Baie welkom by Radio Laeveld, 'n gemeenskaps radiostasie wat vir
die eerste keer op 31 Mei 2003 begin uitsaai het. Dit is ook die
doel van die stasie om die gemeenskap se betrokkenheid in die
Laeveld aan te moedig. Die stasie maak 'n bestaan deur donasies,
borge, advertensies en luisteraars wat as lede 'n bydrae tot die
stasie se inkomste lewer.
Radio Laeveld saai uit op 100.5Mhz FM en
bereik die meeste dorpe in die Mpumalanga Laeveld streek. Daar
word voortdurend gepoog om die sein te verbeter en te versterk in
sodoende die bergagtige topografie van die Laeveld te omseil en
dan ook vir die luisteraars 'n beter ontvangs te verseker.
Radio Laeveld gebruik ook die Internet
as 'n middel om uit te saai. Jy kan dus van enige plek in die
wêreld na ons luister en selfs deelneem aan ons programme. Stuur
gerus 'n epos aan ons as jy vir jou vriende of familie wil
"hallo" sê.
Kliek
hierom die lys van liedjies deur te sien
of maak jou eie keuse vir plasing op ons speellys. Vul
gerus ook ons meningopname
wat kwartaaliks opgedateer word, in. Ons
luister graag na jou voorstelle en speel graag die
musiek wat jy wil hoor.
‘n
Dringende vergadering op Maandag vir die Barberton belastingbetalers.
29
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die Umjindi belastingbetalersvereniging het ‘n dringende
vergadering op Maandag, 1 Junie, om ses uur die aand gereël om
dringende kwessies te bespreek. Volgens die sekretaris van die
belastingbetalersvereniging, Andry Nuns, is daar ernstige foute
in die eiendomswaardasie register. Die Umijindi Munisipaliteit
weier om dié foute te herstel voor die voorstelling van die nuwe
eiendomstariewe op 1 Julie nie bekend gemaak is nie. Dit beteken
hoër belastingstariewe wat in plek gehou gaan word totdat
waardasie uiteindelik reggestel word. Volgens hom is verskeie
eiendomme onderskat. Belastingbetalers gaan onkant betrap word
as die beplande aanvullende waardasie vroeg in die nuwe jaar
plaasvind en verhoging word toegepas op die hoë belastingtariewe
wat in Julie die jaar bepaal is. Die vergadering gaan ook die
kwessie aanraak waar die munisipaliteitsbegroting deurgeforseer
word, ten spyte van verskille op die eiendomstariewe en te min
insette van die publiek.
Man pleeg selfmoord na rusie en moord op vriendin.
28
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
‘n Man van
Nelspruit het gisteraand omstreeks kwart voor agt selfmoord
gepleeg nadat hy sy vriendin geskiet het. Die man, wie se naam
nog nie genoem kan word nie omdat sy naasbestaandes nog nie in
kennis gestel is nie, was in ‘n rusie met sy vriendin. Sy
het gesien dat hy ‘n geweer by hom het en wou haar tannie, wie
by hulle woon, gaan waarsku. Hy het haar in die rug geskiet toe
sy weghardloop. Sy is op die toneel dood. Hy het kort daarna
die geweer op homself gedraai en selfmoord gepleeg. Volgens die
provinsiale kommunikasiebeampte, Dimpho Nkosi, het 'n ooggetuie
dadelik die polisie in kennis gestel. ‘n Saak van moord is
geopen.
Vrou beroof van R35 000 kontant ontrekking.
‘n Vrou van
Nelspruit is gisteroggend van R35 000 beroof oppad na die bank in Besterstraat. Volgens die provinsiale polisie
kommunikasiebeampte, Dhimpo Nkosi, het Nombeko Fakude met ‘n
swartsak vol geld na die bank gestap toe ‘n man haar van agter
aangeval het en met ‘n mes gedreig het. Hy het die sak met geld
in by haar gevat en van die toneel weggehardloop. Die polisie
waarsku dat persone nie met geld in die straat moet bank toe
stap nie. Sy sê die risiko is te hoog dat kansvatters tot so ver
sal gaan as om jou lewe te neem om kontant te steel. Volgens
haar moet mens eerder van sekuriteitsmaatskappye gebruik maak om
groot somme geld te bank. Niemand is in die voorval beseer nie
en die verdagte word steeds gesoek.
Impala Slaghuis in Nelspruit loop deur in ‘n
gewapende roof.
Die 63-jarige
Manuel Pestana en twee personeellede is gisteraand omstreeks
tien-minute oor sewe by die Impala Slaghuis in Nelspruit deur
vier verdagtes oorval. Twee van hulle was gewapen met rewolwers
en een verdagte het ‘n slagtersmes by hom gehad. Die verdagtes
het vir Manuel in ‘n agterste kantoor inforseer en hom
gedwing
om die kluis oop te sluit. Impala Slaghuis is van
dertig-duisend-rand beroof. Hulle het vir Manuel in die kantoor
toegesluit en van die toneel gevlug. Niemand is in die voorval
beseer nie en die verdagtes is steeds op vrye voet. Die
plaaslike polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof.
Voertuigroof in Lydenburg
‘n Man, Finias
Morobi, is gisteraand omstreeks tien-uur op sy plaas in
Doornhoek, net buite Lydenburg, aangeval. Die verdagte het ‘n
rewolwer ter waarde van twee-duisend-rand gesteel en met Finias
se Datsun bakkie ter waarde van dertig-duisend-rand, met
nommerplaat BZW 236 MP weggejaag. Die bakkie is steeds op soek
en niemand is tot dusver gearresteer nie. Vir enige inligting
indien jy die bakkie gewaar, bel die polisie by: 013 759 1370.
Gevaarlike Nelspruit misdadiger ontsnap in
transito.
27
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Een van die twee
verdagtes wat op 8 Desember 2005 gearresteer is vir die
Emnotweni Casino gewapende roof in Nelspruit, het ontsnap toe hy
na die Pretoria se gevangenis vervoer is. Thami Ndengezi het
daarin geslaag om op die hoek van Skinner en Schubart strate in
Pretoria te ontsnap nadat hy Maandag in die hof in Nelspruit
verskyn het. Thami het uit die bewegende voertuig gespring nadat
hy sy regterhand uit die boeie losgewikkel het. Volgens die
woordvoerder van georganiseerde misdaad in Mpumalanga, kapt.
Leonard Hlathi, het Thami en sy makkers in 2005 daarin geslaag
om die Emnotweni Casino van meer as een-miljoen rand te beroof
en was ook in ‘n gewapende roof by die Modimelle’s Eerste
Nasionale Bank in Limpopo betrokke waar hulle R70 000 geroof
het. Thami was ook betrokke in vyf kapings in Johannesburg en
die polisie het ‘n AK 47 en verskeie nege millimeter pistole in
hulle besit gekry. Hy moes egter nog vanaf 19 tot 30 Oktober in
die hof op aanklag van die gewapende bankroof verskyn het. Enige
iemand met inligting kan insp Hendrik Kruger by 014 718 7528
skakel, of Willem Nel by 072 152 5951.
