100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nasionale Vooma-inentingsveldtog hierdie naweek

Written by on September 29, 2021

Mediclinic Nelspruit het almal ouer as 18 jaar genooi om die komende naweek by hul dagkliniek hul inenting teen Covid-19 te ontvang.
Die regering hou die naweek landwyd ‘n “Vooma”-inentingsveldtog om dit vir mense meer gerieflik te maak om die inenting te ontvang. Honderde private inentingstasies sal daarom ook Saterdag landwyd oop wees.
Mediclinic Nelspruit se algemene bestuurder, Carmen Savva, sê hulle ondersteun inenting weens die bewyse wêreldwyd dat diegene wat ingeënt is, beduidend minder ernstig siek raak wanneer hulle die virus opdoen.

Mediclinic Nelspruit sal Saterdag van 08:00 tot 15:00 oop wees. Hulle bied die J&J-entstof wat slegs een inspuiting verg.
Almal is welkom, sê Savva, met of sonder ‘n mediese fonds. Mense hoef ook nie vooraf op die inentingstelsel te registreer nie en hoef ook nie te wag vir ‘n afspraak om hul inenting te kom ontvang nie.
Jy kan wel op hul webtuiste vooraf ‘n afspraak maak.
Suid-Afrika het gister 158 Covid-19-verwante hospitaaltoelatings aangemeld. Daar is nou altesaam 6 860 mense wat weens Covid-19 in die hospitaal is.
Nog 1 367 nuwe gevalle is aangemeld, wat die aantal besmettings sedert die begin van die pandemie tot 2 898 888 laat styg het.
Die meeste nuwe gevalle is in KwaZulu-Natal met 27%, gevolg deur die Wes-Kaap met 18% en die Oos-Kaap en Gauteng met 14% elk.
Nog 201 sterftes weens Covid-19 verwante oorsake is aangemeld wat beteken 87 417 mense is tot dusver amptelik weens dit dood in Suid-Afrika.
“Ons glo dat, deur om in te ent en die 70% teiken te bereik, ons onsself en ons gemeenskap kan beskerm, en die potensiële impak van die verwagte vierde vlaag infeksies dramaties kan verminder,” sluit Savva af.


×