100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nelspruit DBV vra publiek se hulp om Barberton te dien

Written by on March 7, 2022

Die Nelspruit DBV het ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om hulle te help om dienste in die Barberton-area te lewer.
Die Barberton DBV moes weens finansiële druk op 23 Februarie sy deure sluit. (Lees meer: Barberton DBV sluit na 36 jaar sy deure)
Die Nelspruit DBV moet probeer om die gaping te vul. Lize Pienaar sê Nelspruit sal na die beste van hul vermoë dienste lewer, maar dit sal nie voltyds kan wees nie.

Hulle beoog om weeksdae ongewenste diere in Barberton op te laai tussen 07:00 en 08:00 mits dit vooraf met hulle gereël word en nooi mense wat kan om diere self na die kennels in Nelspruit te neem.
“Ons lewer die diens gratis, maar soos te verwagte kan wees, plaas dit addisionele druk op ons beperkte hulpbronne. Ons sal enige ondersteuning van die Barberton-gemeenskap opreg waardeer.
Hulle vra ook dat die gemeenskap geduldig bly omdat hulle lang afstande af moet lê.
Hul kantoornommer is 013-753-3582 en die noodnommer 082-755-8687.
Die Nelspruit DBV het in Februarie, 368 diere ingeneem, waarvan 138 deur hul eienaars oorhandig is. Die res was rondloperdiere waarvan twee deur hul eienaars opgeëis is. In totaal is vyf aangeneem: vier honde en een kat.
Ses diere is ook gekonfiskeer by ‘n eienaar wat na bewering nie ag geslaan het op waarskuwings nie.
Die 17 wreedheidsklagte het meestal gehandel oor kettings en ondervoeding asook ‘n tekort aan skuiling en veeartssorg.
Verder is roetine-inspeksies en uitreikprojekte en dienste gelewer, insluitende areas soos Nkomazi, Graskop, Waterval-Boven en Lydenburg. Die 5 927 km het hul R12 320 gekos om af te lê, en R23 000 is aan kos vir die diere spandeer.


×