Eiendomsbelasting moontlik onwettig verhoog
Die Mbombela Belastingsbetalersvereniging is bekommerd oor die
Mbombela Munisipaliteit wat eiendomsbelasting met tot 85 persent
verhoog, en nie die regte prosedure volg om die jaar se
begroting goedgekeur te kry nie. Soos in Beeld berig, wil dit
voorkom of die stadsraad die wet op Munisipale Finansiële
Bestuur vir ‘n tweede keer in vier weke gaan oortree omdat die
raad klaarblyklik steeds nie sy nuwe begroting goedgekeur het
vir 2009/2010 nie. Die finale begroting moet voor die einde van
dié maand goedgekeur word en die publiek het nie genoeg kans
gehad om insette te lewer nie. Uitstel is tot 5 Junie gekry. Die
LUR vir finansies, Pinky Phosa, moes klaarblyklik ingryp omdat
die raad die begroting wil goedkeur voordat die spertyd verby is
nie. Ons skakel oor na Adrie Smith van der Merwe, wat die
voorsitter van die Mbombela belastingsbetalersvereniging is.
>>>>>>>
Komatipoort dwelmsmokkel saak uitgestel
26
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die saak teen die
twee verdagtes wat betrokke is in die twee-en-vyftig miljoen
rand se dwelmsmokkelary by die Lebombo grenspos buite
Komatipoort verlede Vrydag, se saak is uitgestel tot 2 Junie.
Die woordvoerder van georganiseerde misdaad, Kapt, Leonard Hlati,
het in ‘n verklaring gesê Jaime Maluzane Chauke en Manuel Mamuse
het vandag in die Komatiepoort se rondgaande hof verskyn. Beide
die verdagtes is Vrydag gearresteer nadat die polisie ‘n
ondersoek op hulle swaar voertuig ingestel het waar hulle op ‘n
vals kompartement binne die trok afgekom het. ‘n Totaal van
honderd-drie-en-tagtig kilogram heroïn is in die trok gevind wat
onderweg was Gauteng.
Twee families in Curlews is gisteraand by
dieselfde huis aangeval.
Twee families en
‘n vier-maande oue baba is gisteraand omstreeks sewe-uur by hul
huis in Curlews, agt kilometer buite Witrivier, deur drie
gewapende rowers oorval. Volgens die hoof van die speurtak in
Witrivier, kapt. Erhard Ströh, het die drie verdagtes elk
handwapens gehad en die slagoffers in die huis vasgebind. Peter
Dinneto en sy vrou, asook hul vier maande oue baba, is saam met
Peter se swaer, Derek Bouwer en dié se vrou, deur die rowers
aangehou, maar hulle het ongedeerd van die voorval afgekom.
Ströh sê die verdagtes het ‘n Land Rover asook kontant en onder
meer ‘n skootrekenaar gesteel. Die voertuig is gisteraand egter
deur die plaaslike polisie en Netstar teruggevind. Die items en
kontant wat gesteel is, het ‘n beraamde waarde van ongeveer
honderd duisend rand. Niemand is in hegtenis geneem nie.
Bergvlam 0/16 dogters na Netbalproewe
Netbal; Twee van die Hoërskool Bergvlam se o.16 leerlinge
het onlangs aan die Mpumalanga netbalproewe gaan deelneem en
ook die span gemaak. Die Vlammie-tweeling is van links Sihle
Nkose en haar suster Sitho.
Bergvlam presteer in kunskompetisie
Die
provinsiale onderwysdepartement het ‘n FET kunskompetisie
aangebied by die verskeie skole in die provinsie wat kuns as
‘n vak aanbied. Die gr.12-leerling, Anelle Froneman het ‘n
eerste plek gekry vir haar kunswerk met Amy-Leigh Culver in
gr.11 wat tweede gekom het en Shandré Nel, ook gr.12, wat
derde was. Die skool het die Laeveld se naam ook hoog gehou
toe hulle 12 goue sertifikate verwerf het. Dit sluit die
gr.10-leerlinge,
Mizan van der Merwe en Marischca de Lange in, Azelia
Erasmus, Christa Schutz, Amy-Leigh Culver, Zimaney Norval,
Simoné Engelbrecht en Nanda du Preez van die gr.11’s in en
wat die gr.12-leerlinge betref, het Lé-Xandra Kruger, Anel
Froneman, Madelei Awium, Amanda Joubert, Michelle Strydom,
Ananda Meyer, Chevon Botes, Tyler Zweers, Shandré Nel en
Rayline Dye ook goed presteer. Foto: Verskaf.Foto: VERSKAF(Kuns2.jpg:
Anelle Foneman met die wenskildery. Die tema was
“Erfenis”.Kuns1.jgp; Van links voor staan die Amy-Leigh
Culver (tweede plek), Shandré Nel (derde plek), Hannelie
Nicholson van die Mpumalanga Departement van Onderwys,
Liandra Prinloo (kunsonderwyser van Bergvlam) en Anelle
Froneman (eerste plek)).
Een man is gister dood toe ‘n swaar voertuig
gerol het.
25 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
‘n Saak van
strafbare manslag is gister omstreeks half-vier geopen toe ‘n
swaar voertuig met nege passasiers agterop, gerol het. Volgens
die provinsiale polisiewoordvoerder, supt. Aby Khoabane, het die
ongeluk tussen Lydenburg en Sabie plaasgevind. Dit wil voorkom
of die trok-bestuurder beheer oor die voertuig verloor het om
een van die draaie. Een van die nege passasiers is op die toneel
dood. Sy naam mag egter nog nie bekend gemaak word nie omdat sy
naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie. Daar was geen
ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.
Stoorkamer brandskade in Rocky Drift
‘n Brand het
gisteraand omstreeks tien minute oor agt by die Kleendeel plaas
se stoorkamer in Rocky’s Drift tussen Witrivier en Nelspuit
uitgebreek. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Supt
Aby Khoabane, is hulle nog besig met ‘n ondersoek oor hoe die
vuur uigebreek het. Niemand is egter in die voorval beseer nie,
maar Khoabane sê die skade beloop teen ongeveer
tien-duisend-rand vir die stoorkamer. Die moontlikheid dat
iemand die vuur gestig het, word ondersoek.
Supermarkroof
verdagtes gevang
21 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Een van die twee
verdagtes wat op ‘n supermark in Kwaggafontein toegesak het, is
gistermiddag gearresteer en verskyn vandag in die hof op aanklag
van besigheidsroof, aanranding en beskading van eiendom. Die
tweede verdagte is steeds opsoek nadat hulle vir Jashi Udin en
sy vriend Sana Ullah aangeval het toe hulle die supermark
ses-uur sluit. Jashi en Sana is in die winkel aangehou terwyl
die verdagtes twaalf-duisend-rand se kruideniersware,
twintig-duisend-rand kontant en selfone gesteel het. Hulle het
ook skade aan die winkel aangerig wat ‘n verdere
tien-duisend-rand beloop. Een van die verdagtes het blykbaar
vergeet om die selfoon wat hulle afgeneem het, saam te neem en
kon Jashi die polisie in kennis van die voorval stel wat tot die
arrestasie gelei het.
