100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mediclinic se intensiewesorg bly onder druk van Covid-19

Written by on August 23, 2021

Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid ervaar steeds hoë druk weens die voortslepende derde vlaag Covid-19-infeksies in die area.
Suid-Afrika se Covid-19-verwante sterftes is besig om die 80 000-kerf te nader nadat nóg 170 mense die afgelope 24 uur aan die siekte dood is. Altesaam 10 748 nuwe gevalle is in die jongste verslagtydperk aangemeld.
In Mpumalanga is 690 nuwe gevalle gister aangemeld, en 4 743 die afgelope week sowel as 27 sterftes.
Dr. Gerrit de Villiers, die groep se hoof kliniese beampte, sê hulle sien dat inentings ‘n postiewe impak daarop het om ernstige siekte en hospitalisasie weens die virus te verminder.
Inentings teen Covid-19 is Vrydag oopgestel vir alle volwassenes van 18 jaar en ouer. Die LUR vir gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, het die afskop by die Nkangala TVET-kollege bygewoon.
Sy het die jeug aangemoedig om ook ouer lede van hul gesinne saam te bring wanneer hulle hul inentings ontvang.

Landwyd is 23 910 inentings net Sondag toegedien met 4 832 763 mense landwyd wat nou volledig teen die virus ingeënt is.
Inentings is oop vir alle volwassenes, ongeag of hulle mediese fondse het of vooraf geregistreer het.
Lees meer: Lys van private instellings wat inentings in die Laeveld bied
De Villiers sê mense moet aanhou om hulself veilig te hou deur sosiale byeenkomste en spasies met swak ventilasie te vermy, gesigmaskers te dra, hul hande te was en te ontsmet en fisiese afstand van ander te hou.
In Mpumalanga is daar tans 5 759 aktiewe gevalle teenoor 5 518 ‘n week gelede. In die Laeveld is daar sedert 15 Augustus 1 204 nuwe gevalle en vier sterftes aangeteken in Mbombela, 496 nuwe gevalle in Bosbokrand, 427 in Nkomazi en 313 in Thaba Chweu.


×