Lys van Adverteerders en Borge              
 
 


Luister regstreeks na ons uitsending op die Internet. Kliek op die radio om die stroom te aktiveer

 

 

 

Radio Laeveld Forum

100.5% Leesgenot

100.5% Klub Skatkis

Radio Laeveld Kinderfonds

Op Eie Werf Fonds

Meningsopname

Kies Jou Speellys

Naweekspyskaart Resepte

Argief

Julie 2009

Junie 2009

Mei 2009

April 2009

Radio Laeveld 100.5 FM Stereo

Baie welkom by Radio Laeveld, 'n gemeenskaps radiostasie wat vir die eerste keer op 31 Mei 2003 begin uitsaai het. Dit is ook die doel van die stasie om die gemeenskap se betrokkenheid in die Laeveld aan te moedig. Die stasie maak 'n bestaan deur donasies, borge, advertensies en luisteraars wat as lede 'n bydrae tot die stasie se inkomste lewer.

Radio Laeveld saai uit op 100.5Mhz FM en bereik die meeste dorpe in die Mpumalanga Laeveld streek. Daar word voortdurend gepoog om die sein te verbeter en te versterk in sodoende die bergagtige topografie van die Laeveld te omseil en dan ook vir die luisteraars 'n beter ontvangs te verseker.

Radio Laeveld gebruik ook die Internet as 'n middel om uit te saai. Jy kan dus van enige plek in die wêreld na ons luister en selfs deelneem aan ons programme. Stuur gerus 'n epos aan ons as jy vir jou vriende of familie wil "hallo" sê.

 

Ons besoekers staan tans op :

 

 

 

 

Ons Ateljee Telefoon nommer :

013-74-11-999

Ons Ateljee SMS nommer :

084-MY-RADIO

(084-69-72346)

 Skype: Chat with me  

(Messenger: rlateljee@hotmail.com)

Kies jou musiek !

Kliek hier om die lys van liedjies deur te sien of maak jou eie keuse vir plasing op ons speellys. Vul gerus ook ons meningopname wat kwartaaliks opgedateer word, in. Ons luister graag na jou voorstelle en speel graag die musiek wat jy wil hoor.

Jou naam
Jou Epos
Jou Boodskap

      

Munisipale eis moontlik vrou se lewe

Roelf Van Jaarsveld 28 Julie

n Vrou is gister tydens ‘n protesoptog deur stakende munisipale werkers in Nelspruit se sentrale sakedistrik deur ‘n vragmotor doodgery.Volgens berigte het die ongeluk glo gebeur toe die vrou probeer wegkom het toe stakers rommel na haar gegooi het.Die polisie se kaptein Charles Bezuidenhout sê die vragmotor het agteruitgery toe die vrou getref is.

In Nelspruit loop gemoedere onder besighede hoog. Talle sakemanne beskou die feit dat die elektrisiteitvoorsiening deur die stakers beheer word, as “ekonomiese sabotasie”. Boonop staan die polisie volgens hulle apaties teenoor die stakers - wat daarop dui dat SA vinnig op pad is na nog ‘n Zimbabwe. Een sakeman wou weet waarom die weermag nie ingeroep word nie aangesien dit volgens hom ‘n nasionale krisis is. Duisende rande word blykbaar verloor en die strukture wat veronderstel is om die gemeenskap te dien, is niks werd nie.

In Nelspruit en Witrivier is groot dele van die sakesentrums tans sonder krag. Meeste van die woongebiede het wel elektrisiteit. Onbevestigde berigte lui dat stakende munisipale werkers verhoed dat krag weer aangeskakel word. As gevolg van die kragonderbrekings is baie besighede se telefone ook buite werking. Besterstraat in Nelspruit, is volgens berigte, bestrooi met vullis uit omgekeerde vullishouers. Motoriste word aangeraai om die middedorp te vermy. 

Dit is ook onduidelik of die R40 met die oog op die vebreeding van die pad, nog van middernag vanaand ‘n enkelbaan oor die Krokodilrivierbrug naby die skougronde gaan word. Die bestuur van die Riverside Mall het verlede week bevestig dat alle parkering vanaf more tot Vrydag gratis sal wees, om kopers die geleentheid te bied om kommervry besigheid te doen.