Motorfietsryer dood in ongeluk
‘n Trokbestuurder is gister vir strafbare manslag gearresteer
nadat hy met ‘n motorfietsbestuurder in ‘n ongeluk op Witbank in
Clewerstraat betrokke was. Volgens die provinsiale polisie
kommunikasie beampte, Dimpho Nkosi, was die motorfietsbestuurder
reeds dood toe die polisie en nooddienste, oomblikke nadat die
ongeluk ongeveer half vier die middag plaasgevind het, op die
toneel verskyn het. Sy het gesê die polisie is nog nie presies
seker hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Die persoon op die
motorfiets se naam mag nog nie bekend gemaak word nie omdat al
sy familie nog nie in kennis gestel is nie. Die trokbestuurder
verskyn vandag in die Witbank se hof.
Familie tuis helder oor dag beroof
‘n Witbankse
familie het gisteraand omstreek half nege ‘n noue ontkoming
gehad toe vier verdagtes by hulle hek ingestorm het toe hulle by
die huis arriveer. Dimpho Nkosi, provinsiale polisie
kommunikasie beampte, het gesê hul tuinwerker, Adam Tuma, het na
die hek gehardloop om dit oop te maak toe die verdagtes hulle
met wapens oorval. Hulle wou geld hê en het ook gedryg om hul
sewe maande oue baba te skiet indien hulle nie samewerking gee
nie. Die verdagtes het hulle in hul huis in Sonneblomstraat
gedwing, hulle vasgebind en in ‘n slaapkamer aangehou.
Verskeie klere, selfone skoene, juweliersware en hul silwer Audi
Q 7 is in die voorval gesteel. Die items se waarde beloop
ongeveer een-komma-twee-miljoen rand. Niemand is in die voorval
beseer nie en die ondersoek duur nog voort om die verdagtes vas
te trek.
"Verkeersbeamptes"
kaap Delmas inwoner
20 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
‘n Man van Delmas
is gister van sy drie-honderd-duisend rand se silwer Toyota
mini-bus gekaap. Thulani Mabila het met sy mini-bus, met
nommerplaat: DPM 038 MP na Pretoria gery toe hy by ‘n
aansluitingspad net buite Delmas gekaap is. Dit wil voorkom of
twee verdagtes, wat hulle as verkeersbeamptes voorgedoen het, by
die aansluitingspad gewag het. Hulle het Thulani van die pad
afgetrek, hom vasgebind en agter in die minibus gegooi. ‘n Wit
Mazda het hulle ingewag nadat die verdagtes terug in die rigting
van Delmas gery het. Thulani is by ‘n mieliemeel plaas net buite
Delmas afgelaai en die verdagtes het met sy voertuig gevlug.
Volgens die provinsiale polisie kommunikasiebeamte, Dimpho Nkosi,
is die polisie nie seker of die voorval met ander soortgelyke
voorvalle, wat in die afgelope maand buite Middelburg
plaasgevind het, verband hou nie. Radio Laeveld het in die maand
ook berig gegee van ‘n trok, ‘n skoolbus en ‘n bakkie wat op
soortgelyke gevalle gekaap is. Die ondersoek duur nog voort.
Heroïenfonds
by grenspos gevind
Sewe sakke met
heroïen is gisteraand by die Lebombo-grens naby Komatipoort
gekry toe twee verdagtes dit deur die grenspos wou smokkel. Dit
wil voorkom of hulle onderweg was na Johannesburg. Supt. Arrie
de Beer van die provinsiale misdaadvoorkomingseenheid het in ‘n
onderhoud meer oor die voorval vertel.
Nog ‘n kaping het
gister in Kabokweni net buite Nelspruit plaasgevind toe ‘n
slagoffer, Thomas Khosa, se wit Toyota bakkie, met nommerplaat
DRP 724 MP , gesteel is. Volgens ‘n provinsiale
kommunikasiebeampte van die polisie, Dimpho Nkosi, het vier
verdagtes op hom toegesak net toe hy uit sy bakkie klim. Hulle
het hom klaarblyklik na die naaste bosse geneem, hom vasgebind
en altesaam vier skote afgevuur. Hy is egter nie in die voorval
beseer nie. Geen verdagtes is nog gearresteer nie en die saak
duur steeds voort.
‘n Huisbraak het
gisteraand omstreeks half nege in Nelsville, Nelspruit,
plaasgevind. Twee skootrekenaars, ‘n selfoon en items ter waarde
van dertien-duisend–sewe-honderd-rand is in die voorval gesteel.
Thando Bhila en sy ma Searane, het televisie gekyk vanwaar twee
verdagtes die huis – wat nie gesluit was nie - betree het. Hulle
het reguit na ‘n kamer waar ‘n ander inwoner op die bed gelê
het, gegaan en die slagoffer aangerand. Hulle het hom met ‘n
vuurwapen aangehou terwyl hulle die besittings gesteel het. Geen
arrestasies is nog gemaak nie en die saak duur steeds voort.
Nog ‘n graf is sedert verlede naweek by Kaapsche
Hoop oopgegrawe.
Nog ‘n graf wat by
Kaapsche Hoop oopgegrawe is, is sedert verlede naweek
gerapporteer. Nege grafte is sedert paasnaweek in April in die
toeriste dorpie oopgegrawe. Dit wil voorkom of die voorval
internasionaal bekend gemaak gaan word omdat die voorval in die
ou Italiaanse begrafplaas plaasgevind het. Die persoon wie se
graf oopgegrawe is - Petrus Faber- is in 1936 daar begrawe. Dit
wil voorkom of die verdagtes deur ‘n granietblad van ongeveer 30
cm gegrawe het. ‘n Forensiese span vanaf Gauteng is ook ingeroep
om die saak deeglik te ondersoek. Die polisie gaan klaarblyklik
‘n beloning uitdien met enige persoon wat met inligting vorendag
kom. ‘n Volledige onderhoud word vandag tydens Dagblad, die
Koerant vir jou Ore, met Reinette van Niekerk gehou waar sy meer
oor die voorval gaan uitbrei.
’n Saak van poging tot moord nadat
motorwerktuigkundige nie voertuig herstel het nie.
‘n Man van Ermelo
het gister omstreeks 10 uur só kwaad geword vir Berker
Terblanche, ‘n motorwerktuigkundige, dat hy hom in die
linkerskouer geskiet het. Berker se vrou, Berverly het in ‘n
verklaring gesê die man het so kwaad vir Berker geword ,dat hy
op hom geskreeu het, ‘n pistool uitgepluk het en haar man
geskiet het. Dit wil voorkom of Berker glad nie die verdagte se
voertuig reggemaak het nie maar Berker het skynbaar betaling vir
die voertuig gesoek. Berker is na die Ermelo se staatshospitaal
geneem waar hy tans in ‘n bestendige toestand is. Die verdagte
is gearresteer en verskyn vandag in die hof op Ermelo op aanklag
van poging tot moord.
