100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Wêreld-olifantdag: Krugerwildtuin verdedig besluit om olifantkalfie uit te sit

Written by on August 12, 2021

Die onlangse besluit van die Krugerwildtuin (NKW) om ‘n wees olifantkalfie van kant te maak, het vrae laat ontstaan oor SANParke se beleid oor mense se ingryping in die natuur.
Die olifantjie is geskiet nadat die ma aan natuurlike oorsake dood is.
Volgens SANParke se beleid word ingryping nie toegelaat wanneer diere wees gelaat of agtergelaat word nie – tensy die ma se dood of gedrag deur mense se invloed veroorsaak is. Hierdie diere mag nie gered word, of ingebring word vir rehabilitasie nie.
Tog het die wildtuin ingetree. Die NKW se woordvoerder, Ike Phaahla, sê hulle het die besluit geneem om “menslikheidsredes”: omdat die kalfie steeds aan die ma gedrink het sou sy kanse om oorlewing skraal wees.

“Omdat dit steeds aan sy ma gedrink het, het dit geen kans op oorlewing op sy eie in die natuur gehad nie. Dit sou óf deur ‘n roofdier doodgemaak word, óf sou ‘n stadige dood sterf weens honger,” sê Phaahla. “Die menslike besluit was om die dier uit te sit om verdere lyding te voorkom.”
Hy voeg by dat hoewel die uitdunning van olifante ‘n opsie is om hul groot impak op die omgewing te bestuur, daar tans geen intensie is om dit te gebruik nie.
Hulle bestudeer deurlopend olifante se impak op die omgewing. Dit is positief en negatief, aldus Phaahla.
Daar is na raming tans tussen 20 000 en 30 000 olifante (kalfies uitgesluit) in die wildtuin wat voorheen beboste areas in grasvelde en savanna verander het. Dít bevoordeel egter weer ander diere, soos jagluiperds.


×