100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man dood gevind in Mhala, heldskieter in Hazyview aangekeer

Written by on November 5, 2021

‘n Ongeïdentifiseerde man is vanoggend dood gevind in ‘n ongebruikte regeringsgebou in die Mhala-omgewing.
Volgens die polisie het hulle om ongeveer 08:00 ‘n anonieme oproep ontvang dat die man noodlottig aangerand is in Dumphries B.
Brig. Selvy Mohlala sê die man is met hul aankoms op die toneel in handboeie aangetref met kneusplekke regoor sy liggaam. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat hy met stokke, klippe en ‘n panga aangerand is.
‘n Moordsaak is geopen.

Die slagoffer is beskryf as swart en “goed gebou”, met ‘n Mohawk-haarstyl. Hy het ‘n bruin broek aangehad, ‘n wit T-hemp en Adidas skoene aangehad. Hy word in sy 30’s geskat.
Enigiemand met inligting is gevra om die polisie se speurder AO Jeffrey Sithole te kontak by 072-624-5133.
‘n Vermeende geldskieter het in die Hazyview-landdroshof verskyn op klagte van oortreding van die nasionale kredietwet.

Die 33-jarige Nozipho Yolanda Precious Mabuza is gister deur die Valke, in samewerking met die Nasionale Kredietreguleerder, aangekeer.
Volgens die woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, kapt. Dineo Sekgotodi, is Mabuza die eienaar van Humelela Cash Loans in Hazyview en is die onderneming nie by die kredietreguleerder geregistreer nie.
Daar is op sowat 500 bankkaarte, SASSA-kaarte en identiteitsdokumente en meer as R36 000 se kontant wat in haar besit gevind is, beslag gelê.

Volgens Sekgotodi sou sy die kaarte hou tot kliënte hul geld terug betaal het teen verhoogde rentekoerse.
Mabuza is borgtog toegestaan van R1 000. Die saak is uitgestel tot 25 November.


×