Burgemeesters vergader in Piet Retief
‘n Burgemeester
Indaba word Saterdag by die Ethandu-tu-kán-ya munisipaliteit in
Piet Retief gehou waar verskeie LUR’e en regeringsamptenare van
regoor die provinsie die dag gaan bywoon. Volgens die
provinsiale kommunikasie beampte van die polisie, Dimpho Nkosi,
gaan verskeie sprekers toesprake oor krisis- en rampbestuur hou
en ‘n verwagte 30 busse vol toeskouers van die hele Gert Sibande
streek word verwag.
Mpumalanga Skietkampioenskap
19 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die Mpumalanga skietkampioenskap wat die afgelope naweek in
Nelspruit plaasgevind het, het 104 skuts van regoor die
provinsie bymekaar gebring. Volgens die skakelbeampte van die
skool, Magda van der Merwe, het Jacques le Roux en Rudolf
Treurnicht onderskeidelik agtste en sestiende in die senior
sporter afdeling gekom. Wat die junior sporter afdeling betref,
het Werner Odendaal, Chris Roets en Jacques Smeda eerste, agste
en negende gekom. Marisa Golding het naam hoog gehou in die
junior beginners afdeling ná sy ‘n goue medalje gewen het.
Duncan McGee was tweede en Kelly Hammond derde in dieselfde
kategorie.
Foto: VERSKAF -Werner Odendaal is die nommer een skut in
die provinsie wat die Junior Sporterklas betref.
‘n Aanklag van moord teen die veertig-jarige
Adelaide Hlongwane, is tot 10 November uitgestel.
‘n Aanklag van
moord is teen Adelaide Hlongwane en Abdul Khandazi geopen nadat
sy erken het dat sy sewe sluipmoordenaars van Tafelkop, naby
Groblersdal, gehuur het om haar man, Solomon Hlongwane te
vermoor. Adelaide het egter gister in die hof erken dat dit die
tweede poging tot moord op haar man was. Die eerste moordpoging,
waar die verdagte R5 000 beloof is, het nie plaasgevind nie.
Adelaide het egter in ‘n tweede poging, die sewe
sluipmoordenaars R45 000 beloof en die moord het in Desember
2007 plaasgevind. Adelaide, Abdul en Abraham Shongwe, Samuel
Madimetsa, Tebogo Mohoba en Rammy Mohlala is reeds gearresteer
en het skuld op die moord erken. Twee gesteelde vuurwapens, ‘n
9mm pistol en ‘n R4-geweer is ook tydens die arrestasies
opgespoor. Thabang Makobane is in Januarie gearresteer en die
laaste verdagte, Sparks Makola is verlede jaar Desember in ‘n
motorongeluk oorlede. Die saak is uitgestel tot 10 November.
Meer vervalste as wettige lisensies in Mpumalanga.
Die Provinsiale
Polisie se kommersiële eenheidstak waarsku alle mense in
Mpuamalanga met onwettige bestuurders-lisensies om na vore te
kom. Volgens kapt. Leonard Hlati, woordvoervoerder van die tak,
sal die persone wat na vore kom, van vervolging vrygestel word.
Hy het verder gesê die polisie het wel rekords in hulle besit
van persone met onwettige lisensies. In die polisie se ondersoek
het dit voorgekom dat meer mense aansoek om onwettige
bestuurders-lisensies doen. Volgens Hlati word amptenare in die
verskeie munisipaliteite in ‘n ernstige lig gewaarsku word om
nié soortgelyke gevalle betrokke te raak nie. Hierdie
waarskuwing word uitgestuur nadat twee lisensie eksaminators,
Bruce John Nel en André Leon van Zyl vir bedrog aangekla is en
gister op R2 000 borgtog vrygelaat is. Phenius Manzini van die
Manzini Bestuurskool in Lydenburg, is ook gearresteer.
Vier mans verkrag skoollier.
‘n 15-jarige meisie wat gister omstreeks half-drie ná skool vir
‘n saamrygeleentheid in Witbank gewag het, is deur vier
verdagtes opgelaai en telkemale verkrag. Volgens ‘n provinsiale
polisie kommunikasiebeampte, Dimpho Nkosi, het hulle haar in die
voertuig ingeforseer. Sy het klaarblyklik gister self die saak
by die polisie aangegee. Geen verdagtes is tot nog toe
gearresteer nie. Die slagoffer het wel mediese hulp en toetse
vir HIV en ander oordraagbare siektes ondergaan.
Noodberig: Voertuig spoedig teruggevind na berig op Radio
Laeveld.
18 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
‘n Rooi dubbelkajuit Hi-Lux bakkie is vanoggend in Nelspruit
gekaap, maar die voertuig is spoedig teruggevind. Radio Laeveld
het met Vernon Lancester, algemene bestuurder van Hi-Tech
Sekuriteit Nelspuit, op die program Dagblad oor die voorval
gesels.
Laat weet ons gerus sodra jy
in nood verkeer sodat ons die krag van 'n netwerk luisteraars
tot behoud van die gemeenskap kan gebruik. Kontak die ateljee by
013 7411 999.
Twee senior Thaba Chweu Munisipaliteit lisensie
eksaminators is Vrydag op aanklag van bedrog en korrupsie
gearresteer.
Twee verdagtes, ‘n
drie-en-veertig jarige en 44-jarige, se saak van bedrog en
korrupsie word tans ondersoek nadat hulle Vrydag gearresteer is
omdat hulle as twee senior Thaba Chweu munisipaliteit se
lisensie eksaminators bedrog en korrupsie in Lydenburg gepleeg
het. Volgens kapt. Leanord Hlati, woordvoerder van die polisie
se kommersiële tak, word die saak al sedert 2007 ondersoek. Hy
sê hulle het inligting ontvang dat die twee amptenare, in
samewerking met van die bestuur skole in Lydenburg, lisensies
ontwettige uitgee. Kliënte moes na bewering vyf-duisend-rand
betaal, maar hulle word nooit getoets nie. Hulle moes
klaarblyklik net vir die tyd wat die toets afgelê word, wag,
vanwaar hulle daarna hulle lisensie kon afhaal. Die 44-jarige
Phenius Manzini, eienaar van die Manzini bestuurskool in
Lydenburg, is ook Donderdag gearresteer op aanklag van bedrog.
Hy het reeds Vrydag in die hof verskyn, maar sy saak is tot môre
uitgestel. Die ander twee verdagtes van die Thaba Chweu
munisipaliteit, verskyn vandag in die hof.
Vier verdagtes gearresteer op aanklag van
brandstigting.