Motor na poging tot sluipmoord gevind

Roelf Van Jaarsveld 27 Julie

Beeld berig dat die groen Hyundai Tucson wat gebruik is as wegkomvoertuig in die mislukte sluipmoordaanval op supt. Obed Ngwenya, provinsiale bevelvoerder van die Mpumalanga-polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad (GM), opgespoor is. Die uitgebrande wrak van die voertuig is Vrydagaand in Wakefield, naby Witbank, gekry. Supt. Ngwenya is by sy huis in die Eastdene-woonbuurt, buite Middelburg, drie keer getref met ’n R5-geweer en 9 mm-pistool. Ngwenya is intussen uit die hospitaal ontslaan en onder streng polisiebewaking. Kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê hulle ondersoek die moontlikheid dat GM-lede Ngwenya probeer doodmaak het. Hy is lid van die bestuurspan wat besluit het om die provinsiale GM-tak te herskik.

Goeie nuus vir Laeveld motoriste

Goeie nuus vir motoriste is dat die R40 volgende week nie algeheel gesluit sal wees nie.
Volgens ‘n woordvoerder van die Mbombela munisipaliteit, Josef Ngala, sal een van die dubbelbane volgende week oop bly, wat die verkeersdruk by die skougronde effens sal verlig. Dit sal egter ‘n enkelbaan in albei rigtings wees.
Motoriste word daarop gewys dat die roete via Gamagugu en die Landboukollege nog steeds die vinnigste sal wees vir diegene wat in noodgevalle so gou moontlik by hulle eindbestemmings moet kom. Die verkeersafdeling vra dat die publiek asseblief geduldig sal wees en hulle reise liefs vroegtydig beplan.
 

Betogers in hof na staking
Negentig mense sal vandag op aanklagte van openbare geweld in die Balfour-landdroshof in Mpumalanga verskyn. Dit ná die gewelddadige betogings van die afgelope paar dae deur inwoners van die Siyathemba-woongebied oor swak dienslewering.Kaptein Leonard Hlathi sê die polisie hou nog die situasie dop.

Xenfobie vlam moontlik weer plaaslik op

Roelf Van Jaarsveld 24 Julie

Sowat 30 buitelanders het uit vrees vir hulle lewe by die Balfour-polisiestasie skuiling gaan soek. Die polisie se superintendent Leonard Hlathi sê die groep is sedert Woensdag by die polisiestasie. Hy sê inwoners van die Siyathemba-woonbuurt  het op ‘n plundertog gegaan en die  buitelanders met klippe gegooi. Die inwoners, wat teen swak dienslewering betoog het, het ook winkels geplunder en buitebande op paaie aan die brand gesteek.

Argeoloë sak weer op wildtuin toe

 

Van 2 - 15 Augustus 2009 vind die volgende argeologiese navorsingsekskursie na een van die buiteposte van die Steinaecker’s Horse eenheid in die Nasionale Krugerwildtuin plaas. Die projek is reeds 12 jaar aan die gang en opgrawings sal hierdie jaar by die Sabibrug pos, net buite Skukuza, uitgevoer word. Die projek staan onder leiding van die bekende historiese argeoloog, Dr. Anton van Vollenhoven. Dagblad-aanbieders Roelf van Jaarsveld en Bokkie Taute gesels met Dr. Anton.

Kliek gerus hier om na die gesprek te luister!

Bekende Lodge op in vlamme

Roelf Van Jaarsveld 23 Julie

Die personeel van die bekende Bushveld Lodge op die Kaapse Hooppad, het benoude oomblike beleef toe ‘n veldbrand vanmiddag oor die teerpad gespring en een van die gastehuise afgebrand het. Brandweerwaens en ‘n helikopter is ingespan om te help om die vuur te blus. Gelukkig is niemand tydens die voorval beseer nie. Die voorval is net weereens ‘n waarskuwing dat die brandseisoen op hande is en Laevelders word daaraan herinner om nie ongemagtigde vure of voorbrande tydens sterk wind te maak nie. Vir bystand tydens veldbrande of met die beplannimng van voorbrande kontak 0860 NO FIRE.

Bergvlam Revue weer hier!

