100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga Landbou bekommerd oor onwettige jag met honde

Written by on May 19, 2021

Mpumalanga Landbou sê die onwettige jag van wild met honde is ‘n omvattende probleem regoor die provinsie.
Die landbou-organisasie het ‘n beroep gedoen op die polisie en LUR vir gemeenskapsveiligheid om die praktyk dringend te ondersoek, na die moord op ‘n boer, Hennie Moldenhauer, Sondag naby Amersfoort.
Hy het glo die oggend uitgegaan om na jakkalse te gaan soek wat hy vroeër gesien het. Sy bakkie het volgens berigte nog geluier toe sy vrou ‘n entjie verder afgekom het op sy liggaam.
Hy het ‘n kopwond gehad. ‘n Dooie hond was ook op die toneel, en het vermoedelik aan die aanvallers behoort.
Volgens Robert Davel, hoofbestuurder van Mpumalanga Landbou, is die moord na bewering gepleeg deur persone wat onwettig met honde op Moldenhauer se plaas gejag het.
Hy sê klagtes in dié verband word uit alle oorde ontvang – ook uit die Laeveld en Onderberg. “Dit is waarskynlik groter as wat ons self ook besef.”
Na bewering word dit op groot skaal bestuur deur sindikate. Groot bedrae geld is betrokke wat gekoppel is aan weddenskappe.

“Ons dink hulle doen dit vir sport, ontspanning en hulle ontsien niks en niemand nie. Soos ons verstaan kom hulle van stedelike gebiede en is swaar gewapen. Hulle jag gewoonlik kleiner wild, soos steenbokke en duikers, wat vry op plase voorkom en ook beskermde wild.”
Davel voeg by dat Suid-Afrika oor baie goeie wette beskik, “maar die toepassing van die wet is dikwels ons grootste struikelblok. Ons versoek is: Neem asseblief klagtes oor onwettige jag, met of sonder honde, en betreding ernstig op.
“Na ons mening moet dit beskou word as ‘n prioriteitsmisdaad. Die polisie moet dit behoorlik ondersoek sodat die mense voor stok gekry word. Help ons om hierdie euwel uit te roei, want dit is ‘n bedreiging vir die landbousektor.”


×