Twee van die vier
verdagtes is verlede week gearresteer nadat hulle onwettige
brande naby Nelspruit gestig het. Die vier-en-vyftig-jarige
Samaria Mazibuko en die nege-en-twintig-jarige Thembi Nkosi se
arrestasie het gevolg nadat Simeon Nkosi, vier-en-dertig, en
Joseph Nkambule, vier-en vyftig, onderskeidelik op 20 en 29
April die jaar gearresteer. Hullehet Vrydag op verskeie
aanklagte van brandstigting in die Barberton se magistraatshof
verskyn. Volgens Kapt. Leonard Hlati, woordvoerder van
georganiseerde misdaad, wil dit voorkom of die vier verdagtes
onder meer op 27 Januarie die jaar ‘n huis by Pienaar, net buite
Nelspruit afgebrand het. Hulle het Robert Tshikakole se huis se
venster gebreek, die huis met brandstof gesproei en dit aan
die brand gesteek. Die saak word uitgestel tot 27 Mei.
Twee van die vier verdagtes wat gister uit
Secunda se tronk ontsnap het, is nog op vrye voet.
Vier verdagtes,
wat gister uit Secunda se tronk ontsnap het, was net na nege-uur
gisteroggend in ‘n kaping by ‘n Shell vulstasie betrokke. Die
29-jarige Bafana Mlangeni, wat met sy Volkswagen gholf by die
vulstasie stilgehou het, is in die regterkantste skouer geskiet
met ‘n vuurwapen wat die verdagtes by die polisie in die tronk
gesteel het. Volgens ‘n kommunikasiebeampte van die provinsiale
polisiekantoor, Dimpho Nkosi, het die vier verdagtes die
polisiebeamptes oorrompel, ‘n vuurwapen gesteel en die beamptes
in die sel toegesluit toe hulle ontbyt gekry het. Nkosi het gesê
hulle het dadelik met die Gholf ontsnap, maar die polisie het
die voertuig net buite die dorp teruggevind en daarin geslaag om
twee verdagtes,Maxwell Skosana en Thomas Mdonsela, te arresteer.
Jeremia Nkombule en Kenneth Khumalu word steeds gesoek. Hulle
word nou aangekla vir diefstal, kaping, poging tot moord en
ontsnapping uit die tronk. Vir enige inligting rondom die twee
verdagtes wat nog op vrye voet is, bel die tolvrye nommer: 08600
10111.
Die twee lisensie beamptes van die Thaba Chweu
munisipaliteit is vandag op R2 000 borgtog elk vrygelaat.
Die twee lisensie
beamptes van die Thaba Chweu munisipaliteit wat vanoggend in die
Lydenburgse magistraat verskyn het op aanklag van bedrog en
korrupsie, is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat. Die 44-jarige
Bruce John Nel en die drie-en-veertig jarige André Leon van Zyl,
is Vrydag gearresteer omdat hulle in samerwerking met sommige
bestuurskole in Lydenburg, lisensies onwettig uitgee. Die saak
word al sedert 2007 ondersoek. Radio Laeveld het vanoggend berig
hoe kliënte klaarblyklik vyf-duisend-rand betaal, maar hulle
word nooit vir hulle lisensies getoets nie. Hulle moes na
bewering net vir die tyd wat die toets afgelê word, wag, vanwaar
hulle daarna hulle lisensie kon afhaal. Die 44-jarige Phenius
Manzini, eienaar van die Manzini bestuurskool in Lydenburg, is
ook Donderdag gearresteer op aanklag van bedrog. Hy het reeds
Vrydag in die hof verskyn. Manzini is tans onder polisiebewaking
en al drie die verdagtes verskyn môre weer in die hof.
Twee mans is gister buite Malelane gearresteer op
aanklag van gewapende roof.
15 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Twee verdagtes van
onderskeidelik twintig en twee-en-twintig is gister op aanklag
van gewapende besigheidsroof gearresteer toe hulle by Niewco
skrootwerf buite Malelane in Tonga amper twee duisend rand
gesteel het. Hulle het die man wat by die skrootwerf werk, met
‘n wapen aangehou en hom van al sy geld beroof. Hy het alarm
gemaak en binne minute het die polisie gereageer en die twee
mans gearresteer. Hulle is steeds onder polisie bewaking en gaan
heel moontlik vandag in die magistraathof in Malelane verskyn.
‘n Man is gister aangekeer nadat hy twee
15-jarige meisies verkrag het.
‘n 25-jarige man
verskyn vermoedelik vandag in die hof op aanklagte van
verkragting nadat hy twee 15-jarige meisies eergister in Bethal
verkag het. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, supt.
Aby Khoabane het die twee meisies winkel toe gestap vanwaar die
man hulle opgetel het. Hy het hulle na sy huis geneem en verbode
flieks aan hulle gewys. Hulle het volgens Khoabane ongemaklik
gevoel en gevra dat hy hulle huistoe neem. Die verdagte het sy
motor gesluit en hulle beide binne die voertuig verkrag. Die
meisies is vir mediese ondersoeke gestuur nadat hulle hom
uitgeken het.
Groot ongelukkigheid heers net buite Ogies in die
Hoëveld nadat inwoners van die Thola nedersetting al vir 14 jaar
sonder water sit.
Tientalle
Thola-inwoners net buite Ogies het gisteraand die adjunk
minister van binnelandse sake, Malisi Gigaba, se voertuig met
klippe gegooi toe sy hulle in die nedersetting gaan toespreek
het. Volgens supt. Arrie de Beer van die provinsiale
misdaadvoorkomings operasie, wil dit voorkom of hulle van die
Ehlanzeni munisipaliteit se raadslede verwag om afstand te doen
van hulle poste omdat hulle nie effektiewe dienslewering gee nie.
Groot ongelukkigheid heers omdat dié inwoners al vir 14 jaar
geen water in die nedersetting het nie. Die aggressie het egter
net vir ‘n rukkie geduur.
Witrivier kinders
blink uit.
Die Laerskool Witrivier kondig die week met trots die onder 12
en onder 13 lede wat die provinsiale rugbyspan gehaal het, aan.
Venessa Roets, die skakelbeampte van die skool, het gesê agt van
die o.12’s is in die finale Mpumalanga proewe se rugbyspan
opgeneem. Dit sluit Telvin Mhlongo, Fana Ngwenya, Heinrich
Neethling, Franco Concalves, Cyprian Nkomo, Jandré Venter,
Martin Mangwiro en Edward Shabango in. Die Witrivierspelers wat
vir die o.13 Mpumalanga rugbyspan gekies is, is Werner Neethling,
Sibosiso Mkhomezulu, Wiseman Mazibuko en Siphomandla Shongwe.
Cope verteenwoordiger moet bedank.
14 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die politiekeparty, Congress Of The People (Cope), se
verteenwoordiger in die wetgewer, Sizile Ndlovu, is gister deur
die party aangeraai om te bedank omdat die premierskandidaat,
Zali Madonsela, Ndlovu se plek gaan inneem. Ndlovu is net ‘n
week gelede as lid van die wetgewer ingehuldig nadat hy as Cope
se voorsitter en nommereen-kandidaat op die verkiesingslys
verkies was. Verwarring het glo ingetree oor wie van die twee
eintlik ingehuldig moes word. Dit wil ook voorkom of Ndlovu
klaarblyklik ook verkeerdelik as die nommereen kandidaat
aangewys is en Madonsela gaan vanaf volgende week die party se
nuwe wetgewerslid vir Cope word.