Hoërskool Bergvlam se revue Tiener Tempo word vanaf 27 Julie tot 31 Julie  in die stadsteater opgevoer.  Dié  puik produksie is ‘n sang- en danservaring oor die lewe van tieners.  Dit word aangebied onder leiding van die bekwame mev. Elza Vorster en choreograaf Tolly Nel.  Plekbesprekings kan reeds vanaf Maandag 22 Junie by die finansiële kantoor tydens kantoorure gedoen word.  Die tye is as volg:  Maandag 27 Julie 14:30 Middagvertoning vir bejaardes, Dinsdag 28 Julie 13:30 Middagvertoning vir gr.7’s en ‘n aandvertoning vir Bergvlamleerders om 19:00 @ R30.00 per leerling. Woensdag 29 Julie en Donderdag 30 Julie 19:00 vir die publiek @ R50.00 per persoon. Vrydag 31 Julie 18:00  Gala-aand teen R100.00 per persoon wat ‘n vingerete insluit. Navrae by die skool 013- 7411025/6. 

Ondersoek geloods na betogings

’n Departementele taakspan gaan ondersoek instel na die onlangse gewelddadige betogings teen gebrekkige munisipale dienslewering in Mpumalanga en Noordwes. Die ondersoek is deur die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake,  Sicelo Shiceka, gelas. Die taakspan gaan probeer vasstel waarom inwoners tot protes-optrede oorgaan terwyl daar geld vir noodsaaklike dienste beskikbaar is.

Twintig inwoners van die Siyathemba woonbuurt by Balfour wat uit protes teen swak dienslewering by openbare geweld betrokke was, is met ‘n waarskuwing vrygelaat. Die inwoners is gearresteer nadat hulle gistermiddag  paaie met brandende bande versper en die burgemeester se kar onder die klippe gesteek het nadat hy hulle toegespreek het.

Die saak teen die twintig inwoners is tot more toe uitgestel.

Hernieude geweld het intussen op Siyathemba uitgebreek  en ‘n spesiale polisie taakspan moes daarheen gestuur  word. Die polisie het rubberkoeëls op die betogers afgevuur nadat hulle polisievoertuie met klippe bestook het. Die betogers het ook die huis van die burgemeester in die woonbuurt geplunder.

Bedrieglike bruidegom in hof

’n Nigeriër wat daarvan aangekla word dat hy op bedrieglike wyse met twee Suid-Afrikaanse vroue getroud en in besit van verskeie Suid-Afrikaanse paspoorte is, sal Maandag aansoek om borgtog in die Witbank landdroshof doen. Die 40-jarige Ogomezie Jude is op 25 Junie gearresteer nadat twee vroue tot hul skok by binnelandse sake vasgestel het dat hulle met hom getroud is ofskoon hulle hom nog nooi gesien het nie. Jude is glo ook in besit van nege vervalste id-boekies gevind.

Corridor Nuus

Die inwoners van Marlothpark is behoorlik ontstoke oor die slegte toestand van hul paaie. Die grondpaaie wat hierheen lei is weke gelede geskaap en daagliks word voertuie en bande beskadig. Volgens Nkomazi Munisipaliteit, is dié paaie die verantwoordelikheid van die provinsiale regering. Die plaaslike munisipaliteit het na aanleiding van Corridor Gazette se navraag, wel die pad weer geskraap, maar verskeie navrae aan die regering was vrugteloos. Dit was duidelik dat niemand verantwoordelikheid wil neem vir die paaie nie en intussentyd ly die inwoners van Marlothpark daaronder.  

Daar is steeds geen uitsluitsel oor die ligging vir die Kruger Nasionale Wildtuin se nuwe beplande hotel nie. Inwoners van Leopard Creek staan die ontwikkeling tee, aangesien die voorkeur perseel, reg oorkant dié spogbuurt geidentifiseer is. Daar is egter reeds tenders uitgesit vir moontlike ontwikkelaars om aansoek te doen vir die projek.

