100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Graskop-inwoners neem waterkwessie in eie hande

Written by on September 14, 2021

Die Graskop-belastingbetalersvereniging is besig om self ‘n pomp by hul waterwerke te herstel.
Lance Gibson sê hulle verwag ‘n toeloop van mense na die toeristedorp die komende langnaweek, en wil verseker hulle het water.
Die dorp sukkel al geruime tyd met watertoevoertekorte, iets wat toegeskryf word aan ‘n gebrek aan instandhoudingswerk aan die bestaande, werkende pomp.
Volgens Gibson het Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) aangedui hulle het bloot nie die fondse beskikbaar om die tweede, stukkende een te herstel nie, en het die belastingbetalersvereniging toestemming gegee om dit reg te laat maak.
Dit is welbekend dat die munisipaliteit groot finansiële uitdagings het, en Eskom tans meer as R1 miljard skuld.
Uiteraard is die herstelwerk vir die belastingbetalersvereniging se eie rekening. Gibson sê hulle sal na afloop van die werk aan die munisipaliteit ‘n faktuur stuur om inwoners wat finansieël daartoe bygedra het, krediet te gee op hul munisipale rekeninge.
Verder is ‘n splinternuwe gebergde pomp in ‘n stoorkamer gevind. Gibson sê hoewel TCM aangedui het dit is te klein om te gebruik, kan dit aangepas word.
“Die probleem was dat die vorige pomp wat in 2019 geïnstalleer is, bloot gelos is om 24/7 te loop vir twee jaar.”
Hulle beplan om dan die drie pompe weekliks te roteer, sodat gereelde instandhoudingswerk aan hulle gedoen kan word.


×