Nelspruit, en Primkop buite Witrivier, is twee
van die 22 plekke in die land wat die skoonste kraanwater het.
Daar is net 22 van
die twee-honderd-vier-en-tagtig owerhede in die hele Suid-Afrika
wie se kraanwater van die skoonste is. Nelspruit en Primkop, net
buite Witrivier, is twee van die 22 plekke wie se inwoners met
vrymoedigheid water uit krane kan drink. Die Minister van
Waterwese en Omgewingsake, Buyelwa Sonjica, het dié presteerders
vroeër die week met ‘n sogenaamde “blou druppel” vereer vir hul
watergehalte, bestuur van drinkwater en die instandhouding van
aanlegte. Die bloudruppelstatus word beskryf as die
munisipaliteite en waterowerhede wat aan 95 % van die vereiste
standaarde vir die bestuur van drinkwatergehalte soos
voorgeskryf, voldoen. Daar is ook Blou Druppel Verslag vir 2009
bekendgestel waarin die regering ferm sal optree teen plaaslike
owerhede en waterrade wat nie aan die drinkwaterstandaarde
voldoen nie. Dit kan ook strafregtelik van aard wees.
’n Vrou se liggaam in Vosman net buite Witbank
gevind.
13 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die liggaam van ‘n
vrou is gister net buite Witbank in Vosman gevind nadat sy nie
eergister huis toe gekom het nie. Volgens die provinsiale
polisie woordvoerder, supt. Aby Khoabane, is haar lyk naby haar
huis gevind. Sy het klaarblyklik ernstige beserings aan haar
bors en hoof opgedoen. Haar familie het tydens polisie
ondervraging bekend gemaak dat sy in ‘n bakleiery met haar kêrel
was. Khoabane sê niemand is nog gearresteer nie en moontlike
verdagtes sal eers met verdere ondersoek ondervra word.
‘n Gewapende roof het vanmiddag by Planet Nails
plaasgevind.
Daar was vanmiddag
omstreeks 14:00 ‘n gewapende roof by Planet Nails in Nelspruit
waarin vyf verdagtes betrokke was. Volgens Vernon Lancester,
algemene bestuurder van Hi-Tech Nelspruit, het twee van die
verdagtes die winkel betree terwyl die winkelier na ‘n agterste
vertrek beweeg het. Hulle het haar persoonlike besittings sowel
as die geld in die kleinkas gesteel. Sy het die paniekknoppie
gedruk waarop Hi-Tech gereageer het. Hi-Tech Sekuriteit
Nelspruit het die bottelgroen Volkswagen Jetta met nommerplaat
VDN 229 GP, deur middel van hulle soeksisteem in KaNyamazane
opgetel. Dis nog nie seker of die verdagtes al vasgetrek is nie.
Polisie hou padblokkade wat suksesvolle resultate
lewer.
Die finale
uitslae van die padblokkade wat die plaaslike polisie, in
samewerking met Zimbabwe, Mosambiek, Swazliand en Lesotho by die
se tolhek op die N4 by Malelane te hou het, is bekend gemaak.
Radio Laeveld het in die een-uur nuus berig dat groot sukses met
die padblokkade bereik is. Volgens supt. Arrie de Beer van die
provinsiale misdaadvoorkomings operasie, het hulle gister reeds
met die padblokkade begin. Hy sê hulle het in totaal drie
gesteelde bakkies en een Yaris opgespoor asook drie sleepwaens
herwin. De Beer sê in totaal is 77 onwettige immigrante
gearresteer wat almal more in die hof gaan verskyn. Van die
onwettige immigrante is onder meer van Pakistan en Swaziland
afkomstig. Een van die verdagtes wat in die SARS diefstal in
Komatiepoort vroeër die week betrokke was, waar miljoene rande
se sigarette en ander items gesteel is, is ook gearresteer. Twee
persone wat dagga in hulle besit gehad het, is ook tydens die
padblokkade vasgetrek.
Die N4 buite Middelburg raak meer gevaarlik wat
kapings betref.
Nóg ‘n trok is gisteraand omstreeks elf-uur op
die N4 van sy wiele gekaap nadat twee verdagtes die trok van die
pad af gedwing het. Die wiele en selfoon beloop op ‘n beraamde
bedrag van een honderd duisend rand. Dit wil voorkom of nog twee
verdagtes in ‘n Mazda Sting net langs die pad weggekruip het.
Hulle het die die trokbestuurder vasgebind en hom met wapens in
die Mazda aangehou. Die polisie is van net twee ander verdagtes
bewus wat die agt wiele en die motoris se selfoon besteel het.
Hulle het blykbaar vir ‘n geruime tyd langs die snelweg
deurgebring en vermoedelik ‘n bakkie gekry om die wiele op te
laai en van die toneel te vlug. Die moontlikheid dat dit
dieselfde verdagtes is wat verlede week die trok en bus op
dieselfde pad gekaap het, word ondersoek. Die polisie waarsku
motoriste op daardie pad en raai hulle aan om nie langs die
snelweg te stop nie.
Polisie hou padblokkade wat
suksesvolle resultate lewer.
Die plaaslike polisie het in
samewerking met Zimbabwe, Mosambiek, Swazliand en Lesotho ‘n
operasie van stapel gestuur om ‘n padblokkade by Kaapmuiden se
tolhek op die N4 by Malelane te hou. Volgens supt. Arrie de Beer
van die provinsiale misdaadvoorkomings operasie, het hulle
gister reeds met die padblokkade begin en groot sukses bereik.
Hy sê hulle het vanaf vanoggend reeds drie gesteelde voertuie
en drie gesteelde sleepwaens herwin. Volgens de Beer is 58
onwettige immigrante van onder meer Pakistan en Swaziland ook
gearresteer. Hulle verskyn klaarblyklik more in die hof. Finale
terugvoering oor die polisie se suksesse met die padblokkade sal
tydens die 14:00 nuus bekend gemaak word.
En ons bring vir jou die sport uitslae van
Barberton en Bergvlam se sportdag.
Die Hoërskool Bergvlam se o.14 hokkiespan het naam hoog gehou
teen Barberton toe hulle met slegs nege spelers ‘n telling van
ses nul op die telbord kon kry. Barberton se o.15 en o.16 spanne
het egter met geesdrif teruggeveg en die Vlammies op hulle neuse
laat kyk toe hulle met vleuende vaandels gewen het. Die tweede
spanne het egter gelykop gespeel met Barberton se eerste span
wat ook naam hoog gehou het toe hulle die wedstryd gewen het.
Bergvlam se rugby het egter beter gevaar toe die o.14’s 49 – 0
gewen het. Blessing Nxomalo was as die man van die wedstryd
aangekondig. Ander drieë is onder meer deur Gerhard Botha,
Gerhard Lubbe en Sizwe Mashabane van Bergvlam gedruk en hulle
het regstreeks uitstekende verdediging getoon om te verhoed dat
Barberton punte op die telbord sit. Die o.15 Vlammies het 7 – 0
gewen, die tweede span 21 – 12 en die eerste span het in ‘n
naelbyt wedstryf 17 – 15 gewen. Reinhardt Kruger, Ryan Steyl en
Ruan Ritson van Bergvlam was die uitblinkers wat drieë gedruk
het.
