkonfyt by. 

Meng 2 eetlepels Mielieblom en 1 eetlepel Vlapoeier in 2 eetlepels Koue Water en roer by die stroopmengsel. Laat vir 3 minute kook om te verdik.

Gooi mengsel in jou tertkors en laat afkoel om te verdik.

Versier met Styf geklitste room. 

Geniet !

TUISGEMAAKTE MAYONAISE. 

 Gekoopte Mayonaise sal nooit so lekker soos tuisgemaakte mayonnaise smaak nie en hoe meer jy oefen hoe meer verskillende geure kan jy in jou mayonnaise inbring. 

Klits 2 Eiergele; Knippie Sout en Peper; 12,5ml Witasyn (of suurlemoensap) en 3ml Mostertpoeier saam tot dik. Voeg nou 375ml Olie druppelsgewys by terwyl aanhoudend geklits word. As die olie te vinnig bygevoeg word sal die mayonnaise skif. As die mayonnaise skif kan ‘n eiergeel met sout en peper geklits word en dan druppelsgewys by die mayonnaise geklits word. 

As daar sowat 25ml olie bygevoeg is sal die mengsel dik wees. Daarna kan die olie in ‘n dun eweredige stroompie bygevoeg word solank daar aanhoudend geklits word. 

As al die olie bygevoeg is kan nog asyn, sout, peper, of mosterd bygevoeg word om jou unike smaak te skep. 

Plaas in Yskas. 

Geniet! !

SUURLEMOENSLAAI. 

 Hierdie is nie ‘n slaai waarvan baie mense bakke vol sal opeet nie maar is heerlik saam met ‘n ryk vetterige dis soos bevoorbeeld Skilpaadjies (Lewer in Netvet) of Pofadder. Die resep is ook net vir ‘n klein bakkie vol. 

Skil en verwyder die wit membraam van 4 Suurlemoene. ( As jy Lemmietjies kan kry gebruik dit). Sny die Suurlemoene in skyfies. 

Rasper die Skil van 1 Groot Lemoen oor die suurlemoen. 

Druk die Sap van die lemoen oor die Suurlemoen.

Gooi 2 Teelepels Bruinsuiker oor, voeg ‘n halwe koppie Gedroogde Sultannas by en meng goed. Laat staan in yskas oornag. Roer gedurig.

Geniet! !

ROMERIGE MOSSELSOUS VIR PASTA. 

 Die is een van daardie maklike resepte wat lekker genoeg is om vir ‘n koning voor te sit. Enige pasta is geskik maar ek verkies die Penne-noedels. Dis heerlik as die sous so deur die noedel loop. 

Kook 500g Pasta soos per aanwysings op die pakkie.

Dreineer twee blikkies Gerookte Mossels en hou die olie. 

Braai een Ui en een teelepel Gekapte Knoffel in die Mossels se Olie tot die ui sag en deurskynend is. 

Voeg 1 x 410g blik “Italian Style” Tamaties en ’n handvol varsgekapte Pietersielie by en prut vir 5minute. 

Hier kom die belangrike deel.  Van hier af wil ons niks meer kook nie.

Draai die plaat waarop die sous prut af. Die mossels is klaar gaar. As ons dit gaan kook gaan dit pap word en ons wil ook nie die room kook nie.Voeg die 2 Blikkies Mossels en 125ml Room of Suurroom by. Plaas deksel terug op pot en laat staan vir 5 minute sodat die mossels warm kan word. 

Gooi sous oor pasta en bedien dadelik.  

Geniet! !

ERTJIESLAAI. 

Ietsie anders. As jy nie Fetakaas het nie gebruik Cheddarkaas. As jy nie Ham het nie gebruik gebraaide Ontbytspek. As daar vars Pynappel in die yskas is, sny dit by. Of Gekapte Neute, Of Piesangskywe. Die slaai hoef nooit twee maal dieselfde te wees nie.  

Ontdooi 1kg Gevriesde Ertjies en plaas in bak. Ek gooi gewoonlik die ertjies in ‘n vergiettes en laat koue kraanwater daaroor loop tot die ertjies los is.

Kap 50g Kruisement (of Soetment as jy het) fyn en roer deur Ertjies. 

Sny 2 x Soetrissies in repies en voeg by Ertjies. Ek gebruik gewoonlik ‘n rooi en ‘n geel rissie vir kleur. 

