100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende renosterhoring-handelaars doen vandag aansoek vir borgtog

Written by on July 23, 2021

AB (Schalk) Steyn (48) en Dawie Groenewald (53) sal vandag formeel aansoek doen vir borgtog in die Nelspruit-landdroshof.
Hulle het gister reeds verskyn en word aangekla van die onwettige besit en verkoop van renosterhorings.
Hulle is Woensdag aangekeer in ‘n gesamentlike operasie tussen die Valke, die eenheid teen die smokkel van wild en private rolspelers.
Volgens die Valke se kol. Katlego Mogale is 19 renosterhorings, met ‘n beraamde waarde van sowat R2,6 miljoen, in hul besit gevind. Die twee bakkies waarin hulle besig was om dit te vervoer, is ook deur die Valke gekonfiskeer.
Groenewald is ‘n wildteler van Hoedspruit. Volgens die Daily Maverick is Groenewald in 2010 saam met nege ander mense, insluitende sy vrou, Sariette, gearresteer na die karkasse van 20 renosters op sy plaas, Prachtig, ontdek is.
Die 1 736 klagte teen hulle het rampokkery, geldwassery, onwettige jag en handel in renosterhoring ingesluit.
Die VSA het in 2014 gevra dat Groenewald en sy broer, Janneman, aan hulle uitgelewer word, omdat hulle na bewering ryk Amerikaners gewerf het om renosters op sy plaas te jag en renosterhorings by ander boere bekom het vir die swart mark. Die aansoek is deur ‘n Limpopo-hof geweier.
Steyn, ‘n sakeman van Mbombela, is in 2018 daarvan beskuldig dat hy 21 buffels probeer verkoop het, maar nie die diere gelewer het, of die geld aan die kopers terugbetaal het nie.
Die oorspronklike saak teen Groenewald is in 2018 weer uitgestel na Maart vanjaar. Sowat 60 klagte is intussen teen hulle teruggetrek. Volgens Daily Maverick het die saak weer nie voorgekom nie, moontlik te wyte aan die Covid-19-pandemie. Groenewald was uit op borgtog ten tyde van sy arrestasie Woensdag.


×