’n 51-jarige man vanoggend in Shepardstraat in
Nelspruit in sy woonstel vermoor.
8 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
‘n 51-jarige man is vanoggend vermoor in sy woonstel in
Shepardstraat by Shepardpark in Nelspruit aangetref nadat die
man se bediende vermoedelik op hom afgekom het. Volgens die
Nelspruit se polisiewoordvoerder, Insp. Dawie Pretorius, is dit
nog nie seker hoe die man vermoor is nie. ‘n Forensiese span van
Middelburg is tans op die toneel om verdere ondersoek in te stel.
Daar is ook tans onbevestige berigte dat ‘n skootrekenaar en
voertuig ook vermis is. ‘n Volledige verslag word later vandag
deur die polisie vrygestel.
Polisiebeamptes arresteer twee verdagtes in verskillende
voorvalle nog voordat die diefstalle plaasgevind het.
Twee soortgelyke voorvalle het gister in Carolina en by
Chrissiemeer plaasgevind waar die polisie altesaam vier
verdagtes gearresteer het nog voordat die diefstalle plaasgevind
het. Twee verdagtes wou ‘n 50-jarige vrou van haar handsak
beroof toe twee polisiebeamptes van Chrissiemeer wat
patrollie gedoen het, die verdagtes gewaar het en hulle
vasgetrek het. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder,
supt. Aby Khoabane, is die een 25-jarige verdagte in die
linkerbeen geskiet en is tans onder polisiebewaking by die
Ermelo se staatshospitaal. Die ander verdagte is ook gearresteer.
In Carolina het drie verdagtes ook ‘n vrou van haar handsak
probeer beroof toe die polisie spoedig op die toneel verskyn
het. Die een verdagte is in die been geskiet en ‘n ander een is
gearresteer. Een van die verdagtes het van die toneel gevlug en
is nog op vrye voet. Niemand het nog in die hof verskyn nie.
Twee mans verskyn in die Evander hof op aanklagte van moord op
‘n 19-jarige sekuriteitswag.
7
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Twee sekuriteitswagte verskyn vandag in die Evander se hof op
aanklagte van moord nadat hulle ‘n 19-jarige kollega vroeër die
week twee keer in die rug en een keer in die maag geskiet het.
Dis nog nie seker hoekom die moord gepleeg is nie. Hulle het die
lyk in bosse tussen Evander en Embulenhle gegooi en met ‘n
Mahindra bakkie na Kwazoeloe-Natal gevlug. Die sekuriteitswagte,
wie se name nog nie bekend gemaak kan word nie omdat hulle nog
vandag in die hof moet verskyn, het in ‘n oop area na teikens
geskiet en ‘n lawaai afgegee. Volgens die provinsiale polisie
woordvoerder, supt Aby Khoabane, het die een wag die ander
geleer skiet toe inwoners die polisie in kennis gestel het van
geweerskote in die omgewing. Hulle is in hegtenis geneem nadat
die polisie ook bloed in die bakkie en aan hulle klere gekry
het. Hulle het hul samewerking getoon om die liggaam uit te wys.
‘n Moontlike kapingsindikaat is bedrywing op die
N4 naby Middelburg.
Die polisie ondersoek tans die moontlikheid vir ‘n kaping
sindikaat op die N4 by Middelburg nadat ‘n skoolbus
Dinsdagmiddag omstreek twintig-voor-vyf op die Arnot pad gekaap
is.Radio Laeveld het vroeër die week berig hoe ‘n trok ook deur
vyf verdagtes op die N4 gekaap is. Volgens die provinsiale
woordvoerder van die polisie, supt. Aby Khoabane, het drie
verdagtes die skoolbus, met geen kinders in, gekaap, die
busbestuurder na die naaste bosse geneem, hom uitgetrek en
vasgebind. Hulle het dadelik met die skoolbus gevlug. Die bus,
met sy nommerplaat CTD 268 MP, word steeds versoek. Die
busbestuurder, wie nie sy naam bekend wou maak nie, het
ongedeerd daarvan afgekom. Die polisie vra samewerking om die
sindikaat vas te trek en die gesteelde trok en bus terug te vind.
Bergvlam redenaars presteer.
6
Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die
Hoërskool Bergvlam se redenaars het uitstekend gevaar in die
semi-finale rondte wat in Witbank plaasgevind het. Charlotte van
Rooyen, Janie van der Merwe, Anri de Lange, Mizan van der Merwe,
Georgia Periglieus, Bernice Serfontein en Hendo Jordaan het
almal deurgedring na die finale rondte van die
redenaarskompetisie wat in Oktober in Pretoria gaan plaasvind.
Volgens die skakelbempte van die skool, Magda van der Merwe, het
die skool sterk redenaars wat altyd goed vaar in die Radikale
Renenaarskompetisie wat jaarliks aangebied word.
Foto: Renenaars: Die presteerders van die semi
finale rondte vir redenaars is van links voor: Jani van der
Merwe, Mizan van der Merwe, Bernice Serfontein, Charlotte van
Rooyen, Hendo Jordaan, Georgia Periglieus en Anri de Lange.
Vier verdagtes het lugtyd ter waarde van R5 700 uit ‘n kafee in
Shoemansdal gesteel.
Vier verdagtes het gister omstreeks 14:00 die 26-jarige Amal
Savuk met vuurwapens in sy broer se winkel aangehou. Volgens ‘n
provinsiale polisiewoordvoerder, supt. Aby Khoabane, het een van
die vier verdagtes tot agter die toonbank geloop, ‘n vuurwapen
teen Savuk se hoof gehou en selfoonlugtyd ter waardevan R5 700
gesteel. Die ander vier verdagtes het die perseel opgepas. Hulle
het niks anders gesteel nie en dadelik van die toneel gevlug.
Khoabane sê dit was moeilik om die verdagtes vas te trek en
niemand is in die voorval gearresteer nie. ‘n Saak van gewapende
roof word tans ondersoek.
‘n 59-jarige vrou is net buite Nelspruit vanuit haar stilstaande
voertuig beroof.
‘n 59-jarige vrou van Nelspruit, S.L van der Merwe, het met haar
wit Toyota bakkie op die Uitkykpad gery toe sy ‘n pap wiel oppad
huistoe gekry het. ‘n Verdagte met ‘n vuurwapen het haar
aangehou en haar handsak, wat langs haar in die bakkie gelê,
gesteel en weggehardloop. Sy het geen beserings in die voorval
opgedoen nie en ‘n saak van gewapende roof is geopen. Die
verdagte is nie gearresteer nie en die saak duur steeds voort.
Vyf verdagtes wat betrokke is by ‘n kaping-sindikaat is steeds
op vrye voet.