Nkomazi se gemeenskappe het hul hande uitgestrek om hul medemens te help in ondersteuning van Nelson Mandela Dag verlede Saterdag. Veral Vigs-wesies het hulp ontvang in die vorm van komberse, klere en ander bruikbare items. Die Departement van Onderwys het Silindokuhle Spesiale Skool in Mangweni uitgesonder waar 190 gestremde kinders skoolgaan en in die koshuis woon. Gebreekte vensters en deure is vervang, die groente tuin en sportvelde het aandag ontvang en nuwe matrasse is ook vir die koshuis geskenk

Een verdagte dood na skietery by gesteelde voertuig

Roelf Van Jaarsveld 22 Julie

‘n 17-jarige Mosambieker is gister dood in ‘n skietery met die polisie op Louws Creek nadat hulle hom in verband met die besit van ‘n gesteelde voertuig wou arresteer. Netstar het die polisie in kennis gesteel toe hulle ‘n  Landrover wat op Hazyview gesteel is in Louws Creek opgespoor het. Die polisie het die gesteelde voertuig tot stilstand gedwing waarop die twee  motordiewe weggehardloop het. Een van hulle is doodgeskiet toe hy op die polisie begin skiet het maar die ander een het daarin geslaag om weg te kom en is nog soek.

Polisieman gewond na vermeende sluipmoord

Die bevelvoerder van die georganiseerde misdaadeenheid in Mpumalanga, superintendent Obed Ngwenya,  is vanoggend in 'n vermeende sluipmoord poging gewond. Die voorval het gebeur toe hy sy huis op Middelburg verlaat het. Ngwenya word vir skietwonde aan sy been en arm behandel. Die aanvallers het na die skietery van die toneel met ‘n Groen Hyundai Tucson met getinte vensters en ‘n rooi Toyota Corolla weggejaag. Die Corolla is later nie ver van Ngwenya se huis verlate gevind. Enige persoon met inligting moet onverwyld Kapt. Leonard Hlathi by 082 462 0804 kontak. 

Geweldadige betogers van Lydenburg in hof

Intussen net verskeie verdagtes vandag in Mpumalanga in die hof verskyn in verband met gewelddadige betogings twee weke gelede in Lydenburg waarin een persoon dood is. Die betogings was te wyte aan swak munisipale dienslewering.

Nog vervalsings verdagtes gearresteer

Roelf Van Jaarsveld 16 Julie

Die polisie het twee verdagtes op Ogies, naby Witbank, gearresteer wat vermoedelik betrokke is by die vervaardiging van vervalsde dokumente, veral matriek- en opleidingsertifikate. Die verdagtes het blykbaar R300 gevra vir elke vervalsde dokument. Rekenaars, drukkers en verskeie dokumente is deur die polisie gekonfiskeer. Volgens die polisie se kapt. Leonard Hlathi sal die verdagtes more in die Magistraatshof van Ogies verskyn.

Corridor Nuus (soos op Dagblad)

Die inwoners van Komatipoort moet deesdae neus in die lug loop aangesien verskeie dele in die dorp oorvloei is met riool wat opstoot in die dreine en in die strate uitvloei. Ten spyte van verskeie oproepe aan die munisipaliteit, is daar die afgelope maand nog nie veel gedoen om die probleem op te los nie. Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, Cyril Ripinga, het hulle al ses keer die pompe vervang maar vanwee die klipperige area waar hulle dit moet installeer, breek dit elke keer. Hy het bygevoeg dat hulle personeel hard aan die werk is om die probleem reg te stel.  

Dan is vier polisiemanne van die Nkomazi gebied beloon met ‘n sertifikaat wat deur die provinsiale kommissaris, Rex Machabi oorhandig is vir uitstekende dienslewering in hul veld van werk. Dié polisiemanne sluit in speur-inspekteur Louis Stander van Malalane wat vier huisrowers vasgetrek het wat die dorp geterroriseer het en gesteelde items en ‘n vuurwapen teruggevind. Van die Onderberg Hone-eenheid is Sersant JR van der Westhuizen gelukgewens nadat hy die afgelope jaar meer as R4mijoen se dwelms gekonfiskeer en 147 mense gearresteer het. Konstabel Phineas Mathabela het 826 verdagtes gearresteer en meer as R1,2 mijoen se gesteelde items teruggevind. Laastens het inspekteur Thomas Mabuza van Tonga verskeie moordenaars agter tralies gesit en uitstekende vonnisse in die hof verkry.  

n Jongman van Malalane het letterliksoos in die films” vir sy geliefde gevra om te trou. De Wet du Plessis het verlede week vir sy vriendin, Sindy Kotzé gevra om aan hom verloof te raak voor 300 gillende vroue wat Nu-Metro se ‘aand uit vir vroue-promosiebygewoon het om die nuwe film, The Proposal, te kyk. Voordat die film nog begin het, is Sindy vorentoe geroep aangesien sy glo ‘n prys gewen het, maar toe De Wet by die teater instap het sy besef wat aan die gang was. Hy het sy ewige liefde aan haar verklaar en haar daarna gevra om met hom te trou.