Sny 200g Fetakaas in blokkies en voeg by. 

Voeg 250g Ham wat in blokkies gesny is by. 

Sny 6 Gepiekiekelde Uitjies in kwarte en voeg by.

Laastens. Breek genoeg Slaaiblare fyn om die volume van die slaai te verdubbel. 

Meng goed en bedek met ‘n slaaisous wat jy maak deur 3 Eetlepels Kondensmelk, 3 Eetlepels Mayonaise, 5 Eetlepels Agurkiesous en 5 Eetlepels Melk saam te meng 

Plaas in Yskas. Bedien koud. 

Geniet! !

DROEËVRUGTESLAAI. 

 Droeëvrugte kan soms duur wees maar die slaai is vullend en met so ‘n bak kom mens ver. 

Week 1kg Gemengde Dreoëvrugte vir ‘n uur in kouewater. 

Kook die vrugte tot sag en laat afkoel en sny in stukke. 

Maak intussen die slaaisous deur 1 Klein Blikkie Ingedampte Melk styf te klits. Vou  ‘n Blikkie Kondensmelk by die Melk in en roer dan 125ml Asyn, 125 ml Olie en 15 ml Aangemaakte Mosterd by. Laat staan om dik te word. 

Sny 8 Piesangs in skywe. 

Pak nou ‘n laag Vrugte, ‘n laag Piesangs ‘n lag Gekapte Neute ‘n lag Sous en herhaal tot bak vol is. 

Bedien koud. 

Geniet! !

KERIEPERSKE EN PIESANGSLAAI. 

 ‘N Ou tradisionele slaai wat deur die jare ‘n gunsteling gebly het. Daar is baie variasies op die slaai maar ek verkies hierdie basiese weergawe. 

Dreineer ‘n 410g Blik Gesnyde Geelperskes en hou die stroop. 

Sny ‘n lekker Groot Ui in ringe en braai tot deurskynend.

 Voeg nou die Perskestroop, 15ml Kerriepoeier, 10 ml Appelkooskonfyt, 10ml Wynasyn en ‘n Knippiesout by die uie en prut vir so 5 minute. 

Sny 4 – 5 Piesangs in skywe en voeg dit saam met die Perskes in die sous. Maak ‘n Halwe Teelepel Mielieblom in bietjie water aan en voeg by sous. Kook die mengsel tot sous verdik, haal van plaat af en laat afkoel.

Skep in Slaaibak en garner met Kruisementblare. 

Plaas in yskas en bedien koud. 

 Geniet! !

VEELDOELIGE BRUINLENSIE SLAAI 

 Hierdie is ‘n maklike, ekonomiese maar veeldoelige slaai. Lensies is ook baie gesond. Hierdie slaai kan net so voorgesit word of deur tuna, hoenderblokkies, ham of sommer van die oorskiet braaivleis by te meng word dit ‘n heerlike ligte middagete Die resep maak ‘n groot bak slaai. Mens kan net halfte van die gaar lensies gebruik en later ‘n ander variasie maak. Om die slaai ‘n tropiese geur te gee kan fyn pynappel bygevoeg word of vir ‘n Meksikaanse geur kan rooirissie by gevoeg word. Die slaai kan sommer ‘n hele paar dae in die yskas gebêre word. 

Los 2 Blokkies Hoenderaftreksel in 1,25 liter Water op. Voeg 1 Teelepel Gekneusde Knofeel by. Indien jy nie Aftreksel het nie kan jy dit in water kook maar dan moet jy Sout byvoeg. 

Voeg 500g Bruinlensies by en kook vir omtent 30 tot 45 minute. Toets gedurig. Die lensies moet gaar maar NIE pap wees nie. 

Waneer reg, dreineer en laat afkoel.  

Gooi nou die Lensies in ‘n slaaibak en gooi 4 – 5 eetlepels Olyfolie op. Gebruik jou hande en meng die Lensies en Olyfolie goed. Die lensies moet sommer so lekker blink.

 Sny nou 200g Fetakaas, ‘n Halwe Botteltjie Peppadew en so 4 Groot Agurkies op in klein stukkies. Meng dit by die lensies. 

Skep nou so 3 Eetlepeels van die Peppedew en 2 Eetlepels van die Agurkies se sous oor en gooi ‘n goeie klompie Varsgemaalde Swartpeper by. Meng goed en laat in yskas koud word.

