Baie welkom by Radio Laeveld, 'n gemeenskaps radiostasie wat vir
die eerste keer op 31 Mei 2003 begin uitsaai het. Dit is ook die
doel van die stasie om die gemeenskap se betrokkenheid in die
Laeveld aan te moedig. Die stasie maak 'n bestaan deur donasies,
borge, advertensies en luisteraars wat as lede 'n bydrae tot die
stasie se inkomste lewer.
Radio Laeveld saai uit op 100.5Mhz FM en
bereik die meeste dorpe in die Mpumalanga Laeveld streek. Daar
word voortdurend gepoog om die sein te verbeter en te versterk in
sodoende die bergagtige topografie van die Laeveld te omseil en
dan ook vir die luisteraars 'n beter ontvangs te verseker.
Radio Laeveld gebruik ook die Internet
as 'n middel om uit te saai. Jy kan dus van enige plek in die
wêreld na ons luister en selfs deelneem aan ons programme. Stuur
gerus 'n epos aan ons as jy vir jou vriende of familie wil
"hallo" sê.
Kliek
hierom die lys van liedjies deur te sien
of maak jou eie keuse vir plasing op ons speellys. Vul
gerus ook ons meningopname
wat kwartaaliks opgedateer word, in. Ons
luister graag na jou voorstelle en speel graag die
musiek wat jy wil hoor.
Amor Beyersbergen is aangewys as 2009 se Face
of Emnotweni
27 April 2009 - Naranda Leeuwner
Die tweede Face of Emnotweni is die afgelope naweek by die
Riverside Mall se restaurant area aangewys. Meer as 50
inskrywings van regoor die provinsie is ontvang en die
twaalf finaliste het Saterdagaand saam met uitgesoekte gaste
gesellig verkeer om ‘n voorsmakie te kry van watter finalis
dié titel sal kan volstaan.
Amor Beyersbergen is Sondag as die wenner aangewys en sy
neem die lysels van Rochel Kruger, verlede jaar se Face of
Emntoweni, oor. Letitia Kloppers is as die eerste prinses
aangewys en Zamaswazi Mdluli as die tweede prinses. Vuywelva
Booi, beter bekend as Alyce van 7de laan, het as
gaskunstenaar opgetree.
Nog ‘n lyk by
die Sheba myn gevind nadat drie mense die week reeds daar
doodgeskiet is.
23 April 2009 - Naranda Leeuwner
Nog ‘n lyk
is gisteraand by die Sheba myn net buite Barberton gevind en
word vandag herwin. Supt. Rudi Neethling van die speurdiens
in die dorp sê hulle ondersoek die moontlikheid dat dit met
die voorval van Maandagaand verband hou maar dit wil voorkom
of die skietery met ‘n aparte voorval te doen het. Radio
Laeveld het Dinsdag berig dat twee onwettige myners
doodgeskiet, en een gewond is nadat twee groot groepe
verdagtes op die myn toegesak het. Volgens die
ondersoekbeampte, Kapt Siswe Nkosi van die Barberton
polisiekantoor, het ‘n groep van 10 verdagtes Maandagaand in
die mynskag afgegaan om goud te steel. ‘n Ander groter groep
het hulle ingewag tot hulle met die goud teruggekeer het en
wou dit by hulle afneem. ‘n Skietvoorval het plaasgevind
vanwaar twee van die verdagtes op die toneel dood is. Die
beseerde het te voet probeer vlug na die naaste hospitaal in
Barberton. Neethling sê hy het Woensdagoggend aan sy wonde
beswyk. Niemand van die verdagtes kon tot dusver positief
uitgeken word nie, omdat hulle volgens Neethling vermoedelik
onwettige immigrante is. Die ondersoek van beide die
voorvalle duur nog voort.
Suid Afrika keer na die stembus
terug.
22 April 2009 - Naranda Leeuwner
Die stemrye was reeds van vroeg af
lank waar tot 400 mense net na 07:00 by Laerskool Bergland
gestaan het. Die stemmers was, ten spyte van die gewag, steeds
positief en van mening dat die proses steeds vinnig vloei.
By
die Mbombela Munisipaliteit stempunt het stemrye ook op ‘n
stadium opgehoop. Die rye was somstyds langer by die Mbomela
Munisipaliteit, maar volgens die stemmers het hulle nie langer
as ‘n uur-en-‘n-half gewag nie.
Geen ongemaklike gevalle was
aangemeld nie en Radio Laeveld het deurgans verskeie stempunte
gemonitor en terugvoer aan luisteraars gegee.
HOëRSKOOL BERGVLAM OPE SKAAKTOERNOOI SATERDAG 25 APRIL 2009
Voor links na regs:
Tiaan Grobler en Johann Diedericks Regs voor:
Francois de Jager en langs hom met blonde hare is Michael
Izeboud
21 April 2009 -
Naranda Leeuwner
Die Bergvlam Ope Skaaktoernooi vind Saterdag, op 25 April by
die Hoërskool Bergvlam plaas.