Komatipoort dwelmsmous saak uitgestel

Roelf Van Jaarsveld 15 Julie

Die formele borgaansoek van ’n 35-jarige man wat daarvan aangekla word dat hy 75-duisend Mandrax tablette uit Mosambiek na Suid-Afrika wou smokkel, is in die hof op Komatipoort tot 28 Julie uitgestel. Issufo Pirgy sal tot dan toe in polisie-aanhouding bly. Pirgy is op 25 Junie by die Lebombo grenspos gearresteer nadat die polisie op die Mandrax pille in ‘n vals kompartement van ‘n sleepwa afgekom het.

Lydenburg myn dalk weer oop

Die myngroep en edelmetaal-produsent, Aquarius Platinum, beoog  om sy Everest-myn naby Lydenburg te heropen, sewe maande nadat die sluiting daarvan tot groot  werks-verliese gelei het. Sowat tweeduisend mense het hulle werk einde verlede jaar verloor, toe die nuwe myn weens swaar reën en grondverskuiwings gesluit is. Die maatskappy sê dit sal sowat 10 maande neem om produksie te hervat.

Geweld vlam weer in Lydenburg op

Roelf Van Jaarsveld 13 Julie

Protesoptrede en geweld het weer gister in die Mashishing-woonbuurt buite Lydenburg opgevlam. Kaptein Leonard Hlathi van die Mpumalanga polisie sê betogers het ‘n biblioteek en ’n hostel, asook die huis van die suster van die burgemeester, Clara Ndlovu, afgebrand. Sowat nege mense is in hegtenis geneem. Sowat drie-duisend inwoners het reeds Vrydag met protesoptrede begin en geëis dat die burgemeester en die munisipale bestuurder, Isaac Moshoadiba, weens finansiële wanbestuur afgedank word.

Ter aarde bestelling van oorlede Dominee

Die begrafnis van wyle Ds. Tiaan Kruger – in lewe predikant van die Gereformeerde Kerk, Nelspruit, vir bykans twintig jaar, en wat verlede Woensdag oorlede is – is vanmiddag om 1uur in die Rocky’s Drift begraafplaas.Die mede-lereraar ds. Roelof Buys, sal die troosdiens om twee-uur hou, vanuit die Gereformeerde Kerk, h/v Wilger en Koraalboomstrate.

Polisie-eenheid herstruktureer

Roelf Van Jaarsveld 10 Julie 2009

Met verwysing na die diefstal van meer as R3m se Mandrax tablette uit Nelspruit se Polisiekantore, het die waarnemende Provinsiale Kommissaris van polisie, Rex Machabi, die noodsaaklikheid ingesien om die Georganiseerde Misdaad-eenheid te herstruktureer. Volgens die provinsiale woordvoerder, Kapt. Leonard Hlathi, is die eenheid in Middelburg. Kommissaris Machabi sê die eenheid behoort in drie provinsiale kantore verdeel te word, wat alle ondersoeke in die toekoms sal bespoedig.  Hy het voorts die ultimatum bevestig dat die lede van die Nelspruit-Eenheid vir Georganiseerde Misdaad tot 3 Augustus tyd het om die vermiste Mandrax-tablette op te spoor asook diegene wat daarvoor verantwoordelik was. Indien nie, sal lede van die eenheid verwyder word, het hy gedreig.

Skelm Mosambieker eindelik vas 

‘n Mosambieker, Isack “Mahisa” Mathebula, is sedert 2006 ‘n voortvlugtende na ‘n reeks misdade wat gepleeg is. Hy word gesoek vir onder andere moord, motordiefstal, kaping, ontsnappings en ander oortredings. Sy misdadige bedrywighede strek van Skukuza en Bosbokrand tot in Witbank en Tembisa. Gister is hy vir die soveelste keer vasgetrek en gearresteer.

Kapt. Leonard Hlathi van die SAPD sê hulle sal graag wil weet hoe hy vroeër hierdie jaar na ‘n arrestasie uit die Witbank se polisieselle ontsnap het. Mathebula verskyn vandag in die Magistraatshof op Witbank

 Sigaretsmokkelroete ontbloot

Twee van die beweerde sigaretsmokkelaars wat Dinsdag naby Barberton aangekeer is, het Woensdag in die Magistraatshof op Badplaas verskyn. Die saak is uitgestel tot vandag, terwyl die oortreders in aanhouding bly.

