100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagte gesoek wat kunste-ikoon aanval en beroof

Written by on March 22, 2022

Geen arrestasies is nog teen vanoggend gemaak in die soektog na die aanvaller van die internasionaal bekroonde Ndebele-kunstenaar, Esther Mahlangu (87), nie.
Sy is Saterdagmiddag in haar huis in Siyabuswa, naby Kwamhlanga, gewelddadig aangeval en beroof.
Mpumalanga polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê ‘n man het haar huis betree en haar gegryp en in haar gesig geslaan voordat hy haar hande vasgebind en haar gewurg het totdat sy haar bewussyn verloor het.
Sy het hulp gaan soek toe sy later die middag haar bewussyn herwin het. Haar huis is geplunder en haar vuurwapenkluis, waarin daar ‘n vuurwapen en kontant was, is weg.
Mahlangu kan glo nie onthou wat gebeur het nie, en het kneusplekke aan haar gesig opgedoen.

Die polisie in Mpumalanga soek ook na ses verdagtes wat Sondagoggend ‘n 76-jarige boer op sy plaas naby Delmas vermoor het.
Gustav Rappard en sy vrou was in hul huis op die plaas Welgevonden toe iemand by die hek toet. Volgens Mohlala was daar ses mans wat gesê het hulle wil grasbale koop.
Rappard het hulle eers weggewys omdat dit Sondag was, maar toe besluit om hulle te help.
Hulle het hom toe na bewering verwurg en sy vrou in die huis vasgebind en kontant geëis. Hulle het die huis deursoek en metteryd met twee selfone gevlug.
Sy kon by bure om hulp aanklop. Haar man se liggaam is daarna in die skuur ontdek.
Ongeveer 20 gewapende verdagtes is ook soek na ‘n transitoroof in Masoyi, buite Witrivier, Saterdagoggend.
Die Fidelity-wagte was op die R538 in die rigting van Dayizenza in Masoyi op pad toe ‘n grys BMW teen hulle gebots het om hulle te forseer om te stil te hou.
Daar is op hulle gevuur en die geldwa is met plofstof oopgeblaas.
Die aanvallers het met ‘n onbekende som geld gevlug in ‘n maroen Toyota Corolla en silwergrys VW Polo sonder nommerplate.
Nog drie verdagtes word gesoek vir die beweerde roof en verkragting van twee vroue by ‘n kerk in Thulamahashe naby Boksbokrand Vrydagaand.
Volgens die polisie was die twee vroue (van onderskeidelik 30 en 38) in ‘n kamer, toe drie mans, waarvan een met ‘n pistol gewapen was, hul weg oopforseer het.
Musiekinstrumente ter waarde van ‘n geskatte R28 000 is gesteel en hulle het met die pastoor se silwergrys Kia Picanto gevlug.
Polisiekommissaris luit. gen. Semakaleng Manamela sê dit is kommerwekkend dat plekke van aanbidding geteiken word. Sy het die publiek aangeraai om nie goedere wat hulle glo gesteel kan wees te koop nie, maar om eerder die mense wat dit doen by die polisie aan te meld.
Oor die transitoroof sê sy: “Ons glo dat iemand iets gesien of gehoor het, en ons pleit met die gemeenskap om hul inligting met ons te deel.”


×