‘n 30-jarige man van Swaziland, Sibosiso Mweli, is op die N4
naby Middelburg gekaap nadat twee verdagtes, wat hulle as
verkeersbeamptes voorgedoen het, hom van die pad naby
Wonderfontein afgetrek het. Mweli, wat in ‘n wit Nissan trok met
‘n sleepwa gery het, is deur die verdagtes afgetrek en het die
verkeersbeamptes hom beveel om twee mans en ‘n vrou ‘n
saamrygeleentheid te gee. Volgens Supt. Aby Khoabane,
provinsiale woordvoerder van die polisie, het Mweli ingestem
omdat hy vreemd in die land is. Die vrou het ‘n wapen by haar
gehad, hom geblinddoek en agter in die trok gelaai. Hulle het in
die rigting van Hendrina gery voordat hulle Mweli langs die pad
afgelaai het en van die toneel gevlug het. Die polisie vra vir
samewerking in die verband. Khoabane het gesê dis ‘n groot
prioriteit om die vyf verdagtes vas te trek.
Bergvlam Ope Skaaktoernooi
4 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Die
afgelope Saterdag het 191 skaakspelers en dertig beamptes van
regoor die provinsie aan die Bergvlam Ope Skaaktoernooi
deelgeneem wat in ‘n A, B en C formaat geskied het. Volgens
Magda van der Merwe, skakelbeampte van die skool, het die A-kategorie
deelnemers al voorheen Laeveldkleure verwerf en is hulle in, of
voor 1995 gebore. Die B-kategorie het spelers ingesluit wat in
of ná 1996 gebore is en ook al Laeveld-kleure verwerf het en die
C-kategorie was beginners wat na 1999 gebore is maar nog nie
Laeveld-kleure verwerf het nie. Bergvlam se Danie Snyman het ‘n
26ste plek behaal en Michal Izeboud was 33ste. Francois de
Jager was 49ste van die 97 inskrywings.
Die A-afdeling wenners was:
1. JM Bezuidenhout 6.0
2. SB Zitha 5.5
3. M. Craig 5.0
B Afdeling se wenners was:
1. M Hansen 6.0
2. MPH Mashego 5.0
3. A Ngwenya 5.0
C Afdeling wenners:
1. K Kliengbiel 5.5
2. IPW Pohl 5.0
3. M van Tonder 4.5
Skaak1.jpg: Francois de Jager van Bergvlam
konsentreer voor hy sy volgende skuif maak.Skaak2.jgp: Michal
Izeboud van die Hoërskool Bergvlam in aksie.
Drie Hoërskool Bergvlam onderwysers word in die
Ehlanzeni-streek vereer.
4 Mei 2009 - Naranda Leeuwner
Drie
van die Hoërskool Bergvlam se onderwysers is die week vereer
tydens die department van Onderwys se prysuitdelingsfunksie.
Liandra Prinsloo het die toekenning vir die beste uitslae vir
visuele kuns vir gr 12-leerlinge in die Ehlanzeni-streek ontvang.
Karen Brits was die onderwyser wat die beste uitslae vir
gasvryheidstudies vir gr.12’s ontvang het en Marina Swart is ‘n
gr12-onderwyser wat ‘n toekenning vir toerisme gekry het.
Foto:
van links Liandra Prinsloo, Karen Brits en Marina
Swart.
Sindikaat-verdagte vasgetrek deur
inwoners
‘n Verdagte wat moonlik betrokke in
‘n diefstal sindikaat is, is vanoggend vasgetrek nadat gesteelde
goedere by die Shandon Estate op die Uitkykpad, Nelspruit gevind
is. Volgens Marlise Burger, operasionele bestuurder van
Hi-Tech Wagte, het hulle ‘n oproep van die bestuurder van
Shandon, Ben Lamprecht gekry, nadat ‘n wag ‘n verdagte teen die
draad sien staan het. Die wag het klomp goedere duskant die
draad sien lê en ondersoek ingestel. ‘n Plasma televisie, ‘n
staan horlosie, verskeie DVD-spelers en DSTV masjiene, klere en
kombuisware is in die gras gevind. Die verdagte is in hegtenis
geneem en is tans in aanhouding om sy makkers vas te trek.
Radio Laeveld het ‘n onderhoud met
Ben Lamprecht, bestuurder van Shandon Estate, tydens Dagblad
gehad, waarin hy meer oor die voorval vertel.
Dankie Vir Jou Deelname!
Dis met waardering dat ons kan terugsit en luister waarna elke
luisteraar van Radio Laeveld graag (of soms nie!) wil luister en
wat ons kan doen om dit wat jy wil hoor, aan te bied!
Met die aanbreek van ons eerste
Marknavorsing & Meningopname, regstreekse uitsending
op 19 Maart '09, is almal dit eens dat daar 'n groot 'OOR' vir
gereelde luister nodig is. Desnietenstaande, was dit 'n aand vol
pret en plesier, 'n ervaring van gereelde luisteraars wat die
gesigte agter die stemme kon ontmoet (en sommer dadelik vir
daardie persoon kon vertel hoe hy oor daai program voel), 'n
ervaring van programaanbieders om te luister in plaas van te
praat, en 'n ervaring om die "Potjiejol" te meng tot 'n reënboog
van geure en smake!
Jy het gepraat! - Ons het geluister!
Dit is weereens duidelik bevestig dat ons hoofsaakik radio
luister vir drie redes (ook in volgorde) 1. Plaaslike
Inligting, 2. Musiek & 3. Vermaak.
Ons Sondag programsamestelling het gebalanseerde reaksie
ontlok, met hoofsaaklik kommentaar oor musiekkeuse.
Die twee belangrikste fokuspunte vir programinhoud is
gesentreer rondom plaaslike en Christelike programinhoud.
Musiekkeuses het hoofsaaklik uit die 1960-1980 era gekom en
heelwat versoeke vir meer geestelike, gospel en
godsdienstige musiek (nie net gedurende gewyde programering
nie).
Klassieke musiek- en jeugprogramme het gemengde gevoelens
ontlok met hoofsaaklik die groepe daarvoor en daarteen.
Boeremusiek is, en bly steeds gewild, veral onder aanbieders.
Luisteraars keuse dui aan dat dit as vanselfsprekend aanvaar
word.
Die belangrikheid van taal, kultuur en geskiedenis is
weereens bevestig.
Daar was heelwat interessante versoeke met nuwe program-idees en
soms sterk opinies oor musiekkeuse en program-inhoud, soos die
verhouding tussen die hoeveelheid gesels en musiek.
Een ding is seker: Dat deelnemende luisteraars passievol oor
Radio Laeveld voel en 'n ernstige bydrae wil lewer tot die
suksesvolle voortbestaan van die Gemeenskap Radiostasie.
Met
besoekers op ons webwerf, kan jy ook die
blootstelling geniet deur hier te adverteer.
Kontak ons bemarkers by
admin@radiolaeveld.co.za
Ons kompetisie - KopSkrop - Bly
ingeskakel op Radio Laeveld vir lekker groot
kontantpryse wat gewen kan word - Maandag tot Vrydag -
Elke week !