100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Geen winterfees vir Innibos in 2022

Written by on February 24, 2022

Innibossers wat hul lippe aflek vir ‘n “normale” Innibos fees, sal tot in 2023 daarvoor moet wag.
Die Innibos direksie het tydens ‘n direksievergadering hierdie week besluit dat dit onwys sou wees om ‘n winter-feesdatum aan te kondig.
Hul redes sluit in die risiko van ‘n vyfde Covid-19-vlaag wat in Mei verwag word, die gebeure in Europa die afgelope winter én die feit dat groot byeenkomste die heel laaste ding is wat oopgemaak sal word as beperkings in Suid-Afrika gelig word.
“Ons kan nie die fees in sy gewone formaat aanbied as daar enigsins beperkings is nie”, sê dr. Mathews Phosa, die voorsitter van die direksie.
“Die feesterrein is die hartklop van die fees en die risiko vir die  feesgangers, kuntenaars, borge en diensverskaffers is net te groot as ons dit sou moet kanselleer. Innibos moes in 2020 twee feeste op die nippertjie kanselleer en ons wil dit nie weer doen nie.”
Hulle beloof vir 2023 ‘n fees der feeste en beplan reeds daarvoor.
Vir vanjaar word ‘n alternatiewe feesmodel beoog onder die vaandel “Heeltyd feestyd” met opwindende feesprojekte in en om Mbombela dwarsdeur 2022.

<iframe src=”https://iframe.iono.fm/e/1159865″ width=”100%” height=”126″ referrerpolicy=”origin” frameborder=”0″></iframe>
Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die klem val vanjaar daarop om ‘n wye verskeidenheid unieke ervarings vir feesliefhebbers aan te bied wat die fees steeds relevant hou en vir ondersteuners van die kunste genoeg bied om te geniet.
“Innibos kon, ondanks die beperkende Covid-regulasies, verlede jaar werk skep vir meer as 220 uitvoerende kunstenaars, en ons wil dit vanjaar oortref.”
Een van die projekte is ‘n buitelug ekspo en familiefees met die tema, “Manne dis ‘n voorreg”, wat einde September beplan word vir sowat 3 000 feesgangers met onder meer uitstallings, demonstrasies, snuistery-stalletjies, feeskos en ‘n musiekverhoog.
Daar word ook gedurende die jaar ‘n teater-safari en verskeie musiekkonserte met klassieke, jazz en rockmusiek beplan asook die sesde aanbieding van die Innibos Handwerkkuns-kompetisie.
“Ons beplan om steeds optreegeleenthede aan kunstenaars te bied, die plaaslike ekonomie te stimuleer en ’n ondersteunende en opbouende rol in die plaaslike gemeenskap te speel deur middel van eiesoortige projekte, getrou aan die aard van Innibos.”
Besonderhede van dié jaarlange feestelikheid sal in Maart gefinaliseer word.
“Dit is vir ons ‘n groot hartseer dat ons nie die gewone fees kan hou nie, maar dit is beslis die wysste besluit om nou te neem,” sluit die direksie af.


×