100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-19-gevalle nou 53 in Mpumalanga

Written by on May 5, 2020

‘n Aanlyn inligting- en -opvoedingsportaal is vandag deur die Dept. Gesondheid Mpumalanga bekend gestel. Die LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, sê hulle is besorg oor die toename van COVID-19 gevalle in Mpumalanga. Die provinsie het tans 53 positiewe gevalle, waarvan 22 pasiënte herstel het. Nkomazi het tans 19 gevalle – twee meer as gister.

Verskillende mediese kenners gaan weekliks deur video op die departement se Facebook-blad onderwerpe, wat verband hou met die nuwe koronavirus, aanspreek. Die publiek sal hier ook die geleentheid gegun word om vrae te stel. Die sessies het vandag afgeskop met dr. Patrick Maduna wat gesels het oor hoe werkgewers en werknemers hulself en mekaar moet beskerm nou dat meer mense mag werk.

 

 

Die LUR het ook daarop gewys dat geen pasiënt in ‘n kritieke toestand in Mpumalanga is nie en dat baie pasiënte van die virus herstel. Sy beskou dit te wyte aan die departement se deur-tot-deur siftingstoetse en die naspeur van bevestigde pasiënte se kontakte.

Sy het wel haar kommer oor mense uitgespreek wat optree asof daar nie meer inperking is nie. Haar raad is vir die publiek om op voorkoming te fokus: hou jou afstand van ander, was jou hande en dra jou masker oor jou neus en mond. Die mite dat jy tot ander se dood gaan bydra as jy positief getoets is, keer baie mense om die toets te doen.

Sy hoop die portaal help om dit aan te spreek.


×