100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Drie gesoek wat op polisie skiet

Written by on November 8, 2021

Die polisie is op soek na drie verdagtes wat om ongeveer 01:00 vanoggend by ‘n kroeg in Tonga ingebreek het.
Die mans, gewapen met ‘n geweer en handwapens, het op die polisielede wat op die noodroep gereageer het, geskiet. Hulle het teruggevuur.
Brig. Selvy Mohlala sê hulle glo dat ten minste een van die aanvallers gewond is.
Die publiek is gevra om na vore te kom met enige inligting oor die verdagtes.

Die vonnis-oplegging van die mede-eienaar van eBundu is uitgestel tot 1 Februarie.
Sibusiso Tshabalala is in Oktober in die hof vir kommersiële misdade in Nelspruit skuldig bevind op drie klagte van bedrog.
Hy het fakture vervals sodat sy maatskappy, Chuma Investments, betaling ontvang het vir werk wat ouditeurs aan eBundu gelewer het.
Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, Monica Nyuswa, sê die uitstel Vrydag is toegestaan om hom die geleentheid te gee om voor-vonnis verslae te bekom.
Twee renosterstropers is Vrydag tot effektief 16 jaar gevangenisstraf gevonnis in die Skukuza-landdroshof.
Jordan Samuel Mathonsi en Gorge Masango, beide Mosambiekse burgers, het skuldig gepleit op die klagte teen hulle.


Volgens die polisie is hulle in Februarie vanjaar deur veldwagters van Onder Sabie en Krokodilbrug in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vasgetrek. ‘n Derde verdagte kon terug vlug oor die Mosambiek-grens.
Buiten ‘n jaggeweer en ammunisie is twee vars renosterhorings in hul besit gevind. Die horings is later met DNS gekoppel aan ‘n stropingstoneel in die Krokodilbrug-deel van die wildtuin.
Elkeen is 10 jaar tronkstraf opgelê vir die jag van renosters, ses jaar vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen, vyf en twee jaar onderskeidelik vir die besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen en ammunisie, drie jaar vir die onwettige betreding van die NKW en een jaar vir onwettige immigrasie.
Van die vonnise sal gelyktydig uitgedien word.


×