100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bietjie-Bietjie-Bos beloof sommer baie

Written by on November 10, 2021

Na twee winters van geen Innibos Kunstefees nie, ‘n Laeveldse instelling van om en by 20 jaar, word daar vanaf 1 tot 5 Desember ‘n Bietjie-Bietjie-Bos gehou.
“Uiteindelik!” slaak menige uitgehonger-vir-die-kunste inwoner ‘n sug van verligting. En wat ‘n verligting is dit nie?
Hierdie weergawe van Innibos sal aansienlik kleiner wees as die fees wat gewoonlik tydens die normale Junie-skoolvakansie plaasvind, maar wat reeds die afgelope twee jaar weens Covid-19-inperkingsregulasies nie kon plaasvind nie.
Philna Scholtz, programbestuurder van die fees, sê vanjaar se aanbiedinge bied iets vir almal.
Die drama “Wat as” (met oorspronklike Laevelders Francois Jacobs, Adriaan van As en Simone Pretorius in die rolverdeling) is ‘n opdrag-produksie van Innibos. André Odendaal hanteer die regie.
Dit vertel die verhaal van drie skoolvriende wat jare na ‘n tragedie weer bymekaar kom en wonder…
In ‘n ligte luim ondersoek “Die grapmakers” (met Neels Clasen en Hannes Brümmer) die aard van komedie. Hoekom is iets snaaks? Die gevolg is ‘n oorspronklike komedie. Hoe dan anders, siende dat dit Lizz Meiring se pennevrug is.
Daar is die Donderdag tot Saterdag drie vertonings van beide in die Mbombela Stadsteater. Weens Covid-19-regulasies is kaartjies vir albei die stukke beperk tot 180 per vertoning.
“Groet die grotman 2” (hierdie keer met Phillru van Achterbergh) vind heel gepas plaas in die Sudwala-grotte.
Vir diegene met ‘n sin vir iets meer klassiek, tree Zanta Hofmeyr, die Nocoré Ensemble en die Nelspruit Hoërskool Bel Canto Meisieskoore die Vrydagaand op by Klassiek@Christies.
Plaaslike geure ontbreek elders ook glad nie. “Wyn en snaar” gaan nie net oor wyn nie, maar ook oor plaaslike talente Theresa Prinsloo en Karla Brits, hul twee harpe en ‘n klavier.
Scholtz voeg by dit is belangriker as ooit om kunstenaars te ondersteun.

Op die feesterrein word daar ook tydens die drie aandkonserte iets vir elke smaak gebied.
Adelene Niehaus sê hulle is ook baie opgewonde om vanjaar weer fees te kan hou.
Vrydag is die Kliphard kykNET-konsert, Saterdag die
kykNET Bietjie-Bietjie-konsert met en Sondag die Kersloffees.
“Omdat ons net die aande het, het ons probeer om iets vir almal te gee, van jonk van gees tot tieners tot bietjie ouer mense,” sê Niehaus.
Sy voeg by dat hulle nie vanjaar die saamgestelse Skouspel kan aanbied nie. “Ons het eers ‘n maand gelede besluit om wel fees te hou. Dit was eintlik moeilik om kunstenaars te kry, omdat ‘n klomp reeds lank vooruit bespreek was en nie kon kom nie.”
Kaartjies vir Bietjie-Bietjie-Bos is beskikbaar by Computicket. Besoek Innibos se webtuiste vir die volledige feesprogram.



×