Volgens die polisie blyk dit dat dit veral paartjies is wat met sigarette smokkel en dat die gewilde roete vanuit Swaziland oor Louwscreek, Badplaas, Hendrina en Van Wyksdrift gaan tot waar dit aansluit by die N12 na Johannesburg. 

 

Hazyview sakevrou dood steeds vraagstuk

Roelf van Jaarsveld 08 Julie 2009

’n Ondersoek deur private speurders dui daarop dat  ‘n sakevrou van Hazyview dalk vermoor en nie  soos aanvanklik vermoed  in ‘n motorongeluk  naby Sabie dood is nie. Beeld berig dat die 49-jarige Petronella Francom op 22 Mei vanjaar dood is toe haar kar teen ‘n helling afgeloop en uitgebrand het. Francom se dogter het die hulp van private speurders ingeroep  en daar is onder meer vasgestel ’n polis van 10 miljoen rand slegs ‘n week voor haar dood op die sakevrou se lewe uitgeneem is.

Niks meer veilig by polisie nie 

Kort op die hakke van die verdwyning van ‘n groot hoeveelheid dwelms uit ‘n polisiekluis in Nelspruit , is onthul dat  50-duisend rand kontant onlangs spoorloos uit ‘n  kluis in die polisiekantoor op Middelburg verdwyn het. Die 50-duisend rand  sou dien as bewysstuk in ‘n saak van omkopery. Daar is op die geld beslag gelê toe familielede van ‘n moordverdagte glo ‘n polisie ondersoekbeampte wou omkoop.

 Dominee dood in kamer gevind 

Ds. Tiaan Kruger van die Gereformeerde Kerk, Nelspruit, is vanoggend dood in sy kamer gevind. Paramedici wat onmiddellik op die toneel was, berig dat hy blykbaar ‘n massiewe hartaanval gehad het. Ds. Kruger her presies die selfde tyd verlede jaar ‘n suksesvolle hartomleining ondergaan. Sy ouer broer is vroeër vanjaar ook aan ‘n hartaanval oorlede.

Die 57-jarige geliefde Laeveldse predikant was sedert 1989 leraar in Nelspruit en het ‘n groot liefde vir die Wildtuin en die natuur gehad. Hy laat sy vrou, Rieëtte, ‘n seun en twee dogters agter.  Begrafnisreëlings is voorlopig eerskomende Maandag.

Lede van sindikaat vasgetrek

Die Witbank se polisie slaan groot slag met die arrestasie van twee verdagtes wat betrokke was by verskeie inbrake en motordiefstal in Middelburg en Witbank. Toe die vier insittendes van ‘n gesteelde blou Polo merk dat die SAPS op hulle spoor is, het hulle op die polisie gevuur waarna die polisie teruggeskiet het. Twee het spore gemaak en die ander twee wat aangekeer is, sal more in die Magistraatshof in Witbank verskyn. Kapt. Leonard Hlathi berig dat verskeie wapens en ammunisie in die voertuig gevind is. Kapt. Hlathi vermoed datdie booswigte die afgelope tyd ‘n groot aandeel gehad het in verskeie gewapende rooftogte in die omgewing.

 

Met  besoekers op ons webwerf, kan jy ook die blootstelling geniet deur hier te adverteer.  Kontak ons bemarkers by admin@radiolaeveld.co.za

 

Ons kompetisie - KopSkrop - Bly ingeskakel op Radio Laeveld vir lekker groot kontantpryse wat gewen kan word - Maandag tot Vrydag - Elke week ! 

 

 


 

 
 
 

 

Adverteer Op Radio Laeveld:

 
 

 

 
   
 

 

 
   
 

 

 
 

Contact Communications - 013-753-3425

 
 

 

 
 

 
 

 

 
 

 
 

 

 
 

 
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
     
 

 

 
 
 

 

 
 
Kopiereg  © , Radio Laeveld. Alle regte voorbehou.Webtuiste ontwerp en gehuisves deur "InternetiX Internet and Network Solutions" Kontak vir Danie Joubert by 082-467-3434 vir jou webtuiste.