‘n Verwagte 200 deelnemers van regoor die provinsie gaan aan
die skaakdag deelneem. Volgens me. Magda van der Merwe,
skakelbeampte van die skool, is dié dag opsy gesit om die
provinsiale skaakspan te kies.
Sy sê deelnemers gaan dié dag in ‘n A,B en C formaat
plaasvind. Die A-formaatspelers het almal al voorheen
Laeveldkleure verwerf of is voor 1995 gebore. Die B-formaat
spelers is almal in 1996 of daarna gebore en het ook al
Laeveldkleure verwerf. Deelnemers wat in 1999 gebore is, mag
ook in die kategorie deelneem. Wat die C-kategorie betref,
moet die deelnemers ná 1999 gebore wees en mag geen
deelnemer wat al voorheen Laeveldkleure verwerf het, in dié
kategorie deelneem nie.
Die registrasie vind reeds om 07:00 die oggend plaas en die
amptelike opening is om 08:00. Daar gaan die hele dag teen
mekaar meegeding word totdat die prysuidelingsfunksie om
18:00 plaasvind en die provinsiale span aangekondig word.
Kontak persoon vir meer besonderhede: Me Christie Streicher:
083 553 3616.
Weereens Sukses!
Sondag 19 April '09
Dis weer Sondagoggend en meer as veertig
motorfietse staan gepoets in motorhuise en wag om daai knieë-lam
gevoel te kry wanneer sy 'oor' kloksgewys teen die bulte uit,
gedraai word. Dié keer lê die lang kronkelpaaie van die Long
Tom-pas na Lydenburg voor, en opgewonde vetrek nog 'n groep van
sowat sestig motorfiets-geesdriftiges uit die Laeveld vanaf
Radio Laeveld 100.5fm.
Met padwerke as die enigste probleem vergeet mens
gou van jou sorge terwyl die son op die spieëltjie blink en 'n
lekker ontbyd by die Trout Inn jou inwag. Elke honger gaatjie
word gou uit die verskeidenheid van lekker ontbytgeregte gevul,
want 'SO' moet 'n ontbyrit mos wees!
Sien jou weer by die volgende Radio Laeveld
100.5fmMotorfiets Ontbytrit en as jy nog nie saam was nie,
beskou jouself gerus as genooi! Hou dié spasie dop en luister
gereeld Motorfiets & Dinge met André & Rudi weekliks op Woensdae
om 15h20 vir meer inligting.
Dankie Vir Jou Deelname!
Dis met waardering dat ons kan terugsit en luister waarna elke
luisteraar van Radio Laeveld graag (of soms nie!) wil luister en
wat ons kan doen om dit wat jy wil hoor, aan te bied!
Met die aanbreek van ons eerste
Marknavorsing & Meningopname, regstreekse uitsending
op 19 Maart '09, is almal dit eens dat daar 'n groot 'OOR' vir
gereelde luister nodig is. Desnietenstaande, was dit 'n aand vol
pret en plesier, 'n ervaring van gereelde luisteraars wat die
gesigte agter die stemme kon ontmoet (en sommer dadelik vir
daardie persoon kon vertel hoe hy oor daai program voel), 'n
ervaring van programaanbieders om te luister in plaas van te
praat, en 'n ervaring om die "Potjiejol" te meng tot 'n reënboog
van geure en smake!
Jy het gepraat! - Ons het geluister!
Dit is weereens duidelik bevestig dat ons hoofsaakik radio
luister vir drie redes (ook in volgorde) 1. Plaaslike
Inligting, 2. Musiek & 3. Vermaak.
Ons Sondag programsamestelling het gebalanseerde reaksie
ontlok, met hoofsaaklik kommentaar oor musiekkeuse.
Die twee belangrikste fokuspunte vir programinhoud is
gesentreer rondom plaaslike en Christelike programinhoud.
Musiekkeuses het hoofsaaklik uit die 1960-1980 era gekom en
heelwat versoeke vir meer geestelike, gospel en
godsdienstige musiek (nie net gedurende gewyde programering
nie).
Klassieke musiek- en jeugprogramme het gemengde gevoelens
ontlok met hoofsaaklik die groepe daarvoor en daarteen.
Boeremusiek is, en bly steeds gewild, veral onder aanbieders.
Luisteraars keuse dui aan dat dit as vanselfsprekend aanvaar
word.
Die belangrikheid van taal, kultuur en geskiedenis is
weereens bevestig.
Daar was heelwat interessante versoeke met nuwe program-idees en
soms sterk opinies oor musiekkeuse en program-inhoud, soos die
verhouding tussen die hoeveelheid gesels en musiek.
Een ding is seker: Dat deelnemende luisteraars passievol oor
Radio Laeveld voel en 'n ernstige bydrae wil lewer tot die
suksesvolle voortbestaan van die Gemeenskap Radiostasie.
Met
besoekers op ons webwerf, kan jy ook die
blootstelling geniet deur hier te adverteer.
Kontak ons bemarkers by
admin@radiolaeveld.co.za
Ons kompetisie - KopSkrop - Bly
ingeskakel op Radio Laeveld vir lekker groot
kontantpryse wat gewen kan word - Maandag tot Vrydag -
Elke week !