100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-gevalle neig steeds afwaarts

Written by on September 13, 2021

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê Covid-19-infeksies in die land toon tekens van ‘n volgehoue afwaartse neiging. Suid-Afrika het die afgelope 24 uur 3 961 nuwe gevalle aangemeld, wat die totaal sedert die begin van die pandemie op 2 858 195 te staan bring.
Die meeste nuwe gevalle was in KwaZulu-Natal met 28%, gevolg deur die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.
Nog 92 mense is met Covid-19 in die hospitaal opgeneem. Die herstelkoers bly net bokant 90%.
Nog 126 mense is landwyd aan Covid-19-verwante oorsake dood, wat die dodetal nou tot 84 877 laat styg het.
In Mpumalanga is 29 sterftes die afgelope sewe dae aangemeld teenoor 34 die week tevore. ‘n Totaal van 1 892 nuwe gevalle is aangemeld die week, waarvan 144 Sondag.
Daar is tans 2 258 aktiewe gevalle van die virus in die provinsie, minder as die 3 341 verlede week en 4 674 die week voor dit.
Luister hier: https://www.spreaker.com/episode/46496252
Suid-Afrika het teen gister ‘n totaal van 14 690 586 inentings toegedien. Volgens die gesondheidsdepartement was 15 424 daarvan Sondag.
In die laaste 24 uur is 9 316 nuwe mense ten volle ingeënt teen die virus. Dit bring die totaal van mense wat ten volle ingeënt is tot op 7 199 405 te staan.
Die Amerikaanse sentrum van siektebeheer en -voorkoming sê mense wat nie ingeënt is nie se kanse om aan Covid-19 te sterf, is 11 keer groter as diegene wat ten volle ingeënt is.
Die sentrum se jongste navorsing het ook bevind mense wat die entstof ontvang het, is sowat vyf keer minder vatbaar vir infeksie en het ‘n tien keer kleiner kans om in die hospitaal te beland.
Die studie het ook gewys dat die sukses van die entstof daal namate die Delta-variant meer prominent word.


×