100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laeveld op hoë gereedheid vir enige onlus

Written by on August 20, 2021

Plaaslike sekuriteitsmaatskappye is op hoë gereedheid vir enige onluste wat Maandag kop uit mag steek.
Daar is gerugte op nasionale vlak dat plundering en geweld, wat ten minste 377 mense se dood en miljarde se skade verlede maand in KwaZulu-Natal en Gauteng veroorsaak het, weer opvlam.
Ter plaatse werk private maatskappye saam met die polisie en burgerlike organisasies om gereed te wees sou enigiets uitbreek.
Hulle sal reeds Saterdag hul sigbaarheid verhoog en ‘n magsvertoon hou en vanaf vroeg Maandagoggend toegangspaaie na Laeveldse dorpe sal beman.

Hulle is voorbereid vir enigiets en alle rolspelers is betrokke by die strategiese beplanning wat reeds ‘n paar weke duur – “net vir ingeval”.
Die Laeveld was ongedeerd toe onluste in Julie posgevat het. Dit was gekoppel aan die hofverskyning van voormalige pres. Jacob Zuma wat tans tronkstraf uitdien vir minagting van die hof en eersdaags op korrupsieklagte moet antwoord in ‘n hof.
In die Laeveld bestuur Callum MacPherson van Hi-Tech Sekuriteit, Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice en John Meintjies van ACS Sekuriteit en Nelspruit GPF die gesamentlike operasionele komitee (JOC).
Hi-Tech voeg by dat hulle die struktuur nou aangepas het om meer hanteerbaar te wees: Al die inligting kan steeds na die JOC gestuur word. Van daar word dit op een sentrale punt gebruik vir beheer op die grond en uitvoering van enige aksie wat vereis mag word.
Omdat die verskillende maatskappye so nou saam werk, weet hulle presies hoeveel hulpbronne almal beskikbaar het ter eniger tyd.
“Dan kan ons vinnig ontplooi sou iets gebeur.”
Mense is gevra om kalm te bly en nie ongeverifieërde berigte van onlus goedmoeds aan te stuur en te versprei nie, maar eerder net dit wat hulle self sien aan die JOC oor te dra.



×