 Garneer met fyn Fetakaas en Pietersielietakkies.

 Geniet! !

Marinade vir Vark of Hoender. 

Meng die volgende bestandele goed saam:

  • 30 ml Heuning
  • 30ml Soyasous
  • 5ml Worcestershiresous
  • 5ml Skerp Rissiesous
  • 10 ml Tamatiesous
  • 10ml Suurlemoensap
  • 100ml Droeë Witwyn (of Wynasyn)

Marineer die vleis vir ‘n paar uur in die marinade. Die marinade ka nook as ‘n bedrupsous gebruik word. Dalk kan jy dan so ‘n eetlepel Blatjang byvoeg. 

Geniet !!!

Malle Malvalekker Slaai. 

Ek het die resep eendag erens op die internet raak geloop. Ek het nooit gedink dit kan werk nie en hom dus nooit gemaak nie. Iemand praat toe nou die dag oor die resep wat so lekker is en toe maak ek hom. Dis soos hulle sê. Jy kan nie besluit of dit slaai of poeding is nie maar dis heerlik saam met braaivleis en dis so maklik om te maak. 

Dreineer ‘n 440g Fyn Pynappel en gooi die sous in ‘n mengbak. 

Sny 2 x 150g pakkies Malvalekkers in kwarte in die pynappelsous in. Vryf elke stukke malvalekker met die sous om te voorkom dat die stukkies aan mekaar vas sit.

 Voeg nou die Pynappel en 175ml Grenadella Joghurt by en meng goed. 

Die gereg kan dae vooruit gemaak word en smaak op sy beste na twee of drie dae. 

Geniet !!!

Veeldoelige Warm Sampioengereg. 

Hierdie is een van daardie resepte wat mens moet hê. Die gereg kan of as ‘n warm slaai of as ‘n bykos by ‘n braai of as ‘n pastasous gebruik word. Vir variasie kan ‘n blik pynappelstukke in plaas van sultanas gebruik word. As die sous vir ‘n pastasous gebruik word kan gebraaide ontbytspek en ekstra room bygevoeg word. As die gereg by ‘n braai geniet gaan word kan ‘n swartpot gebruik word en sommer eenkant op die vuur gaargemaak word.

 Sny 500g Vars Knopiesampioene in kwarte en plaas in swartpot of oondbak. Voeg 125g Sultanas by en meng. 

Meng nou 40g sagte Margarien, 50ml Koekmeelblom, 1 Fyngekapte ui, Halwe Gekapte Soetrissie, 5ml Droeë Pietersielie, 2ml Rooipeper, 5ml Suurlemoenpeper en 5ml aangemaakte Mosterd saam. Smeer die mengsel oor jou Sampioene. 

Giet 250ml Room bo-oor.  

Bak in oond @ 180ºC vir ± 30 minute of prut op vuur vir 20 minute. Roer so af en toe. 

LET WEL: Omdat die sampioene water trek kan die gereg soms baie loperig wees. Maak die sous dik met bietjie Mielieblom.   

Geniet !!!

KARRINGMELK-KNOFFELBROOD.

 ‘n Maklike Broodjie wat anders is. Lekker saam met enige gereg en spesiaal waneer dit gerooster word vir ontbyd. Die Broodjie vries ook lekker.

 Meng 750ml Bruismeel met

  • 10ml Gekneusde Knoffel
  • 5ml Origanum
  • 5ml Marjolyn
  • 10ml Gedroogde Pietersielie
  • 5ml Tiemie
  • 5ml Sout

Klits nou 1 x Eier en voeg dit by 500ml Karringmelk.

 Meng Karringmelk mengsel by Droeë Bestanddele om ‘n deeg te vorm en gooi in gesmeerde Broodpan.

 Strooi ‘n dik laag gerasperde Kaas oor.

 Bak vir ± 60 minute @ 180ºC.

 GENIET ! ! !

DROOMDIS. 

‘n Heerlike vinnige dis wat kan dien as ‘n ligte middagete of as bykos by ‘n braai.

 Kook 250g Pasta van jou keuse gaar soos per aanwysings op die pakkie. Dreineer, en plaas in mengbak. Voeg nou 150ml Olie en  1 x 410g Blikkie Pitmielies by.

