100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ysterpenrowers slaan toenemend toe in Laeveld

Written by on April 12, 2022

Die Komatipoort en Malalane gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) het ‘n waarskuwing uitgereik dat sogenaamde “ysterpenrowe” toeneem op die N4 in die Nkomazi-area.
Volgens voorsitter Mel Preddy word voorvalle aangemeld tot duskant Malalane, maar die meeste suksesvolle rooftogte is aangeteken op die sowat 50 km by Hectorspruit.
Omdat dit so ‘n lang stuk pad is, is dit ook besonders moeilik om te patrolleer.
Die GPF’s het voorheen reeds gewaarsku oor gevalle in die omgewing van die Lebombo-grenspos, en daar is geruime tyd reeds gereelde probleme met die praktyk in die Middelburg en Witbank omgewings.
In Nkomazi was daar net Maandagaand twee ernstige voorvalle.
‘n Taxi op pad na Mosambiek is tussen Hectorspruit en die Coopersdal-aansluiting deur ysterpenrowers tot stilstand gedwing. Passasiers is beroof. Die bestuurder kon vlug, maar is met ‘n panga gekap en later dood aangetref.
Twee passasiers was aanvanklik vermis, maar het sedert by polisiestasies aangemeld.
Daar word geskat dat tussen 15 en 20 gewapende aanvallers na vermoede betrokke was.
Dieselfde tyd is ‘n begrafnisondernemer in dieselfde area ook beroof van sy persoonlike besittings.
Preddy sê dit is duidelik dat meer as een georganiseerde groep in die area aktief is, en veral snags.
“Dit is daarom hoogs gevaarlik om na donker op die N4 te reis tussen Malalane en Komatipoort en dit moet vermy word, indien moontlik,” sê hy.


×