100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laeveld-gemeenskap steek hul hande op tydens inperking

Written by on November 27, 2020

Agt maande sedert die staat van inperking in Maart in werking getree het, en ‘n bietjie minder as ‘n maand voor Kersfees, het die lewe vanjaar heelwat verander.
Hoewel dinge sedert die aanvanklike uitbreking van die Covid-19-pandemie tot ‘n groot mate na normaal teruggekeer het, het die grendelstaat die plaaslike ekonomie op sy knieë gedwing.
Baie mense is hul werke kwyt en bykans alles moet ‘n bietjie anders benader word.
Tog is dit nie net verdoemenis en somberheid nie. Diensorganisasies stem saam dat 2020 gemeenskappe nader aan mekaar gebring het.
Ds Thys Lourens van die Gereformeerde Kerk Nelspruit sê mense het werklik in hierdie tyd hul hande opgesteek om mekaar te help.

Nie net het hulle op Facebook gepreek nie, maar pastorale gesprekke het per telefoon plaasgevind.
Die gemeente kon help om gesinne van kos te voorsien. “Mense het werklik uit die gemeenskap bygedra om minder bevoorregtes te help.
“Dit is wat anders was en dit is alles positief. Mense moes ‘n bietjie stop en dink – waar hulle gewoonlik so haastig was, jy kon skaars stop en gesels.”
Maria Scholtz van KANSA Laeveld sê hulle was ook geseënd. “Daar was ‘n groot afname in ons inkomste, maar ons kon steeds na ons pasiënte omsien en voortbou op die diens wat ons gemeenskappe belowe.”
Hulle kon nie hul gewone fondsinsamelings hou nie, maar kon, omdat hulle ‘n nasionale organisasie is, vinnig aanlyn fondse begin insamel.
“Ons voordeel was dat ons, ons sorgsentrums kom oophou vir pasiënte wat daar moes bly. Die ander positiewe ding was dat ons hul noodsaaklike sakkies na stoma-pasiënte kon koerier.”
KANSA het ook telefoniese berading begin doen, in al die amptelike landstale.
Thea Rix van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) sê egter vir haar weeg die negatiewe van die pandemie tans swaarder.
“Aan die positiewe kant het mense nader aan mekaar beweeg. Aan die ander kant trek mense swaarder as ooit. Die ekonomie het mense baie seergemaak.
“Ons het nog altyd kospakkies voorsien. Tydens inperking het dit duisend maal meer geword. Dinge verbeter nou, maar die vraag is steeds geweldig, kommerwekkend, hoog.”
Toenemend word hulle oorval met vrae vir bekostigbare blyplek, soos al meer mense hul plekke verloor.
Om op enige manier ‘n bydrae te maak, kontak Rix by 082-771-2889.


×