 Braai intussen ‘n Halwe Soetrissie, 1 Ui en 125g (halwe Pakkie) Ontbytspek tot lekker bros. Voeg dit by die Pasta Mengsel.

 Meng 1 x Pakkie Samioensoppoeier met 200ml water  en voeg  1 x Blikkie Sampioene en 1 x Koppie Gevriesde Bone of Gevriesde Ertjies by. Kook die mengsel vir so 15 Minute. As die mengsel te dik word verdun dit met Melk.

 Meng die Sopmengsel by die Pastamengsel. Skep dit dan in ‘n vuurvaste oondbak en sprinkel 250ml (200g) Gerasperde Kaas bo-oor.

 Bak teen 180ºC vir ongeveer 15 minute of tot kaas lekker gesmelt is

 GENIET ! ! !

TJOKOLADE-KOFFIEKOEK.

 Ek het hierdie ongelooflike resep van Engela Coetzee ontvang. Dit is soos sy sê “Die Beste”.

 Skei 9 Eiers. Klits die Witte styf en hou eenkant. Hou Gele van eiers eenkant. 

Sif die volgende bestandele in ‘n bak saam.

2¼ Koppies Koekmeel, 2¼ Koppies Suiker, 4½ Eetlepels Kakao, 4½ Teelepels Bakpoeier en 3¼ Teelepels Sout.

 Klits nou die volgende in ‘n groot mengbak saam.

1¼ Koppie Warm Water (nie kookwater nie) en 1¼ Koppie Olie. 

Meng stadig ‘n derde van die droeë bestandele by die Olie/Water-mengsel in en meng dan die Eiergele by. 

Meng nou nog ‘n derde van die droeë bestandele in en meng dan die styfgeklitse Eierwitte by.

 Meng nou die res van die droeë bestandele en 1½ Teelepel Vanilla Essens by en meng goed deur. Moenie die bestandele te lank klits nie.

 Gooi in gesmeerde koekpan en bak vir 30 minute na 1 uur (afhangende van die diepte van die koekpan) @ 180ºC.

 Maak nou die volgende stroop aan.

Kook 1½ Koppie Suiker, 1½ Koppie Water, 1½ Teelepel Vanilla Essens en 5 Eetlepels kits Koffiepoeier saam.

Gooi die stroop dadelik oor die koek as dit uitkom. Druk gaatjies met ‘n vurk in die koek sodat die stroop lekker diep kan intrek. 

Vir versiering meng 1 blik Karamel Kondensmelk met 2 Bakkies Room en smeer oor koek.

 Geniet dit ! ! ! !

EISBEIN (KROEK) POTJIE 

Neem 2 Eisbeins van ongeveer 800 g elk en braai in bietjie Botter in ‘n warm pot tot die vleissappe begin uitbraai. Ons het genoeg vleissap nodig om uie in te braai. 

Verwyder vleis uit pot en braai 4 uie wat in kwarte gesny is in die vet-sappe tot deurskynend. Sny 4 Wortels in happie-groote stukkies en braai saam met uie vir 2 minute. 

Voeg 2 Soetrissies (rooi of geel met groen vir kleur) wat in 1 cm stukke gesny is en 1 gekneusde knoffelhuisie by uiemengsel en braai vir 5 minute om ‘n lekkker geurige basis te kry.

Voeg 1 Blikkie Bier (340ml) en 340ml Vleisaftreksel by. 

Plaas vleis terug in pot en prut vir 1 uur.

Voeg nou 4 Aartappels wat in stukke gesny is, 2 Seldery stingels opgesny, Sout en Peper na smaak en 1 teelepel Mosterdpoeier aangemaak in bietjie Asyn by. 

Bedek die hele spul met die blare van ‘n Halwe Kopkool. Die koolblare moet soos ‘n seël oor die vleis wees. Sit deksel op en prut vir 2 ure. 

GENIET ! ! !.

AARTAPPELSLAAI MET KAAS EN BILTONG 

Meng saam in ‘n bak: 

600g gaar aartappelblokkies

1 klein gekapte ui

2 gekapte selderystingels (blare opsioneel)

1 rooi soetrissie gekap

1 groen soetrissie gekap

125g gekerfde biltong in klein blokkies gesny

125g kaas in klein blokkies gesny

OF 

125 g fetakaas gekrummel 

Die kaas kan met blokkies ferm avocado of met blokkies appels of pere vervang word.  Die biltong kan met salami of ham vervang word. 

