100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga toon toename in padsterftes oor Paasnaweek

Written by on April 28, 2022

Padsterftes het oor die afgelope Paasnaweek landwyd ‘n afname getoon.
Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het vanoggend aangekondig dat verkeersvolumes net in KwaZulu-Natal ‘n afname getoon het (sowat 21%) weens die oorstromings daar.
Padsterftes het slegs in Mpumalanga en die Wes-Kaap toegeneem: in Mpumalanga met amper 27,8% (met 23 sterftes teenoor verlede jaar se 18) en in die Wes-Kaap met 30,8%.
Landwyd is 162 mense dood – teenoor 235 verlede jaar – in 134 ongelukke waarvan die meeste die Vrydag en Saterdag plaasgevind het.
Mbalula sê die meeste noodlottige ongelukke kom steeds snags voor, maar vanjaar was daar ook ‘n nuwe tendens: ‘n toename in sulke ongelukke tussen 04:00 en 05:00 in die oggend.
Volgens TRAC was die N4 tolpad besonder besig die afgelope Paasnaweek. Solange Soares, kommunikasiebestuurder, sê die verkeersvolumes was van die hoogste in jare, selfs in vergeleke met vlakke voor die Covid-19-pandemie.
Die pad was veral die Maandag baie besig, maar verkeersvloei was redelik goed, ondanks die reënweer. Sy sê minder ongelukke het voorgekom as verwag.
Mbalula het opnuut gewaarsku dat die grasietydperk vir die hernuwing van bestuurslisensies wat tydens die grendeltydperk (tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021) verval het, nie weer verleng sal word nie.
Verskeie lisensiekantore in Mpumalanga sal tot dan, Donderdag, 5 Mei, langer ure as gewoonlik oop wees, om motoriste die geleentheid te gee om hul lisensies te hernu.
Nelspruit, Witrivier, Sabie, Lydenburg, Malalane en Elukwatini sal weeksdae van 08:00 tot 18:00 oop wees, en Saterdae tot 14:00. Dit geld ook vir Belfast, Cascade, Delmas, Piet Retief, Secunda en Standerton. Libangeni sal slegs Saterdae langer oop wees.
Motoriste is aangeraai om so spoedig moontlik aansoek te doen vir hul hernuwings, gegewe die agterstand in lisensiekaarte wat deur die pandemie veroorsaak is.


×