Maak ‘n sous deur 1 bakkie (250g) maaskaas met 100 ml ligte mayonnaise of slaairoom vir 2 minute met ‘n handklitser te klits tot romerig. 

Maak 5 ml mosterdpoeier aan in 10-15 ml suurlemoensap en voeg ‘n knippie rooipeper by. Meng goed. 

Voeg suurlemoensap by maaskaas-mengsel en klits weer tot goed gemeng. 

Vou die kaassous in die aartappelmengsel in en skep in slaaibak wat met slaaiblare uitgevoer is.  Garneer met iets groen bv pietersielie of suurlemoenwiggies. 

Geniet! !

Vinnige Maaskaas-Jellie Tert. 

 Maak ‘n beskuitjiekors deur ‘n halwe pakkie Maiebeskuitjies fyn te maak, 5ml Kaneel en 70g gesmelte botter te meng. Druk die kors teen kante en op bodem van ‘n tertbak vas en plaas in yskas.

Dreineer 1 x 410g blikkie Apelkose en voeg water by stroop om 250ml vloeistof te kry. Bring die stroop tot kookpunt en voeg 1 pakkie Appelkoos Jellie by. Roer tot jellie opgelos is. Laat effens afkoel. 

Voeg driekwart van die stroop bietjies-bietjies by 1 bakkie (250 g) Maaskaas.

Roer tot glad. Gooi die maaskaasmengsel in die voorbereide kors. Druk die appelose in die jellie-maaskasmengsel in en laat ‘n paar bo-op lê. Plaas in yskas. 

Laat die oorblywende jellie afkoel buite yskas en gooi oor die tert net voor die jellie begin stol. 

Plaas tert in yskas en laat stol.  

Geniet !!!

SEEKOSSOUS 

Meng die volgende saam.

  • 500ml Mayonaise
  • 2 Hardgekookte eiers wat fyn gekap is.
  • 15ml (3 teelepels) aangemaakte mosterd.
  • 1 teelepel Gekneusde Knoffel.
  • 5ml (1 teelepel) gedroogde Pietersielie.
  • 15 ml (3 teelepels) gekapte Grasuie of gewone uie.
  • 1 fyn gekapte Agurkie.
  • 3 Babaworteltjies fyngekap.
  • 1 teelepel Skerp Rissiesous.
  • Varsgemaalde Swartpeper.

Plaas in yskas tot benodig. Kan ‘n paar dae in yskas gebêre word.

ONGEKOOKTE RISSIESOUS

Rooster 1 x Brandrissie, 1 x Soetrissie, 4 x Tamaties en 4 x Knoffelhuisies in oond @ 200ºC vir omtrent 5 minute om sag te word.

Skil Tamaties en Knoffel en vewyder die pitjies van die rissies. Kap alles baie fyn of plaas in voedselverwerker en maak fyn.

Voeg ‘n ½ teelepel Paprika en ‘n ½ teelepel Borrie, 65ml Olyfolie, 10 ml Asyn en sout by.

Vryf mengsel deur sif en laat afkoel. 

Variasies:

Voeg 2 of 3 Brandrissies by vir ‘n skerper smaak.

Voeg ‘n eetlepel Blatjang by. Moet deur sif gevryf word.

Voeg ‘n eetlepel Heuning of Appelkooskonfyt by.

 

 

Met  besoekers op ons webwerf, kan jy ook die blootstelling geniet deur hier te adverteer.  Kontak ons bemarkers by lianna@radiolaeveld.co.za

 

Ons kompetisie - KopSkrop - Bly ingeskakel op Radio Laeveld vir lekker groot kontantpryse wat gewen kan word - Maandag tot Vrydag - Elke week ! 

 

 
 

 


  Ons gereelde ondersteuners  :   
 

 

 
   
 

 

 
   
 

 

 
   
 

 

 
 

Contact Communications - 013-753-3425

 
 

 

 
 

 
     
 

 
     
 

 

 
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
   

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 
 
Kopiereg  © , Radio Laeveld. Alle regte voorbehou.Webtuiste ontwerp en gehuisves deur "InternetiX Internet and Network Solutions" Kontak vir Danie Joubert by 082-467-3434 vir jou webtuiste.